Woestyn & semiwoestyn
WOESTYN & SEMIWOESTYN Dié droë streke lyk dalk sonder lewe, maar baie diere en plante het aangepas om hier te oorleef
VAN die diepste oseane tot die mees uitgestrekte grasvelde, van vleilande en mere tot woude en die droogste woestyne – die aarde het ’n groot verskeidenheid biome. Elkeen het sy eie unieke skoonheid maar ook uitdagings. Elke bioom bevat habitatte, plekke waar spesifieke plante en diere voorkom en bly – dit is daar waar alles is wat hulle nodig het om te oorleef, soos kos, skuiling en maats. Ons leer jou oor die grootste bioom op land – woestyne.
WAT IS ’N WOESTYN?
Daar is min plekke op aarde waar die dag- en nagtemperatuur soveel verskil soos in die woestyn. Met temperature wat bedags tot 50 °C kan styg en snags tot ver onder vriespunt daal, is die woestyn ’n hoogs uitdagende habitat en een van uiterstes. In die woestyn, waar water, kos en skuiling skaars is, moes die diere en plante aanpas om te oorleef. Dele wat minder as 250 ml reën per jaar kry, word as woestyne geklassifiseer. Daar is
vier soorte woestynklimate ter wêreld en elkeen het een ding gemeen: Dit is baie droog.
VIER SOORTE WOESTYNE ■ Die eerste soort is warm en droog.
Die Saharawoestyn in Noord-Afrika is ’n voorbeeld hiervan. Dit is ook die grootste warm woestyn ter wêreld en beslaan ’n oppervlakte van 9 200 000 km².
■ Daar is ook halfwoestyne. Die Kalahari is ’n halfwoestyn en is ’n dorre streek in die noorde van Suid-Afrika wat ook oor groot dele van Botswana en Namibië strek. Halfwoestyne kry gewoonlik minder as 500 ml reën per jaar. Die Noord-Kaap beleef tans een van die ergste droogtes nóg, en dele soos die Boesmanland en Namakwaland se reënval het drasties afgeneem. In sommige dele het dit sewe jaar laas goed gereën.
■ Kuswoestyne kom gewoonlik
aan die westelike deel van vastelande voor soos die Atacamaen Namibwoestyn.
Die Atacama-woestyn is die droogste woestyn ter wêreld met ’n gemiddelde reënval van onder 20 ml per jaar. Sommige dele het eeue laas enige reën gekry.
■ Laastens is daar koue woestyne. Die grootste woestyn ter wêreld word deur ys en sneeu
bedek, maar aangesien dit baie selde daar reën, is die Antarktiese woestyn amptelik die grootste koue woestyn. Die tweede grootste is die Arktiese woestyn – ook een wat deur ys en sneeu bedek is.
PLANTE EN DIERE Woestyne beslaan sowat ’n vyfde van die aarde se oppervlak en kom op
elke vasteland voor.
Hoewel mense verwag dat daar min tot geen lewe in woestyne is nie, is dit nie waar nie. Die woestynlandskap is grootliks klipperig, maar ten spyte hiervan is daar baie plante en diere wat aangepas het om hierdie habitat hul tuiste te noem. Woestyne bied ook ’n tuiste aan sowat 1 miljard mense – dis ’n sesde van die aarde se bevolking. Woestynplante benodig min water om te oorleef. Hulle het aangepas om verdraagsaam te wees teenoor die snikhete son, moet vir lang tye sonder reën kan klaarkom en die vermoë hê om vogverlies te voorkom. Plante moet ook
hoë temperature, droë winde en lae humiditeit kan weerstaan en selfs daarin floreer. Voorbeelde van hierdie plante is grasse, akasias, sekere aalwyne, kaktusse en ander vetplante. Vetplante berg water in hul blare en stingels terwyl sommige ook met stekels hul oppervlak skadu gee om verdamping te verminder. Dit verhinder sommer ook dat diere aan hulle vreet. Sommige woestynstreke, soos Namakwaland, spog ná goeie reën met ’n pragtige plantekombers, hoewel dit gewoonlik van korte duur is weens die woestyngrond wat nie water
kan hou nie. Die plante en diere is by hierdie
siklusse van oorvloed en skaarste aangepas. Daar is ook geen tekort aan diere, voëls en insekte nie en hulle het aangepas by temperatuuruiterstes deur ondergronds te woon en
snags aktief te wees. Woestyndiere voer meestal ’n nagbestaan en kruip uit hul gate sodra dit draagliker is om buite te wees, gewoonlik rondom skemer. Skuiling word sowat 40 cm in die grondoppervlak in gegrawe en bied goeie beskerming teen hitte en
koue aangesien die temperatuur grootliks dieselfde bly. Om onaktief ondergronds te bly is ’n uitstekende manier om liggaamsvog te behou. Diere het merkwaardige maniere om by water te kom en dit te berg. Sommige lê groot afstande af en drink dan genoeg om hulle maande lank te hou. Talle woestyndiere kry ook voldoende vog uit die prooi of plante wat hulle eet, terwyl ander op sade en blare kan oorleef. Sommige woestyndiere se vermoë om te grawe is noodsaaklik vir hul oorlewing. Van Suider-Afrika se bobaasgrawers is die woestynmuis van die Namib en die Kalahari se maanhaarjakkals en ratel. Die Kalahari het talle diere en reptiele soos pofadders, kobras, akkedisse, geitjies en likkewane. Insekte soos bye, skoenlappers en sprinkane het ook woestyne hul tuiste gemaak, asook sekere voëlspesies, wat valke, rawe, arende, jakkalsvoëls, wewervoëltjies en tortelduiwe insluit. Diere soos die Kalaharileeus, bruinhiënas, gemsbokke, springbokke en koedoes asook Kalaharikameelperde, meerkatte, jakkalse, jagluiperd, skilpaaie en ietermagogs leef hier. In Australië word die waterhoudende padda aangetref wat hom twee jaar lank onder die grond kan versteek en in ’n slaaptoestand oorleef. Van die plaaslike inboorlinge het geleer hoe om hierdie padda, waarvan ’n groot deel van sy liggaamsgewig uit water kan bestaan, op te spoor en liggies te druk om van die vars water te kry. Die Australiese woestyn word ook deur langoorbuideldasse (macrotis) bewoon, wat tot 55 cm lank word. Hul reuseore koel hulle in die woestynhitte af.
In Amerika bring die gilamonster sowat 95% van sy tyd ondergronds deur om die hitte vry te spring. Dié akkedis kom in die woestyne van Mexiko en Amerika voor.
Aan die kuswoestynstreke soos die Atacamaen Namibwoestyn is paddas, prêriewolwe, dasse, voëls en reptiele volop, terwyl prêriehase, springmuise, muise, sprinkane, wildsbokke, eekhorings, akkedisse en takbokke aangepas het om in die koue streke soos Antarktika, die Gobi- en die Patagoniese woestyn te floreer. ■