Burre Burger kap terug oor bewerings
Die bewerings dat hy boere geld vra vir geskenkte vrag wil maar net nie gaan lê nie, maar die gesig van Droogtehulp hou vol hy is onskuldig
DIS emosionele tonele wat ’n mens aan die hart ruk. Vragmotorkonvooie van hoop snel na droogtegeteisterde gebiede dwarsoor die land. Die skenkings van veevoer, diesel en kospakkies wat hulle bring, word met trane van blydskap deur landbougemeenskappe in nood ontvang.
Want dalk kan die boer daarmee net daardie klein bietjie langer op die dorre plase vasbyt, tot die reën kom . . .
Al is jy ’n stadsjapie, het jy waarskynlik al roerende beelde van dié liefdeswerk in die sosiale media en op televisie gesien. En deur die jare het een man as’t ware die openbare gesig van droogtehulp geword: Burre Burger, ’n sanger en weldoener oorspronklik van die Weskus.
Op sy webtuiste, Droogtehulp met Burre Burger, word die storie van sy noodkonvooie in syfers vertel: 210 vragmotors met voer versend; sowat 1,9 miljoen liter diesel uitgery om dit te versprei. Altesaam “R210 miljoen se waarde tot landbou gevoeg”, lees jy. En natuurlik emosionele plaasmense se dankbetuigings teenoor Burre.
Maar nou word beweer Burre het sommige desperate boere soms geld gevra vir die geskenkte voer wat sy vragmotors versprei en dat hy uit weldoeners se aalmoese munt geslaan het.
Hy ontken dit ten sterkste. “Ons het nog nooit voer aan enige boer verkoop nie – punt,” sê Burre tydens ’n telefoniese gesprek aan Huisgenoot.
Hy vertel hy het “400 stemboodskappe in net een dag” gekry van boere wat hom steun nadat die Sondagkoerant Rapport
onlangs oor die bewerings teen hom berig het.
Huisgenoot kon bevestig dat Droogtehulp met Burre Burger wetlik by die Kommissie van Maatskappye en Intellektuele Eiendom as ’n maatskappy sonder winsbejag geregistreer is. As sodanig mag hy dus nie wins maak uit die veevoer wat tot sy eie of enigiemand in die organisasie se voordeel strek nie.
Later het ons Burre gevra waarom die finansiële state van sy maatskappy nie beskikbaar is nie. Hy het kort voor ons druktyd nog nie daarop – of op ander e-posnavrae wat hy ingestem het om te beantwoord – gereageer nie. Hy het wel op Facebook gesê die maatskappy is besig om die state te finaliseer.
Sy prokureur, Yan Smit van Lambertsbaai, sê aan Huisgenoot Burre is bloot nie nougeset met administrasie nie. “Sy finansiële state is nie op datum nie; dit erken Burre ruiterlik.”
Burre het glo die afgelope maande sy bes gedoen om dit reg te stel, sê Yan, maar sy rekenaar het glo opgepak, en sy bank het tyd geneem met die verskaffing van duplikaatbankstate wat uit die argiewe gehaal moes word.
“Die state is nou by sy rekenmeester waar dit in Pastel-sigblaaie gelaai word, en dit sal dan na ’n ouditeur gaan,” sê Yan. “Ek kan jou ’n brief gee dat daar nie enige oortredings begaan is nie. Mense moet net wag dat die finansiële state gefinaliseer word en die ouditeure hul mening uitreik.”
Burre sal “silwerskoon” uit hierdie ding kom, sê Yan.
KORT nadat die aantygings oor die beweerde boereverneukery in Rapport openbaar gemaak is, het Burre Huisgenoot in ’n WhatsAppboodskap laat weet dit gaan nie sy wiele laat afval nie. “Ons het verlede week 12 vragte voer na boere gery. Môre laai ons vier vragte. Dinsdag vyf en Vrydag 12 vragte: twee na Pofadder; twee na Kenhardt. Die vyf van Dinsdag gaan na Springbok, die 12 van
Vrydag na die Calvinia-omgewing. Net landbou kan die land bou,” lui sy boodskap.
’n Paar dae later bel Burre Huisgenoot terug ná herhaalde versoeke vir ’n onderhoud. “Nadat ons vragte skenkings afgelaai is, is dit in die hande van die landbou-unie of boerevereniging wat hulle met die voer gaan doen, wat wie kry en of hulle geld gaan vra. Dis uit my hande uit,” sê hy.
Hy wat Burre is, het nog nooit voer verkoop nie, hou hy vol. “In hierdie stadium is ek eerlik met jou. Ek doen wat ek doen vir boere omdat ek omgee vir my land en vir my boere.”
Van die boere met wie Huisgenoot gepraat het, tree in die bres vir Burre.
“As dit nie vir Burre was nie, weet ek nie of ek nou hier sou wees nie. Ek het hierdie hele droogte deur nog net agt sakkies voer van die staat gekry,” vertel Salona Botha uit Carnarvon in die Noord-Kaap.
“Ek was van die eerste boere wat gereageer het op sy blad oor droogtehulp toe hy gevra het wat mense daarvan dink dat hy betrokke raak. Sowat 80% het gemeen hy is van sy kop af. Ek en die res het gesê dis nice. Dit sal so sleg wees as finansies die oorhand kry oor die goeie dinge wat hy doen.”
Die boer Hester Maasdorp, van die Aggeneysdistrik in die Noord-Kaap, is ook vol lof vir Burre. “Hy het vir ons ’n trok met waatlemoene vir die diere kom aflaai. Ek sal lieg as ek sê hy het al enige
‘Ek kan jou ’n brief gee dat daar nie enige oortredings begaan is nie. Burre sal silwerskoon uit hierdie ding kom’
boer geld gevra. Ek weet nie hoekom mense gal braak nie.”
Maar ’n boer van die Klein-Karoo, wat anoniem wil bly, vertel aan Huisgenoot ’n ander storie. Volgens haar het Burre se droogtehulp teen ’n prys gekom.
“Die storie het in 2018 begin toe hy met 10 vragte mielies hier aankom. Elke vragmotor het seker 30 ton op gehad. Toe ons die dag die mielies kry, word daar vir ons gesê dit is R50 per sak. As jy nie betaal het nie, kon jy nie kry nie,” beweer dié boer.
“Ek vra Burre toe in ’n WhatsAppboodskap, hoe werk die besigheid as julle dan sê die diesel en die mielies is geskenk. Ek het niks leliks daarmee bedoel nie; ek wou net weet hoe dit werk.”
Burre se enigste antwoord was na bewering dat hy ‘so moedeloos is, ek pleeg sommer weer selfmoord’, beweer sy. “Toe sê ek vir hom: ‘Weet jy wat, jy is ’n skelm.’ ”
Hugo de Waal, ’n boer van Piketberg en bestuurslid van die plaaslike landbouvereniging, is skepties oor die singende samaritaan. “Ek het nooit direk met Burre sake gedoen nie. Maar ek het altyd ongemaklik gevoel oor hoe hy te werk gegaan het: dat hy geld gevra het om skenkvoer af te laai en nooit kwitansies gegee het nie,” beweer hy.
“Piketberg het nie droogte nie, maar ek het by van die ander ouens gehoor hulle is ongelukkig. Dus het ons besluit om nie by Burre betrokke te raak nie,” sê Hugo.
Een van Burre se kritici, Naudé Pienaar van Agri-Noordwes, erken dat hy ook goeie werk doen. “Maar dis onaanvaarbaar as die voer periodiek verkoop word. Dis onaanvaarbaar as die vrag en vervoer geskenk is en dan word ’n sak mielies teen markverwante pryse verkoop,” sê Naudé oor die bewerings.
As ’n gemeenskapsleier en boer is Naudé al sedert 2013 by droogtehulp betrokke. Hy meen droogtehulp en -verspreiding moet deur georganiseerde landbou in hul betrokke distrikte bedryf word en nie deur buiteorganisasies nie.
“Bewerings oor ongerymdhede maak droogtehulp baie seer en veroorsaak dat mense nie meer wil skenk nie.”
IN DIE droogtegeteisterde NoordKaap lyk dinge baie sleg, vertel Sybil Visagie, stigter van Save the Sheep op Sutherland. Boere is finansieel op hul knieë. En daarom is sy bang die bewerings dat Burre geld maak uit skenkvoer die skenkerskraan sal laat opdroog. Veral in hierdie moeilike finansiële tyd tydens die inperking. “Ons skaap moet elke dag kos kry. Ons is dus ongelooflik afhanklik van skenkings. Burre is eintlik die gesig van droogtehulp.”
Sy het nie insae in sy finansies nie en kan nie daaroor kommentaar lewer nie. “Ek is net betrokke by Burre wanneer iemand kla. Ek het hom al gebel en gevra dat ons dringend moet praat oor bewerings. ’n Boer is kwaad omdat een groep op die dorp glo gehelp word en ’n ander groep nie. Maar daardie boere wil nie kommentaar lewer nie, want hulle is bang hulle kry nie weer skenkings nie.”
Burre het nooit na haar toe teruggekom oor die bewerings nie, beweer Sybil. “Ek weet nie hoe Burre kies vir wie om te gee nie. Ons het ’n struktuur op elke dorp wat almal verteenwoordig: die boerevereniging, die nielede, die opkomende boere en die droogtestrukture van elke liewe dorp waar ons help.
“Daar is ’n voorsitter en ’n komitee en ’n dagbestuur. Hulle is baie georganiseerd,” vertel Sybil.
“My versoek aan Burre, al omtrent ’n jaar gelede, is dat wanneer jy op ’n dorp kom jy kontak maak met die groep wat droogtebestuur doen. Dan weet jy wat op die dorp aangaan. Ek lees toe dat hy dit onlangs wel gedoen het. Wat noodsaaklik is, is dat enige droogteorganisasie sy boeke moet oopgooi: ‘Hier is wat ek doen. Hier is die syfers.’ Dis jou veilige bet.”
Sybil het Huisgenoot aangeraai om met Save the Sheep se rekenmeester, Derick
Hanekom, te gesels. Hy is ook ’n skaapboer van Sutherland.
“Save the Sheep is nie ’n once-off-bedryf nie. Ons is vier boere van die omgewing wat al amper drie jaar lank ons medeboere help. Ons het onlangs besluit ons gaan glad nie meer by enige voeruitdelings betrokke raak nie,” sê Derick.
Daar is 126 boere wat lede is van Save the Sheep in die Sutherland-omstreke. Skenkersgeld word in ’n fonds inbetaal, en daaruit word voer en diesel aangekoop om aan almal te verskaf gegrond op hul veegetalle.
Sedert Februarie kry elke boer in die distrik elke sewe dae een bakkievrag voer, verduidelik Derick.
Alle fakture en ander korrespondensie word per WhatsApp gestuur aan almal wat skenkings gemaak het.
Uit hul fonds help Save the Sheep ook plaasgemeenskappe in nood elders in die land. Hulle het byvoorbeeld 500 komberse geskenk ná die onlangse Kaapse vloede.
Nog ’n man wat meen dat die verspreiding van droogtehulp aan die georganiseerde landbou oorgelaat moet word, is Ian Roelofse, ’n veeboer van Olifantshoek in die Noord-Kaap. “Ek wil nie deure toemaak vir toekomstige hulp nie, maar daar was al te veel beloftes deur Burre wat nooit vervul is nie,” sê Ian.
“Dit was in die tyd toe ek dit die nodigste gehad het,” voeg hy by. “Daar is nou byna niks op my plaas oor nie. Van die 600 skaap is net 200 oor; van 134 koeie net 28. Ons het 3 ton bene van dooie diere opgetel.”
Ian sê hy het Burre gebel en op WhatsApp gekontak om skenkvoer te kry, maar het nooit enige reaksie gekry nie. “Ek het gehoor Burre se trokke het al hier op die teerpad verby die plaas gery. Hoekom het ek niks gekry nie? As ek vroegtydig deur Burre-hulle gehelp is, sou ek nie soveel skade gehad het nie.”
Hierop sê Burre aan Huisgenoot: “Ek het nou net op WhatsApp met die dame op Olifantshoek gesels. Ek ken nie eens die Ian Roelofse nie. Maar volgens haar, as hulle voer kry, gee hulle gratis vir hom ook. Hy het dus twee vragte voer van my gekry. Gratis. Mahala.”
Dis vir hom baie hartseer dat hierdie storm nou om sy kop woed, vertel Burre.
“Ek wil net help. Dis al.”
BAIE mense ken Burre danksy die liedjies wat hy graag sing. Hy is nie ’n musikant nie, vertel hy altyd. Net iemand wat lig in ander se lewens wil bring deur sy liefde vir musiek te deel. Hy het juis onlangs tydens die inperking liedjies van hoop op YouTube gesing.
Maar dis toe hy Droogtehulp in 2017 gestig het dat hy werklik bekend geword het. En hy het dié reusetaak aangepak as deel van sy eie genesingsreis nadat hy in 2016 sy eie lewe probeer neem het, het die jong sakeman oorspronklik van Vredendal vroeër aan Huisgenoot vertel. Hy en sy gesin het intussen Kaapstad toe getrek.
Hy was glo in dié stadium erg depressief oor die lyding van diere weens droogte wat hy moes aanskou. “Ek het 15 sterk slaappille gesluk, in my kar geklim en op pad dorp toe net weggeraak. Ek’s deur ’n paar telefoonpale en het teen rotse tot stilstand gekom, en ek het eers later in die hospitaal wakker geword.”
Sy lyf was seerder as wat dit ooit in sy jonger dae as rugbyspeler was, maar hy is wonderbaarlik nie ernstig beseer nie. Sy vrou, Bianka, het hom aangemoedig om iets betekenisvols met sy tweede kans in die lewe te doen.
Enkele maande daarna het hy besef hoe hy kan help. Hy was op sy skoonfamilie se plaas in die Calvinia-omgewing waar talle boere al weens droogte hul plase verloor het. “Ek het ’n paar wolke sien aankom en gesê: ‘Die Here skilder darem vanaand mooi in die lug.’ Waarop my swaer se broer, Albert Nel, laat hoor het: ‘As Hy maar net ’n slag op die grond ook wil skilder.’ Daardie nag kon ek nie slaap nie.”
Hy het dit beskou as ’n teken dat hy boere in droogtenood moes help. En toe hy kort daarna op Faceboek oor die krisis op Calvinia skryf, kry hy ’n onverwagte reaksie van die sanger Adam Tas en Meyer le Roux, een van die skeppers van die Buffelsfontein-baardoliemaatskappy.
“Adam bel my en sê hy en Meyer wil ’n bietjie mielies Calvinia toe aanry. Ek sê dis reg; ek sal reël dat die ouetehuis en koshuis minstens ook weer water het, want in daardie stadium was die Kareedam, wat die dorp bedien, dolleeg. En so laai ons toe die volgende dag 34 000 liter water op Calvinia af.”
Die water is deur Cederberg Aqua op Citrusdal geborg, en Burre het ’n vriend se vragmotor gebruik. En so het Droogtehulp se wiele aan die rol gekom.
Ondanks die storm rondom die bewerings teen hom is hy nie van plan om nou die rem te trap nie.
Sy konvooie van hoop sal aanhou om die land te deurkruis, sê hy, al kritiseer party mense hom nou. Want al wat hy wil doen, hou hy vol, is om ander te help. ■
‘Wat noodsaaklik is, is dat enige droogteorganisasie sy boeke oopgooi’