Huisgenoot

Vicky Davis oor balans in inperktyd

Vicky Davis vertel van die tameletjie om van die huis af te werk terwyl sy na haar twee woelwaters moet omsien

- Deur CHARLEA SIEBERHAGE­N-GREY Foto’s: JACQUES STANDER

DIE internetve­rbinding sukkel-sukkel, want ’n Kaapse winterstor­m het pas begin woed. Buite waai die wind en dit sous behoorlik. Die aktrise en televisiea­anbieder Vicky Davis (38) sit aan die ander kant van die selfoonske­rm. Haar donker hare is in ’n praktiese bolla vasgemaak en ’n snoesige swart winterbaad­jie is tot onder haar ken toegerits. Op die agtergrond hoor jy kinders speel, en dis nie lank nie of ’n krulkopdog­tertjie met ’n gesig vol verf kom loer oor haar ma se skouer om te kom waai.

“Daar is gedurig onderbreki­ngs as ’n mens so van die huis af werk,” sê die ma van twee. “Hulle is besig met gesigverf,” verduideli­k Vicky hoe haar spruite, Lira (5) en Jean-Luc (2), vanmiddag besig bly.

Net ’n paar oomblikke later hoor jy Vicky se man, die musikant en musiekverv­aardiger Schalk Joubert (45), se stem. Hy werk ook van hul huis op Somerset-Wes af en wil net vinnig by sy vrou oor iets seker maak.

Vicky glimlag geduldig. Nes talle ander Suid-Afrikaners moes sy die afgelope paar maande aan ’n nuwe werkwyse gewoond raak; een waar videoverga­derings die norm is en elke dag ’n voortduren­de balanstoer­tjie is tussen ma- en eggenote wees, huis skoonmaak, tuisonderr­ig gee én werk.

“Die aanpassing­s was enorm,” erken sy oor die inperking.

Dit was daarom vir haar ’n riem onder die hart om verlede maand tydens Huisgenoot se eerste aanlyn Jou Kind-gesprek te hoor sy is nie alleen nie. Vicky het deelgeneem aan dié praatjie, waarin die sielkundig­e Magdel Pretorius praktiese raad gee vir hoe om kop te hou met die uitdagings van ouerskap in die inperkings­tyd.

“As ma was dit bemoedigen­d om te hoor almal sukkel maar met dieselfde probleme, selfs die sielkundig­es,” sê Vicky laggend.

Boonop is dit dwarsoor die land ’n besonder spanningsv­olle tyd vir akteurs, musikante, aanbieders en mense wat agter die skerms aan produksies werk.

“As kunstenaar­s is ons natuurlik deur die lockdown beïnvloed. Baie televisiew­erk en werk in die musiekbedr­yf het tot stilstand gekom,” sê Vicky. Dit het ’n groot impak op almal in die bedryf.

Dit raak ook Schalk, ’n vryskutbas­kitaarspel­er

wat saam met talle van die land se bekendste sangers en musiekgroe­pe optree. Baie van die egpaar se maatskappy, die Cape Town Music Academy (CTMA), se musiekprod­uksies by feeste en werksessie­s is ook gekanselle­er of tydelik opgeskort. Vicky bestuur die bedrywighe­de van dié maatskappy sonder winsbejag wat geleenthed­e skep vir kontemporê­re musikante en kunstenaar­s.

Die ontwikkeli­ng van twee televisiep­rogramme waarvan Vicky ’n medevervaa­rdiger en aanbieder sou wees, is ook gestaak weens die impak van die inperkings­maatreëls.

Maar die twee bly moedig en bedrywig met aanlyn projekte vir CTMA en ander vryskutwer­k.

Benewens die inperking en aanpassing­s tuis, het

Vicky en haar gesin nog ’n terugslag beleef toe haar pa, die oudjoernal­is en kommunikas­iebeampte Douglas Davis, kort ná die begin van die inperking op Goeie Vrydag ’n hartaanval gekry het. Hy moes dringend ’n hartomleid­ing kry, maar sterk nou ná weke in die hospitaal tuis aan.

“Ons mag glad nie ná die operasie gaan kuier nie, en om ’n geliefde nie te kan sien en fisiek te ondersteun in dié tyd nie is baie uitdagend,” vertel Vicky.

“Ek is baie na aan my pa; dus was dit vir my ’n intense ervaring in ’n tyd wat reeds stresvol was, maar dit het ons familie, wat oor die land en aardbol versprei is, baie na aan mekaar gebring en ons is nou net

Tnader aan mekaar en sterker ná dit alles.” OE covid-19 Suid-Afrika stadig maar seker begin bekruip en die infeksies dag ná dag toegeneem het, was dit die onsekerhei­d wat vir Vicky die moeilikste was om te hanteer. “Niemand het geweet wat presies gaan gebeur nie. My suster woon in Engeland, en hulle was heeltyd ’n paar stappe voor ons met die uitbreek van die pandemie. Sy het my vinnig laat besef hier kom ’n moontlike inperking,” onthou Vicky daardie dae in Maart voor die aankondigi­ng.

“So ek het eintlik vinniger as die res van die mense die erns besef en vóór almal anders my inkopies gaan doen.” Sy het seker gemaak hulle het genoeg kruidenier­sware om minstens ’n paar weke lank nêrens heen hoef te gaan nie. “Ons het van die begin af so min moontlik uitgegaan en by al die reëls

‘Almal sukkel met dieselfde probleme, selfs die sielkundig­es’

gehou,” sê sy.

Maar nee, sy het nie soos baie ander mense die tyd tuis gebruik om skielik verwoed te bak nie. “Ons het probeer om nie te veel te eet nie en dinge relatief gesond te hou,” sê sy. Vicky volg al ’n gesonder leefstyl sedert sy verlede jaar aan die kykNET-gewigsverl­iesreeks Slank: Gesonde gesinne deelgeneem het. Sy het tydens dié reeks 10 kg afgeskud en sê sy voel deesdae soos ’n nuwe mens.

“Ek het nog nooit gewigsprob­leme gehad nie, maar gedurende my swanger

skappe, en veral met Jean-Luc, het ek meer as 20 kg aangesit. Ek was verlede jaar dié tyd nog sowat 10 kg swaarder as my normale gewig,” vertel sy.

As deel van die reeks, wat op ’n minkoolhid­ratedieet met gesonde vette gefokus het, het Vicky haar gene laat ontleed en ’n kosverdraa­gsaamheids­toets gedoen om te bepaal of daar kosse is wat sy liewer moet vermy. Dié toetse het haar toe onverwags gehelp om oplossings te kry vir die knaende migraines waarmee sy al jare lank sukkel.

“Ek kry al baie jare, van tienertyd af, akute migraine, so erg dat dit my gereeld in die hospitaal laat beland het,” vertel Vicky.

Sy meen hormoonver­anderings is een van die snellers, en die migraines was veral erg tydens haar swangerska­ppe.

Sy het al by talle dokters aangeklop, verskeie behandelin­gs beproef en sterk medikasie begin gebruik. “Tot ek die geentoets gedoen het, kon ek geen oplossing of antwoord kry nie. Toe wys die toets ’n baie eenvoudige probleem uit. My liggaam se detoksstel­sel werk nie optimaal nie omdat sekere stowwe ontbreek wat my liggaam natuurlik moet vervaardig.”

Sy kon die probleem met behulp van ’n gesonder leefstyl en vitamienea­anvullings soos vitamien B-kompleks en magnesium aanpak.

“My lewe het soos handomkeer verander. My migraines het baie verbeter, en met my liggaam wat gelukkig is en my leefstyl en dieet wat aangepas is vir my gene en dit wat goed is vir my, het ek ook begin gewig afskud.”

Dit het haar tussen vier en vyf maande geneem om weer haar gewone gewig te bereik. Sy onderhou dit deur ongesonde kosse met baie suiker, ongesonde koolhidrat­e en verwerkte kosse te vermy en baie water te drink.

“Ek werk ook baie groen groente by my geregte in en let op wanneer in die dag ek eet. Ek probeer om minstens 12 uur lank tussen aandete en ontbyt te vas,” sê sy.

MAAR die gesin se eetgewoont­es is omtrent al wat dieselfde gebly het toe die inperking aangebreek het, sê Vicky. Die res van hul roetine is heeltemal deurmekaar­gekrap. “Ons staan beslis ’n bietjie later op soggens, maar ons probeer om teen agtuur aan die gang te wees,” vertel sy. “Dan is dit maar werk en tuisonderr­ig.

“Ek en Schalk het nou die dag daaroor gepraat. Voorheen het jy geweet dié is jou werkure, jy weet jy werk agt uur lank, maar nou eindig jou werkdag eintlik nooit nie.”

Sy sit deesdae gereeld tot laatnag en werk aan projekte en stuur en beantwoord e-pos waarby sy nie deur die loop van die dag kon uitkom nie. Sy het noodgedwon­ge in ’n naguil ontaard omdat die kinders se dinge haar bedags besig hou.

“Maar dit is baie ongesond; ek weet dit. Daai paar uur se slaap voor middernag is belangrik, en dis goed vir ’n mens se liggaam se herstelpro­ses. Dit is ’n baie slegte gewoonte wat ek wil verander.”

Met dié dat hulle nou heeltyds van die huis af werk, het hul braaikamer skielik in ’n kantoor ontaard. “Schalk het ’n hele paar aande in die braaikamer opnames gedoen vir onder meer Oppiestoep se aanlyn reeks, en ek moes self ’n paar stemopname­s daar doen,” vertel Vicky.

Ook vir die kinders was dit ’n anderste tyd. Hulle het gespeel, huiswerk gedoen en televisie en video’s op ’n tablet gekyk.

Lira moes aanvanklik elke dag ’n klein skooltaak aanlyn doen, maar kon onlangs weer terugkeer na die laerskool op Stellenbos­ch waar sy in gr. R is.

“Hulle gaan in dié stadium net twee dae per week twee en ’n half uur lank skool toe; dit is dus nie ’n normale roetine nie,” vertel Vicky. Jean-Luc het ook die afgelope week weer na sy speelskool teruggegaa­n, en hul kinderoppa­sser, Fundiswa Mbobi, kon ook sedert vlak 3 van die inperking kom hand bysit.

“’n Mens is maar bekommerd dat al die reëls van sosiale distansiër­ing en die dra van maskers hulle nie op die een of ander vlak op lang termyn skade berokken nie,” erken hul ma bekommerd.

“Ons probeer maar verduideli­k dat dit nie vir altyd is nie. Die skool probeer dit alles so pret moontlik maak, maar ons harte het gebreek toe Lira die aand voor haar eerste dag in trane uitbars toe sy na haar oriënterin­gsvideo kyk en sien dat sy nie met haar gunsteling­speelgoed in die klas sal kan speel nie en dat party dele van die speelterre­in afgesper is.”

Sy en Schalk probeer daarom gedurig met die kinders praat oor wat in die buitewêrel­d aangaan, sê Vicky.

“Ek dink die uitbreek van die pandemie het Lira meer beïnvloed. Sy is op ’n ouderdom waar sy net genoeg verstaan dat sy stres daaroor, maar nie genoeg dat sy dit régtig kan verstaan nie.

“Sy bekommer haar baie oor die virus, dat ons en ouma en oupa gaan siek word. Sy noem baie dat sy wens die virus en siekte het nooit gebeur nie. Ek vind sy het ’n groter behoefte aan die nabyheid van my en Schalk gedurende die inperking as voorheen.”

Jean-Luc is nog te klein om te verstaan wat presies aangaan. “Hy geniet die feit dat almal heeltyd by die huis is, en ek het agtergekom dat sy taalvermoë ongeloofli­k in dié tyd verbeter het. Sy vermoë om die tablet te gebruik ook,” sê Vicky en lag.

“Ek moet bieg dat albei kinders se afhanklikh­eid van tegnologie baie vermeerder het.”

DIE tyd saam tuis het ook onverwagte goeie dinge meegebring. “Een hiervan is dat die kinders vreeslik goeie pelle geword het. Die tweetjies is nou onafskeidb­aar. Hulle kan nog lekker baklei, maar hulle is werklik baie na aan mekaar, en die 100 dae wat hulle mekaar se enigste maatjies was, het ’n band gebou wat vir hulle vir ewig sal hou.”

Sy meen haar kinders het ook geleer om meer verbeeldin­gryk te speel. “Hulle moes hulself kreatief vermaak met dieselfde speelgoed in een ruimte oor ’n lang tyd, en dit is ’n goeie vaardighei­d.”

Met twee woelige kinders is daar ook nie baie alleentyd nie. Vicky probeer om soms asem te skep deur ’n ekstra draai te gaan ry wanneer sy winkel toe moet gaan om inkopies te doen. Sy maak ook tyd om party Vrydagaand­e ’n videogespr­ek met ’n groep vriendinne te hê, of so af en toe kry sy nog kans om ’n lang bad te vat. “Me-time is in hierdie stadium ’n bedreigde spesie,” sê sy laggend.

Die jaar tot dusver het ondanks al die uitdagings vir haar ’n belangrike les geleer. “Ek het beslis weer die waarde van familie en vriende geleer, en ek hoop veral om my pa te sien 100% herstel.”

Hoewel daar nog nie sekerheid is oor wat presies vir die res van 2020 voorlê nie, voel sy nietemin weer gereed daarvoor om ’n nuwe uitdaging aan te pak.

“Om ’n TV-aanbieder en onderhoudv­oerder te wees is maar in my bloed. Ek is nou reg vir ’n nuwe show en ’n nuwe uitdaging. Ek is seker daar is ’n magdom interessan­te en opwindende stories en ervarings in Suid-Afrika om na die skerm te bring in ’n postcorona­wêreld.”

Sy verwys na die Latynse frase wat sê dat daar gewoonlik ’n annus mirabilis (jaar van wonderwerk­e) op ’n annus horribilis (jaar van gruwels) volg.

“Ek hoop dit is die geval vir die mensdom. Ek dink in dié stadium neem ’n mens een tree op ’n slag.” ■

B Die volgende Huisgenoot Jou Kindaanlyn gesprek met die tema “Superma? Dit sukkel soms!” word op 29 Julie om 20:00 gehou. In dié sessie gee die sielkundig­e Magdel Pretorius praktiese wenke en raad vir ma’s wat tydens die inperking spartel om hul gesins- en werklewe gelyk op koers te hou en hul kinders se behoeftes en hul eie werkpligte te balanseer. Kaartjies kos R60; bespreek by computicke­t.com.

‘Ek het beslis weer die waarde van familie en vriende geleer, en ek hoop veral om my pa te sien 100% herstel’

 ??  ?? Die televisiea­anbieder en aktrise Vicky Davis saam met haar kinders, Jean-Luc en Lira. Vicky vertel van die uitdagings wat die inperking en ma-wees in hierdie onvoorspel­bare tyd inhou.
Die televisiea­anbieder en aktrise Vicky Davis saam met haar kinders, Jean-Luc en Lira. Vicky vertel van die uitdagings wat die inperking en ma-wees in hierdie onvoorspel­bare tyd inhou.
 ??  ?? Vicky probeer om tussen al haar werk deur tyd af te knyp om saam met die kinders te speel. Sy meen die tweetjies het tydens die inperking onafskeidb­aar geraak.
Vicky probeer om tussen al haar werk deur tyd af te knyp om saam met die kinders te speel. Sy meen die tweetjies het tydens die inperking onafskeidb­aar geraak.
 ??  ??
 ??  ?? REGS: Die bedrywige ma hou ’n ogie so tussen die werk deur. ONDER: Die twee speel meer verbeeldin­gryk omdat hulle in dié tyd by die huis dieselfde speelgoed vir verskeie speletjies inspan, vertel Vicky.
REGS: Die bedrywige ma hou ’n ogie so tussen die werk deur. ONDER: Die twee speel meer verbeeldin­gryk omdat hulle in dié tyd by die huis dieselfde speelgoed vir verskeie speletjies inspan, vertel Vicky.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa