Vrou in coronastryd verloor haar baba
Hy is gebroke nadat sy vrou in haar covid-19-stryd hul baba verloor het – en sy weet van niks . . .
‘Dit voel of iemand my ribbes oopgekraak en my hart uitgeruk het. En ons moet vir Marzanne sê alles is fine’
SY SWANGER vrou was veronderstel om ’n laerisikogeval vir covid-19 te wees: Sy is jonger as 30 en sonder onderliggende gesondheidsprobleme. En hy was veronderstel om binnekort pa te word. Hul eersteling was op pad, en in die lente ná hierdie lang, bitter winter sou hulle eindelik ouers word.
Maar in ’n koue hospitaalsaal in Pretoria lê Marzanne Lennox (29) nou in isolasie – en die hartjie wat 30 weke lank binne haar geklop het, het stil geword.
Sy is stoksielalleen, met net dokters en verpleegsters wat gereeld kom kyk of die ventilator wat haar aan die lewe hou steeds sy werk doen. Sy is onder verdowing, en van al die dinge wat om haar gebeur, weet sy nog min.
Haar man, Thomas (30), is alleen by hul huis in Midrand in isolasie en mag nie eens oudergewoonte ’n soen op haar voorkop plak om haar gerus te stel nie.
Tog veg Marzanne voort teen covid-19, onwetend dat die gesondheidstryd reeds hul ongebore seuntjie se lewe geneem het, vertel Thomas verslae.
Hul huis staan vol babagoed, soos die Iron Man-beer wat die opgewonde swanger ouers onlangs self gemaak het. In die leë wit kot in die babakamer wag dit nou vergeefs saam met ander teddiebere op die nuwe aankomeling.
Dis vir hom onmoontlik om van sy werklikheid weg te kruip, sê Thomas tydens ’n video-onderhoud aan Huisgenoot.
“Ek weet nie hoe om dit anders te verduidelik as hartgebroke nie. Ek voel gebroke en leeg. En waar ek kyk, sien ek babadinge.”
Thomas is ’n tegniese tekenaar van beroep, maar het in die eerste maand van die inperking sy werk by ’n IT-maatskappy verloor. Hy moes harde klippe kou nog voor sy vrou ernstig siek geword het met covid-19, maar nou sal hy sy eggenote moet troos wanneer sy gesond word en sonder hul baba huis toe terugkeer.
DIS net sinusitis, het die egpaar aanvanklik aangeneem toe Marzanne in Junie siek geword het. Sy het hoofpyn gehad, maar geen koors nie. “In die byna 11 jaar dat ek en Marzanne mekaar ken, kan ek op een hand tel hoeveel keer sy al dokter toe of siek was. Ek is die een wat gewoonlik siek word,” vertel Thomas.
“Ek het haar nog oortuig om dokter toe te gaan bloot omdat sy swanger is . . . was,” sê hy, en sy stem raak skor.
Die dokter het ’n antibiotikum voorgeskryf wat veilig tydens swangerskap is en haar verseker haar baba is piekfyn. Omdat sy nie covid-19-simptome getoon het nie, is sy nie vir die virus getoets nie.
’n Paar dae later het Marzanne slegter begin voel. “Sy het nie regtig gesukkel om asem te haal nie, maar sy het nogtans ’n nebuliseerder gebruik. Ek het nie gedink dis covid nie,” onthou Thomas.
“Sy was baie lam en moeg. Toe sy drie of vier dae later blou om haar mond word toe sy in die bed regop sit en ’n bietjie hakkel toe sy praat, het ek geweet daar is fout. Toe vat ek haar weer dokter toe.”
Die dokter het Marzanne dadelik verwys na die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria, waar sy op 30 Junie opgeneem is. Thomas vertel die suurstoftelling in haar bloed was so laag dat dokters verbaas was sy is nog by haar bewussyn.
“Die laaste ding wat sy vir my gesê het, is ek moenie bekommerd wees nie; alles sal orraait wees. En toe vat hulle haar weg en sit haar op ’n ventilator,” sê Thomas.
Die eerste paar dae het dokters gespook om Marzanne aan die lewe te hou.
“Ek was baie bekommerd oor haar, maar ek het gedink die baba sal oukei wees. Daar was twee spanne dokters. Een wat na haar en ’n ander wat na die baba omgesien het.”
En toe, op 2 Julie, kom die oproep wat Thomas se hart gebreek het: “Die dokter het net gesê daar is geen hartklop nie.”
Hul ongebore baba het vinnig verswak, maar ’n noodkeisersnee sou Marzanne se lewe in gevaar stel, verduidelik haar pa, Skip Scheepers, ’n sakeman van Pretoria. ’n Noodoperasie sou moontlik lewensgevaarlike bloedverlies vir haar beteken het, sê hy.
“Covid-pasiënte is op bloedverdunners, so hulle kon nie . . .” vertel Thomas. Maar dan volg ’n lang stilte.
“Sy weet nog nie van die baba nie,” voeg hy dan eindelik by.
“Sy het ’n paar dae gelede wakker geword en toe vir ’n verpleegster op ’n papier geskryf: ‘Baba?’ en toe het die verpleegster gesê alles is fine.
“Dit voel of iemand my ribbes oopgekraak en my hart uitgeruk het. En ons moet vir Marzanne sê alles is fine, want sy veg nou om haar lewe. As sy gesonder word, sal ’n dokter waarskynlik vir haar sê.”
Dis uitmergelend om alleen in die huis te wees met al die babadingetjies rondom hom, vertel hy. Hy het self nog geen simptome van die siekte ontwikkel nie, maar dit het sy lewe uitmekaargeruk.
“Daar is nêrens om weg te kruip nie. Ek sit alleen met my hartseer en gedagtes. Ons het die wit kot aanmekaargesit en die kamer wit en blou geverf. Alles staan reg. Marzanne is ’n klereontwerper, en sy het reeds materiaal gekoop om babaklere mee te maak.”
Hy sukkel om na die baba te verwys, maar sê hulle het reeds ’n naam vir die klein seuntjie gekies. “Ek wil dit graag privaat hou. Dit voel of dit al is wat ek oorhet, en ek wil dit vir myself hou.”
THOMAS en Marzanne het mekaar ontmoet toe hulle 19 jaar oud was en albei as kelners gewerk het. “Sy is die soort mens wat altyd almal om haar help en laat beter voel. Sy is stil en rustig. Ek is eintlik die prater.” Maar nou is al daardie woorde weg. “Ek voel . . . gebroke. Ek glo Marzanne is een van die hoofredes hoekom ek op hierdie aarde is en ewe skielik is my ander helfte nou weg, en ek kan niks daaromtrent doen nie.
“Ek vat dit dag vir dag. Wat anders kan ek doen?”
Hy sug as jy hom vra waar sy vrou die virussiekte moontlik opgedoen het. “Jy sal jouself mal maak as jy dit probeer uitpluis. Ons weet nie. Ons ken niemand wat die siekte het nie en sy was altyd versigtig. Sy het haar masker oral gedra en altyd handreiniger byderhand gehad. Sy het al die nodige voorsorgmaatreëls getref. Sy was regtig baie versigtig.”
Maar hy wil nie hê mense moet hom of Marzanne jammer kry nie. “Ek wil net hê mense moet dié ding ernstig opneem. Ek wil hê hulle moet bewus wees van die gevare, want enigeen kan dit opdoen. Maar ek weet ook ek moet hieroor, oor die baba, begin praat . . .”
Hy vee oor sy gesig en gee ’n moedige glimlag.
“Marzanne moet nou net veg. Ek het haar baie nodiger as wat sy my nodig het. Sy is die rede waarom ek elke dag opstaan. Veral in dié tyd. Ek wil eintlik net wegkruip en in my bed bly, maar dan staan ek op en ek praat met my skoonouers en my ma en probeer aangaan.”
Hy kyk weer in die kamera in. “Ek doen dié; ek praat sodat mense gewaarsku is. Dié is nie griep nie. Dra jou masker. Vra jouself af: Is daai braai regtig die moeite werd?
“En bid – vir jouself en jou geliefdes, maar bid asseblief ook vir Marzanne.” ■ B
‘Uptat. Giam exceriatem faccus evenis si con nis ditem rem’