Die werklikheid van ventilators
Vir sommige ernstig siek covid-19-pasiënte is ’n ventilator hul beste kans op oorlewing. Hier is die werklikheid van intubasie
NOG nooit tevore is ventilators so druk bespreek nie. Hoeveel is in die land beskikbaar? Het ons hospitale genoeg vir almal wat een sal nodig kry? Is dit al antwoord wanneer die asemnood druk, of is dit ’n laaste uitweg? Want wanneer ’n pasiënt nie op sy eie kan asemhaal nie, word dié masjien vereis – en tydens die coronaviruspandemie is die vraag daarna groter as ooit.
Maar presies hoe werk ’n ventilator, en wat behels die proses wanneer dit ingespan word?
Huisgenoot het by mediese kenners gaan aanklop om uit te vind wanneer dié alternatief vir asemhaling benodig word en hoe dit werk.
So werk ’n ventilator
’n Ventilator is ’n masjien wat vir jou asemhaal wanneer jy dit nie self kan doen nie, sê dr. Vidya Lalloo, noodmasjienspesialis by die Steve Biko- Akademiese Hospitaal in Pretoria.
“Dit gee jou longe asem deur ’n pypstelsel wat ’n ventilatorkring genoem word. Dit is aan ’n buis geheg wat ’n endotrageale buis genoem word. Dit is dié buis wat deur jou mond in jou tragea (of lugpyp) ingesit moet word,” verduidelik sy.
Die insit van die buis, wat intubasie genoem word, verg spesiale vaardighede, en dokters word opgelei om dit te kan doen.
’n Span van drie mense – ’n dokter en twee verpleegsters om te help – behartig gewoonlik die prosedure, en dit duur 30 tot 40 minute.
Voor intubasie verbind die span al die nodige monitors en gee hulle die pasiënt deur ’n gesigmasker suurstof om te verseker suurstofvlakke is so hoog moontlik, verduidelik Vidya. Dit sorg daarvoor dat die pasiënt tydens die proses so stabiel moontlik bly.
Die pasiënt word dan vir die intubasieprosedure onder verdowing geplaas. ’n Laringoskoop – ’n instrument met ’n handvatsel en ’n plat lem met ’n gloeilamp aan die punt daarvan – word deur die pasiënt se mond ingesteek.
“Dit verplaas die tong en maak dit moontlik om die stembande te sien,” sê Vidya. “’n Endotrageale buis word dan tot tussen 21 en 23 cm diep by die pasient se tragea ingesteek.”
’n Mens kry verskillende groottes endotrageale buise vir babas, kinders en volwassenes. By volwassenes word ’n buis met ’n deursnee van 7,5 tot 8 mm gewoonlik vir mans gebruik en een met ’n deursnee van 7 tot 7,5 mm vir vroue.
“Die endotrageale buis het ’n omslag wat dan opgeblaas word sodat dit die lugweg verseël,” sê Vidya. “Dit sorg dat minder lug tydens meganiese ventilasie rondom die buis kan uitlek.
“Die buis word dan met pleister soos Elastoplast aan die pasiënt se gesig vasgeplak om te keer dat dit skuif. ’n Ander buis, wat ’n naso- of orogastriese buis genoem word, word dan deur die neus of mond tot in die maag geplaas.”
Dié buis word gebruik om lug en afskeidings uit die maag te verwyder en later om die pasiënt kos te gee omdat hy nie ná intubasie kan eet nie.
Wanneer ’n pasiënt eers aan ’n ventilator gekoppel is, neem die masjien die taak van asemhaling oor deur lug by die longe in en uit te dwing.
Wat gebeur daarna?
Intubasie is nie kinderspeletjies vir ’n pasiënt nie; daarom moet hulle verdoof en verlam word voor die proses plaasvind.
Die pasiënt bly deurgaans onder verdowing terwyl die ventilator benodig en gebruik word.
Dr. Bilal Abdool-Gafoor, ’n internis en longspesialis aan die Melomed- privaat hospitaal in Kaapstad, sê pasiënte bly onder verdowing om te keer dat hulle braakbewegings maak, hoes of teen die ventilator probeer asemhaal.
Die punt daarvan om ’n pasiënt te ventileer is om die longe teen nog beserings te beskerm, sê hy. As die pasiënt teen die ventilator baklei, kan dit nie dié doel dien nie.
Pasiënte word ook verdoof om hul liggaam ’n blaaskans te gee, sê Vidya.
“Onthou dat die pasiënt voor intubasie sou gesukkel het om asem te haal – hul asemhalingspiere sou dus oortyd gewerk en swaargekry het. Ons het kalmeermiddels nodig om die liggaam te laat ontspan en die ventilator sy werk te laat doen. Dit kan baie ongemaklik vir die pasiënt wees as hulle teen die werking van die ventilator probeer asemhaal,” sê sy.
Pasiënte kan nie normaal eet terwyl hulle geïntubeer en aan ’n meganiese ventilator gekoppel is nie en moet deur ’n buis in hul maag gevoed word.
Met covid-19 bly mense langer aan ’n ventilator gekoppel as met enige ander respiratoriese siekte (gewoonlik tot twee weke), en pasiënte moet dikwels langer as twee weke ventilasie kry.
Daar is geen spesifieke afsnypunt vir iemand om aan ’n ventilator gekoppel te wees nie. Dit hang af van jou liggaam se vermoë om te herstel terwyl jy van die ventilator steun kry.
Moontlike komplikasies of langtermynskade
Vidya en Bilal sê die intubasieproses is delikaat, en sake kan skeefloop. Die volgende kan onder meer gebeur:
■ Dit kan moeilik wees om die buis in die regte posisie te kry. Die buis kan in die esofagus (slukderm) pleks van in die tragea (lugpyp) “misplaas” word en daartoe lei dat die brein suurstof ontneem word en breinskade veroorsaak.
■ Skade aan die stembande en besering aan die keel of lugpyp. Langtermynskade kan tot ernstige slukprobleme lei.
■ Bloeding.
■ Skade aan tandheelkundige werk of besering aan tande.
■ Die longe blaas te veel op – dit veroorsaak skade aan longweefsel wat die longe kan laat platval. Daar kan ook skade aan die longe kom weens hoë druk of volumes lug.
■ Ernstige spierswakheid of atrofie weens langdurige ventilasie en spierverlamming.
■ Ontsteking in die boonste lugweg of longontsteking opgedoen van die ventilator af.
■ Seervorming om die area van die buis. “Dit kan letsels en probleme met asemhaling veroorsaak wanneer die buis verwyder is,” sê Vidya.
■ Daar kan ook verwarring en demensie intree ná langdurige verdowing, bloedklonte kan weens onbeweeglikheid in die bene of longe vorm, en maagsere kan voorkom weens stres.
■ “Die longe kan langtermynskade opdoen wat fibrose genoem word. Dit kan maak dat die mens kortasem raak nadat hulle uit die hospitaal ontslaan is. Party mense moet dalk tuis op suurstofbehandeling geplaas word,” sê Vidya.
Wanneer is daar minder of meer skade?
Jonger, gesonde mense het gewoonlik “meer vergewensgesinde” longe en sal gewoonlik vinniger herstel, sê Bilal.
Jonger mense se longe het ook meer elastisiteit, wat dit makliker maak om die pasiënt te ventileer.
Jonger pasiënte het meer reserwes, voeg Vidya by, en hulle herstel vinniger.
“Hulle kan die aanslag van die siekte en die ventilator hanteer en is geneig om veel vinniger as ouer pasiënte te herstel.
“Ouer pasiënte het dikwels komorbiditeite (ander risikofaktore); dus is hul nier- en hartwerking dalk minder veerkragtig. Hul longe is minder ‘buigsaam’ en het meer blootstelling aan rook, besoedeling, trauma en siektes gehad, wat letselweefsel en fibrose veroorsaak.”
Sommige covid-19-pasiënte bereik ’n punt in die siekte waar dit moeilik word om hulle te ventileer omdat hul longe ’n inflammatoriese reaksie soortgelyk aan etter in die longe ontwikkel, sê Vidya.
Dit beteken dit maak nie saak hoeveel suurstof hulle kry nie, dit kan nie deur die etter kom om die bloedvate te bereik waar suurstofuitruiling plaasvind nie, en dokters moet die hoeveelheid druk verhoog wat gebruik word om die lug in te dwing. Dit kan tot drukskade lei.
Bilal sê dokters probeer die risiko vir komplikasies verminder, maar soms is dit onvermydelik of onverwags.
“As geneeskundiges voer ons prosedures uit en skryf ons medisyne voor met die bedoeling dat die voordeel daarvan groter is as die risiko vir komplikasies,” sê hy. “By ventilasie is dit ’n kwessie van lewe teenoor dood.” ■