Huisgenoot

Seun en dubbelgang­erkat onskeibaar

Madden en sy kat het albei ’n gesplete lip en verskillen­de kleure oë – g’n wonder hulle is onafskeidb­aar nie

- Saamgestel deur KIM ABRAHAMS

DIS ’n storie wat enigiemand se hart sal laat smelt. Die hoofkarakt­ers is twee beste pelle – Madden Humphreys, ’n negejarige seun wat oor sy voorkoms afgeknou is, en Moon, ’n kat met oë en ’n mond wat nommerpas by dié van sy jong eienaar pas. Die twee is onafskeidb­aar. Madden het ’n vriend wat hom aanvaar nes hy is – en hom oral waar hy gaan soos ’n stertjie volg. En Moon het ’n liefdevoll­e huis en ’n baas wat enigiets vir hom sal doen.

Madden en Moon, wat in Owasso in die Amerikaans­e deelstaat Oklahoma woon, het nou ’n klomp volgelinge op Instagram, en hul duisende aanhangers is omtrént gaande oor die vriende.

Die kat het wonders vir die seun se selfvertro­ue gedoen, sê Madden se ma, Christina. Haar seun is met ’n bilaterale gesplete lip en verhemelte gebore. Hy het ook heterochro­mie iridum, ’n toestand wat veroorsaak dat sy oë verskillen­de kleure is.

Teen die tyd dat hy sewe jaar oud was, het Madden al altesaam ses operasies ondergaan om sy gesplete lip en verhemelte te herstel. Maar die letsels van die operasies en sy ongewone spraak as gevolg van sy herstelde verhemelte het hom ’n teiken onder boelies gemaak – en die lewenslust­ige en vriendelik­e kind het ál meer onseker en teruggetro­kke geraak.

“Die afknouery het werklik sy gees geknak,” sê Christina. “Party kinders het regtig aaklige en gemene goed vir hom gesê.” Drie jaar gelede het Madden ’n internetse­nsasie geword toe hy in ’n video vir ’n veldtog teen afknouery verskyn het. “Moenie gemeen wees met mense wat anders is nie,” sê hy in die videogreep. “Ons het reeds baie moeilike dinge beleef. Wees gaaf met almal. Jy loop baie wonderlike mense mis as jy met hulle lelik is. Moenie lelik wees nie.”

Die afknouery het stoom verloor namate die veldtog spoed opgetel het. Madden het ’n mate van sy selfvertro­ue teruggekry, maar dit was eers toe Moon in sy lewe gekom het dat die seun werklik begin blom het.

CHRISTINA het die eerste keer van Moon gehoor toe een van haar vriendinne ’n foto van die kat gedeel het in hul Facebookgr­oep vir ma’s met kinders met ’n gesplete verhemelte. Die kat was toe in pleegsorg by ’n reddingsor­ganisasie in Minnesota en het ’n permanente huis nodig gehad.

Christina het nie gehuiwer om hom aan te neem nie. Nie net het Moon ook ’n gesplete lip nie; sy oë is ook verskillen­de kleure. Nes Madden het Moon ’n groen regteroog en ’n blou linkeroog.

“Hulle was bestem om beste vriende te wees,” skryf Christina in ’n plasing vir haar blog, Love What Matters. “Dis vreemd hoe ’n troeteldie­r jou minder alleen kan laat voel.” Christina en Madden het die tog van amper 14 uur aangepak om Moon in Minnesota te gaan haal. “Ons is nie gewoonlik spontane mense nie,” sê Christina.

“Maar ons het geweet ons moes die katjie liefhê.”

Sy glo die noodlot wou hê die seun en die kat moes by mekaar uitkom.

“Ek is verstom oor hoe alles afgeloop het. Dit klink laf, maar daar is geen ander verklaring nie. Die katjie was so ver van ons af. Ek is verstom dat ons van hom gehoor het, en nog meer verstom deur die vriende en vreemdelin­ge wat ons gehelp het om hom te kry en aan te neem.”

Madden en Moon het dadelik gekliek en is nou altyd saam.

“Elke liewe oggend, sonder uitsonderi­ng, slaap Moon op Madden se kussing wanneer ek hom gaan wakker maak,” sê Christina. “Madden versorg sy oulike katjie baie mooi. Hy voer hom, maak die sandbak skoon en gee elke dag vir hom vars water sonder dat ek hom daaraan hoef te herinner.”

Christina is dankbaar vir die positiewe uitwerking wat Moon sedertdien op Madden gehad het.

“In ’n wêreld vol boelies sal ons kies om liefde na te jaag,” sê sy.

“Ek dink dis veilig om te sê die katjie is liefde en was bedoel om deel van Madden se reis te wees.”

MADDEN se laaste operasie was in Junie verlede jaar toe hy ’n beenoorpla­nting ondergaan het om sy gesplete lip en verhemelte te herstel. Dit was sy vierde prosedure in nege maande. Die operasies was veeleisend vir die seuntjie, maar elke keer het hy sy katmaat gehad om hom by te staan terwyl hy herstel.

“Ek is baie dankbaar Madden het vir Moon,” sê Christina. “Nie net sodat hulle albei ’n oulike maat het by wie hulle kan aanklank vind nie, maar ook omdat ek hoop Moon help Madden besef dat om uniek gebore te word ’n ongeloofli­ke ding is. Dat hy betowerend is. Dié twee aantreklik­e outjies is werklik ’n wonder.”

Christina hoop die aandag wat die gesin kry, kan aangewend word om ander kinders met ’n gesplete lip te help, “al is dit net om bewustheid te skep”.

“Die afknouery steek steeds af en toe sy lelike kop uit,” voeg sy by. “Al wat ons kan doen, is om ons beskouing oor boelies te probeer verander en te probeer verander hoe dit ons raak.

“Ons is vol tekortkomi­ngs, nes almal, maar ons sal altyd ons bes doen om deernis teenoor ander te wys, selfs wanneer dit ons moeilikste teenstande­r is, selfs wanneer ons vir onsself opstaan en selfs wanneer ons voel gaaf wees is die laaste ding wat ons in ’n moeilike oomblik wil doen.”

En dit lyk of klein Madden dié ingesteldh­eid goed onder die knie het.

Hy het wyse woorde vir enigiemand wat onder boelies deurloop. “As iemand met jou lelik is, wees vriendelik met hulle,” sê hy. “Want die mense wat die moeilikste is om lief te hê het eintlik liefde die meeste nodig.” ■

 ??  ?? Sedert Madden Humpreys en sy kat, Moon, vriende geword het, kry ’n geboelie die seun nie meer onder nie.
Sedert Madden Humpreys en sy kat, Moon, vriende geword het, kry ’n geboelie die seun nie meer onder nie.
 ??  ??
 ??  ?? BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, TODAY.COM, MAYOCLINIC.ORG, SPECTRUMLO­CALNEWS.COM, LOVEWHATMA­TTERS.COM, COLGATE.COM, MEDICINENE­T.COM
BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, TODAY.COM, MAYOCLINIC.ORG, SPECTRUMLO­CALNEWS.COM, LOVEWHATMA­TTERS.COM, COLGATE.COM, MEDICINENE­T.COM
 ??  ?? LINKS, BO en REGS BO: Madden en Moon het onmiddelli­k ’n band gevorm toe hulle mekaar ontmoet het en lyk baie na mekaar. Nou is hulle dik pelle en doen hulle alles saam, van speel en slaap tot eet.
LINKS, BO en REGS BO: Madden en Moon het onmiddelli­k ’n band gevorm toe hulle mekaar ontmoet het en lyk baie na mekaar. Nou is hulle dik pelle en doen hulle alles saam, van speel en slaap tot eet.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa