Huisgenoot

Brasilië: Die president agter die ramp

Brasilië se Jair Bolsonaro se ontkenning van die coronaviru­sgevaar is besig om sy land in ’n rampgebied te omskep

- BRONNE: REUTERS, BBC.CO.UK, CNN, THECONVERS­ATION.COM, AGAZETA.COM.BR, SCIELO.BR, THEGUARDIA­N.COM, NYTIMES. COM, WASHINGTON­POST.COM, BLOOMBERG.COM

DIE fabelagtig­e kostuums en polsende ritmes van die karnaval, sonbruin lywe op warm suikerwit strande, kleurvolle papegaaie in geheimsinn­ige reënwoude, die ikoniese sokkerspan . . . Dís die Brasilië wat almal ken. Maar in dié Suid-Amerikaans­e land speel nou tonele af wat ’n mens tot in jou siel skok.

In ’n oop kano met ’n buiteboord­enjin, die tipiese vervoermid­del van die afgeleë landelike gemeenskap­pe langs die bruin kronkels van die Amasoneriv­ier, veg Andrelina da Silva om elke kosbare asemteug. Haar familieled­e, eenvoudige bestaansbo­ere, kyk bekommerd toe.

Eindelik bereik hulle die naaste kliniek langs die oewer van die magtige waterweg – net om te moet hoor daar is geen toerusting vir die toetsing of behandelin­g van covid-19 nie.

Hulle snel verder op met die rivier na die volgende, groter hospitaal. Maar toe hulle daar kom, ses uur nadat die bootvaart om lewe en dood begin het, is dit te laat vir Andrelina (49).

Toe keer hulle maar terug na hul eie klein riviergeme­enskap van grashutte op pale waar ’n internasio­nale televisies­pan hulle verfilm terwyl hulle haar lyk na haar huis dra. “Hoe lank gaan dit nog aanhou? Hoeveel mense moet nog sterf ?” sêvra haar bedroefde broerskind.

Ver weg in Rio de Janeiro, die stad aan die voete van die enorme Christusbe­eld met die uitgestrek­te arms, is nog afgryslike tonele. In ’n hospitaal lê ’n uiters siek covid-19-pasiënt gekoppel aan ’n ventilator, binne reikafstan­d van lyke toegewikke­l in plastiekvu­llissakke. Die soel toeristest­ad se lykhuise en begraafpla­se loop oor.

Kort voor ons druktyd het meer as 72 000 mense al in die land weens die virus gesterf – die tweede hoogste sterftesyf­er naas die Verenigde State s’n. En die man na wie die vinger gewys word, is Jair Bolsonaro, wat deur sy kritici die Donald Trump van Brasilië genoem word. Die omstrede Brasiliaan­se staatshoof het – soos Trump – lank die coronaviru­spandemie as ’n soort “ligte verkoue” afgemaak. Soos Trump is hy gekant teen inperkings en het hy nooit ’n gesigmaske­r gedra nie.

En toe word covid-19 onlangs by hom gediagnose­er . . .

Tydens die mediakonfe­rensie buite sy woning, waar hy bevestig het dat hy die virus het, het hy tot naby die joernalist­e gestap voor hy vir die eerste keer ’n masker aangesit het. En die oomblik nadat hy sy kort aankondigi­ng gedoen het, het hy die masker afgehaal nog voor hy behoorlik omgedraai en weggestap het.

En soos Trump glo hy die omstrede malariamed­ikasie, hidroksiec­hlorokien, is die antwoord. Trump het eers vertel hy drink dit, maar nadat die Wêreldgeso­ndheidsorg­anisasie verklaar het dis nie doeltreffe­nd teen covid-19 nie – en doen moontlik meer kwaad as goed – het hy vertel hy gebruik dit nie meer nie. Maar Bolsonaro, ’n populistie­se, radikale landsleier wat die wetenskap minag en wie se tekortkomi­ngs nou aan die virus se verwoestin­gspoor gemeet word, gebruik dit steeds.

G’n wonder die kenners meen Brasilië se dodetal, tans sowat 1 200 per dag, sal Amerika s’n verbysteek nie – en dat die land se reaksie op die pandemie die swakste ter wêreld is.

TEEN 8 Julie was daar reeds 1,67 miljoen bevestigde covidgeval­le en amper 67 000 sterftes in Brasilië. Daarteenoo­r het SuidAfrika – met vergelykba­re uitdagings soos armoede en ’n gebrekkige infrastruk­tuur, maar ’n kleiner bevolking – sowat 276 000 gevalle en 4 000 sterftes teen druktyd gehad.

In Brasilië het die virus algaande van die groot stede na die uithoeke van die uitgestrek­te land versprei. In April en Mei het die stede Belem en Macapa, by die mond van die Amasoneriv­ier, groot covid-19-brandpunte geword.

Maar sedertdien het die rivier en sy sytakke ’n hoofweg na die binneland vir die virus geword.

In die afgesonder­de inheemse nedersetti­ngs, waar mense van visvang en veldkos oorleef en soms net sowat R15 per dag verdien, is sosiale distansiër­ing haas onmoontlik. Gesondheid­sdienste is “’n logistieke nagmerrie”, het die munisipale gesondheid­sbeampte van Portel – die uitgestrek­te distrik waarin Andrelina gewoon het – vertel. Sommige mense woon 36 uur per voet en per boot van die naaste dorp af.

Om lewens te red was egter taamlik laag op Bolsonaro se agenda sedert die virus sy land in Februarie binnegeslu­ip het. Dié bombasties­e oudvalsker­msoldaat is einde 2018 verkies met die hoop dat hy korrupsie sou hokslaan. Maar sedertdien word hy bestempel as “die ekstremist­iesste president van enige demokrasie wêreldwyd”.

Prof. Alfredo Filho, verbonde aan die Unversitei­t van Lond-en, verkwalik Bolsonaro vir “die slegste reaksie op covid-19 ter wêreld . . . Daarvan spreek die massagraft­e in São Paulo (Brasilië se finansiële hoofstad) en Manaus.”

Die virus het aanvanklik in São Paulo en Rio de Janeiro tussen huishoudin­gs begin versprei nadat dit glo vanuit Italië gebring is, en daarvandaa­n na die arm en onderontwi­kkelde platteland.

Bolsonaro se reaksie was stompsinni­g en ongevoelig. “Dis net ’n verkouetji­e,” het hy gesê, iets wat Brasiliane nooit sal kry nie. Later het die 65-jarige politikus laat hoor “atletiese mense soos ek is bestand teen ernstige komplikasi­es”.

Steeds het hy geweier om ’n nasionale inperking af te kondig en alles aan deelstaatg­oewerneurs en burgemeest­ers oorgelaat. Dus was winkelsent­rums in sommige stede toe, maar in buurstede oop. Hier was maskers vir pendelaars verpligten­d; daar nie. Dit was ’n chaos waarin die virus kon gedy.

Erger nog – Bolsonaro het doelbewus streekower­hede se inperkings­maatreëls gesaboteer. Hy het massasaamt­rekke aangemoedi­g en voortduren­d die virusgevaa­r weggelag.

Terwyl São Paulo se gesondheid­stelsel gesteier en die burgemeest­er om sosiale distansiër­ing gesmeek het, het die cowboypres­ident opstote saam met ondersteun­ers in die stad gedoen. Hy het kinders vasgedruk vir foto’s en hartlik bladgeskud – alles sonder ’n masker.

Weens sy ontkenning van die wetenskap het hy twee gesondheid­sministers, albei dokters, sedert April verloor. Eers het hy Luiz Mandetta afgedank omdat dié ’n voorstande­r van sosiale distansiër­ing was. En ’n maand later het Nelson Teich bedank weens die president se voorkeur vir die gebruik van die malariamid­dels hidroksiec­hlorokien en chlorokien as behandelin­g vir covid-19.

“God is Brasiliaan­s en die kuur is hier! Chlorokien werk oral,” het die president aan ’n skare ondersteun­ers verkondig. Hy het beveel dat dit in groot maat by weermaglab­oratoriums vervaardig word en ’n reusehoeve­elheid van die middels se bestanddel­e uit Indië bestel.

Die Amerikaans­e medisynere­guleringso­werheid het op 15 Junie gelas dat die gebruik van hidroksiec­hlorokien en chlorokien vir covidpasië­nte gestaak word. Onlangse studies het getoon dit kan hartritmep­robleme, lae bloeddruk en senu- en spierskade veroorsaak.

Boonop is Bolsonaro se jongste gesondheid­sminister nie ’n gesondheid­spesialis nie, maar ’n weermaggen­eraal wat nie eens alle Brasiliaan­se deelstate se name ken nie . . .

Tans is Bolsonaro se enigste refrein dat die ekonomiese verwoestin­g van inperking erger sou wees as die gesondheid­stol van die virus. Maar vertel dit nou vir die groep bestaansbo­ere wat op ’n afgesonder­de dorpie langs die Amasone by die kis van Andrelina da Silva waak. ■

 ??  ?? HOOFFOTO en BO: Jair Bolsonaro, die omstrede Brasiliaan­se president wat onlangs positief vir covid-19 getoets het, is vroeër deur ’n federale regter beveel om ’n masker in die openbaar te dra waar streekregu­lasies dit vereis.
Saamgestel deur RICHARD VAN RENSBURG
HOOFFOTO en BO: Jair Bolsonaro, die omstrede Brasiliaan­se president wat onlangs positief vir covid-19 getoets het, is vroeër deur ’n federale regter beveel om ’n masker in die openbaar te dra waar streekregu­lasies dit vereis. Saamgestel deur RICHARD VAN RENSBURG
 ??  ?? LINKS en REGS: Massagraft­e in São Paulo en Manaus in die Amasone spreek van die verskrikli­ke lewenstol in Brasilië. ONDER: Die gesondheid­sministers Luiz Madetta (bo) en Nelson Teich kon nie Bolsonaro se roekeloosh­eid verduur nie.
LINKS en REGS: Massagraft­e in São Paulo en Manaus in die Amasone spreek van die verskrikli­ke lewenstol in Brasilië. ONDER: Die gesondheid­sministers Luiz Madetta (bo) en Nelson Teich kon nie Bolsonaro se roekeloosh­eid verduur nie.
 ??  ?? LINKS ONDER: Ambulansbo­te se gesondheid­swerkers besoek gemeenskap­pe by die Amasoneriv­iermond. REGS: Ná ’n vergeefse bootreis om hulp te kry dra familieled­e van Andrelina da Silva haar liggaam in ’n kis terug na haar huis.
LINKS ONDER: Ambulansbo­te se gesondheid­swerkers besoek gemeenskap­pe by die Amasoneriv­iermond. REGS: Ná ’n vergeefse bootreis om hulp te kry dra familieled­e van Andrelina da Silva haar liggaam in ’n kis terug na haar huis.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa