Oudste saamgegroeides op 68 dood
Die oudste saamgegroeide tweeling ter wêreld was eens ’n groot trekpleister by ’n sirkus, maar is onlangs op 68 oorlede
JY DOEN wat jy moet doen. So het Ronnie en Donnie Galyon hul jare se werk by ’n rondreisende sirkus beskryf toe vreemdelinge hulle aangestaar het terwyl hulle in hul woonwa televisie kyk, eet, lees of kibbel. Om mense oor hul andersheid uit te buit klink dalk afskuwelik in vandag se veel sensitiewer en politiek korrekte wêreld, maar toe die saamgegroeide tweeling kinders was, was dit al wat hulle geken het. En hulle het nie omgegee nie.
“Dit was pret,” het Ronnie eenkeer gesê oor die broers se vermaakloopbaan wat begin het toe hulle vier jaar oud was. Hul pa het hulle teen betaling in ’n rondreisende sirkus uitgestal.
Maar nou is Ronnie en Donnie weg. Die broers, wat geskiedenis gemaak het toe hulle in 2014 amptelik die oudste saamgegroeide tweeling ter wêreld geword het, is onlangs op 68 aan hartversaking dood nadat hul gesondheid jare lank agteruitgegaan het.
Ronnie en Donnie het in 1991 uitgetree nadat hulle met hul vertoning deur die VSA en Sentraal- en Suid-Amerika gereis het. “Hulle is daar onder soos rocksterre behandel,” vertel hul broer Jim (57).
Die afgelope jare het die twee saam met Jim en sy vrou, Mary, in ’n spesiaal geboude huis op Jim se eiendom in Beavercreek, Ohio, gewoon.
Toe hul artritis dit vir hulle onveilig gemaak het om verder alleen te woon, het ’n liefdadigheidsorganisasie van New York ’n paar jaar gelede met die hulp van 200 vrywilligers sowat R700 000 ingesamel vir materiaal om ’n nuwe blyplek te bou.
Hul vorige huis was ’n gewone een met die gange en deure die gewone grootte. Dit het dit vir die tweeling moeilik gemaak om rond te beweeg. Weens die artritis kon hulle nie meer as ’n paar treë op ’n slag loop nie en hul spesiaal ontwerpte rolstoel vir twee mense was te groot om in hul huis rond te beweeg.
Volgens Jim moes sy broers noodgedwonge die meeste van die tyd op die vloer sit.
In hul nuwe huis was groot deuropeninge en breë gange om vir hul rolstoel te voorsien, asook ’n skuinste tot by die
hoofhuis waar Jim en Mary woon.
“Dit is wonderlik om dinge te hê wat werklik vir hulle werk,” het Jim gesê toe die tweeling ’n dekade gelede by hulle ingetrek het. “Almal wat saamgekom het om my broers na ons huis te help bring het hulle nog 10 jaar se lewe gegee.”
DIE tweeling se oorlede ouers, Wesley en Eileen, het nie verwag hulle sou ’n tweeling kry nie, wat nog te sê ’n saamgegroeide tweeling. “Eintlik was dit ’n vinnige geboorte,” het Wesley jare gelede in ’n televisieonderhoud vertel.
Dit was ’n natuurlike geboorte, en Donnie, “die kleintjie, hy was eerste uit, kop eerste”, en Ronnie was voete eerste uit.
“Die dokter het gesê hulle gaan waarskynlik sterf, maar ek het in my hart geweet hulle sou leef.”
Die tweeling het die eerste twee jaar van hul lewe in die hospitaal deurgebring terwyl dokters probeer uitpluis of hulle geskei kon word. Eindelik het hulle gesê daar was geen waarborg dat enigeen van die tweeling chirurgie sou oorleef nie, en hul ouers het besluit om met hul seuns na hul plaasgemeenskap in Beavercreek terug te keer.
Ronnie en Donnie was by die buik aan mekaar geheg en het ’n laer spysverteringskanaal gedeel. Donnie het die rektum en Ronnie die blaas en penis gehad, terwyl elkeen sy eie hart en maag en twee arms en bene gehad het. Dit het besonderse konsentrasie geverg om hul bewegings te koördineer, maar hulle het dit vroeg al vervolmaak.
Hul ouers wou hulle skool toe stuur, maar hulle is nie toegelaat om te gaan nie, want beamptes het gevrees hulle sou “’n afleiding” vir die ander kinders wees.
“Dit was ’n ander era,” sê Jim oor dié onsensitiewe houding.
Dit was die tweeling se hemelhoë mediese rekeninge wat Wesley laat besluit het om met sy seuns die pad te vat en by World of Wonders aan te sluit. Dié selfverklaarde “fratsvertoning” is bestuur deur die karnavalimpresario Ward Hall, die laaste sirkusbaas in sy soort in Amerika.
In ’n biografie oor Ward het dit aan die lig gekom die tweeling se ma het hulle verwerp en hulle is deur hul pa en later hul stiefma, Mary, grootgemaak.
Jim sê die tweeling se verdienste is gebruik om hul nege sibbes te onderhou.
“Dit was die enigste inkomste. Hulle was die broodwinners.”
Wesley het altyd volgehou dit was nooit sy plan om hulle uit te stal nie. “Ons het aanbiedinge gehad van die dag dat hulle gebore is,” het hy gesê. “Mense het ons gedurig lastig geval om hulle ten toon te stel. Ongeag waar ons gegaan of wat ons gedoen het, hulle is in elk geval altyd as ’n besienswaardigheid beskou.” Hy het later kopgegee. “Sodoende kry hulle iets daaruit. Wat anders kan ’n Siamese tweeling doen?”
’n Bord wat die tweeling by die sirkus geadverteer het, het gelui: “In lewende lywe – die Galyon- Siamese tweeling!”
Teen die 1970’s is dié soort vertonings algemeen as beledigend en uitbuitend beskou, maar in die 1960’s was “menslike eienaardighede”, soos die kunstenaars beskryf is, die hooftrekpleister by menige Noord-Amerikaanse sirkus.
En vir mense wat gevoel het hulle pas nêrens anders in nie, kon die sirkuslewe ’n soort toevlug wees, ’n verwelkomende gemeenskap vir die verstotelinge.
Ronnie en Donnie het kameraderie in die sirkus gevind, waar hul kring Little Pete, die “kleinste man ter wêreld”, en Johan “die Wiking-reus” ingesluit het.
“Wanneer ons op toer was, was dit soos een groot familie,” het Ronnie gesê. Die seuns se lewe as ’n attraksie het basies daarop neergekom dat hulle in hul woonwa sit en televisie kyk en met hul daaglikse lewe voortgegaan het terwyl toeskouers deur die vensters na hulle loer.
Toe die vertonings in die VSA ongewild raak, het World of Wonders suide toe koers gekies na Sentraal- en Suid-Amerika. Dis waar die seuns die “rocksterbehandeling” gekry het waarna Jim verwys.
WEG van die agies wat hulle grootoog aanstaar, was die tweeling soos enige ander sibbes. As seuns en as volwassenes het hulle graag Hot Wheels- en Matchbox-motortjies, gedenkplate, ondertekende foto’s van Playboy-modelle en basketbalpette versamel.
En hulle het baklei ook. “Ronnie, die grote, was nog altyd ’n gemoedelike kind, maar Donnie, die kleintjie – hy is buierig; hy wil altyd sy sin hê,” het hul pa gesê.
In ’n onderhoud het die tweeling erken hulle dam mekaar met die vuis by wanneer hulle baklei. Cade Elkins, hul halfsuster, Cindy, se seun, sê hy het by familie stories gehoor oor hoe “hulle af en toe in rusies en vuisgevegte met mekaar betrokke geraak het.
“Die idee van my ooms wat vuisslaan, was altyd vir my dubbel absurd. Nie net het hulle reusagtige nagebootste Dallas Cowboys-ringe (bonkige kneukelversierings met die Amerikaanse voetbalspan se kenteken op) gedra nie; dit was vir hulle letterlik onmoontlik om van mekaar weg te hardloop.”
Ondanks hul verskille wou Ronnie en Donnie nooit geskei word nie.
Toe hulle in hul 20’s was, het ’n plastiese chirurg sy dienste aangebied en gesê hy meen hy kan hulle suksesvol skei. Maar Ronnie en Donnie het geweier.
“Ons hou van wie ons is. Ons kan basketbal speel, ons kan gaan jag en hengel. Ons hou daarvan.”
Die tweeling is in ’n pasgemaakte kis ter ruste gelê. Nadat hulle veel langer geleef het as wat enigiemand verwag het – saamgegroeide tweelinge het ’n oorlewingskoers van tussen 5 en 25% – het die tweeling ’n gelukkige lewe gelei, sê Jim. En oor hul dood sê hy: “Hul liggame was moeg en dit was tyd.” ■