Huisgenoot

Vrou sterf wat met 12-jarige vry

Sy was 34; hy 12. Hulle het verlief geraak, getrou en geskei. En tog het hy haar tot haar dood versorg

- Saamgestel deur KIM ABRAHAMS

DIT was ’n vreemde, berugte liefdesver­haal – en een wat dekades lank met ’n soort makabere belangstel­ling dopgehou is. Toe dit in die laat 1990’s begin het, was sy ’n 34jarige onderwyser­es en getroud met vier kinders. Hy was haar twaalfjari­ge leerder, verlief op ’n vrou meer as twee dekades sy senior.

Wat daarop gevolg het, was ’n omstrede verhouding, die geboorte van twee kinders, ’n skuldigbev­inding aan kinderverk­ragting, ’n troue gehul in drama en later ’n egskeiding.

Tog het Mary Kay Letourneau en Vili Fualaau ’n verenigde front voorgehou – ’n paartjie wat oënskynlik toegewy was aan mekaar ondanks al die omstredenh­eid en veroordeli­ng.

Nou het dié vreemde liefdesver­haal tot ’n einde gekom – en die slothoofst­uk in die sage is ná baie jare geskryf. Mary Kay is onlangs op 58 in haar huis in Seattle in Amerika dood nadat sy ses maande lank teen fase 4-kolonkanke­r baklei het.

En ten spyte van hul egskeiding was Vili (37) dwarsdeur alles aan haar sy. Hy het van sy huis in Kalifornië na Seattle getrek om sy eksvrou voltyds te versorg.

Hy is verpletter deur haar dood, sê diegene na aan hom.

“Hy het ’n stuk van homself verloor,” het ’n vriend aan die tydskrif People gesê. “Hy verstaan hoe verkeerd die manier was waarop hulle bymekaar uitgekom het. Hy is nie dom nie. Maar hy kan nie sy gevoelens afskakel nie, en dis ’n groot verlies vir hom.”

Die twee het kort voor haar dood gesels, en hulle “het alles gesê wat hulle moes”.

“Almal se harte is swaar op die oomblik,” sê nog ’n bron.

“Ek glo sy en haar geliefdes het elke minuut van elke dag saam deurgebrin­g en hul tyd saam gekoester. Ek weet hulle twee het mekaar aanbid en alles in hul vermoë gedoen om die gesin bymekaar te hou.”

MARY KAY en Vili se huweliksbo­otjie het in 2017 ná 12 jaar se getroude lewe gesink toe hy om ’n wettige skeiding aansoek doen. Hy het gepraat oor die uitdagings van twee kinders grootmaak terwyl hy self nie eens ’n volwassene was nie. Hy het erken hy “het nie gedink” toe hy ’n seksuele verhouding met Mary Kay begin het toe hy nog op laerskool was nie.

“Die ouderdomsv­erskil, al daardie dinge – baie dinge waaraan ek toe moes dink, het glad nie deur my gedagtes gegaan nie.”

Teen die tyd dat hy 15 was, was hy reeds ’n pa van twee. Hul dogters, Audrey en Georgia, is nou onderskeid­elik 23 en 21.

“Ek voel nie ek het die regte ondersteun­ing of die regte hulp gehad nie,” het hy gesê. “Van my familie, van enigiemand oor die algemeen. My vriende kon my nie help nie, want hulle het nie ’n benul gehad hoe dit was om ’n ouer te wees nie. Ons was almal 14, 15.”

Vili het eindelik sy hoërskooll­oopbaan laat vaar en in depressie en alkoholism­e verval. Mary Kay het later die publisitei­t

‘Hulle het alles gesê wat hulle moes’

wat hul romanse ontlok het die skuld vir die ondergang van hul huwelik gegee. “Dis skokwaarde. Dis waaroor alles gegaan het. Skok. Ek noem dit die mediabloed­bad. Padkarkass­e. Bloed,” het sy gesê.

Die publiek se beheptheid met hul verhouding het dit onder ondraaglik­e druk geplaas, het sy geglo.

“Almal wil die storie hoor – of hulle dit nou wil ontleed of kritiseer. Daar het al 20 jaar verloop, maar dis steeds so.” Mary Kay en Vili het ná die verbrokkel­ing van hul verhouding steeds saamgebly tot hul egskeiding in 2019 afgehandel is.

“Hulle haat mekaar nie,” het ’n bron destyds gesê, “maar hulle sien albei daarna uit om met hul lewe aan te gaan en vorentoe te beweeg.”

Toe kanker by Mary Kay gediagnose­er is, was Vili een van die eerste mense wat sy daarvan vertel het. Sy was aanvanklik optimistie­s en het volgehou sy sal die siekte klop.

“Daar is gesê sy gaan dit klop,” sê ’n vriend. “Hoewel die prognose nie goed was nie, wou sy met alles in haar daarteen baklei.”

Maar toe dit in Junie duidelik word die kanker het vinnig versprei, het Mary Kay se optimisme gekwyn en het sy begin afskeid neem.

Vili het by haar ingetrek en haar elke dag vir die laaste twee maande van haar lewe versorg.

“Hy het geweet die einde was naby vir Mary, en hy het teruggekee­r en was by haar – om haar onthalwe, die gesin s’n en sy eie,” het David Gehrke, Mary se vriend en jare lange prokureur, aan today.com gesê.

“Dit het so baie vir haar beteken. En ek weet dit het baie vir Vili beteken, so pynlik soos wat dit was.”

David het Mary Kay dwarsdeur haar kinderverk­ragtingsve­rhoor verteenwoo­rdig en sê ondanks die egskeiding het sy en Vili vir mekaar omgegee.

“Hulle het nog liefde vir mekaar gehad. Hulle het kinders saam, en hy het altyd gesê sy was sy eerste liefde.”

David en Mary Kay het dikwels vasgesit oor of die liefde tussen haar en Vili dit geregverdi­g het om die wet te oortree.

“Ek het vir haar gesê daar moenie die een of ander selfverded­igingsargu­ment wees soos: ‘Wel, hulle is verlief ’ nie,” sê hy. “Jy kan nie die wet verander nie.

“In Mary se geval glo ek vas dit wás liefde, maar ek het altyd met haar gestry. Ek het gesê: ‘Mary, jy was die volwassene, en die wet sê jy moet soos ’n volwassene optree tot hy een is. Jy kan nie die wet oortree net oor die liefde nie.’

“En sy het dit eindelik verstaan. Sy het nooit daarmee saamgestem nie, want hulle was lief vir mekaar, maar sy het dit begryp.”

MARY KAY se eksman, Steve Letourneau, wat ná hul egskeiding nog twee keer getrou het, het nog nie oor haar dood gepraat nie. Nadat hy in 1997 om ’n egskeiding aansoek gedoen het, het Steve toesig oor hul vier kinders, Steven (nou 36), Mary Claire (33), Nicholas (29) en Jacqueline (27), gekry.

Vili en Mary Kay se families het ’n paar dae ná haar dood in ’n gesamentli­ke verklaring gesê sy het onvermoeid teen “hierdie aaklige siekte” baklei.

“Om ons nabye en uitgebreid­e familieled­e saam met haar in hierdie swaar stryd te hê het vir Mary baie krag gegee – en vir ons ook,” het hulle gesê.

“Ons het ons bes gedoen om Mary en mekaar te versorg en om naby mekaar te wees.”

Vriende en familie van die paartjie het privaathei­d gevra en om Audrey en Georgia se onthalwe gemaan teen onsensitie­we opmerkings.

“Mary Kay laat ses kinders en twee kleinkinde­rs agter. So onkonvensi­oneel as wat haar en Vili se verhouding was, was dit eg. Hulle het ’n liefdevoll­e lewe gelei,” sê ’n vriend.

“Dis tyd om die kinders met hul volwasse lewe te laat aangaan sonder om te moet lees of hoor hoe vreemdelin­ge die storie veroordeel.”

Intussen moet Vili, wat as platejoggi­e werk, die stukke optel.

Hy het eenkeer gesê as hy alles weer kon oordoen, sou hy ander besluite geneem het, maar bygevoeg hy het geen berou nie.

“Ek kan nie spyt wees oor my twee dogters en die lewe wat ek reeds gelei het nie,” het hy in ’n onderhoud in 2018 gesê.

“Ek het geleer berou is ’n slegte ding. Dit is my lewensreis. Dis die lewe wat ek moet lei.” ■

 ??  ?? HOOFFOTO: Mary Kay Letourneau en Vili Fualaau het in 1996 ’n seksuele verhouding begin. LINKS: Sy was in daardie stadium sy gr. 6-onderwyser­es en getroud, en hy was 12 jaar oud.
HOOFFOTO: Mary Kay Letourneau en Vili Fualaau het in 1996 ’n seksuele verhouding begin. LINKS: Sy was in daardie stadium sy gr. 6-onderwyser­es en getroud, en hy was 12 jaar oud.
 ??  ??
 ??  ?? Teen die tyd dat Vili 15 jaar oud was, was hy reeds die pa van twee dogters. Hier is hy en Mary Kay in 2015 saam met hul dogters, Georgia (links) en Audrey, gedurende ’n onderhoud met die geselsprog­ramaanbied­er Barbra Walters.
Teen die tyd dat Vili 15 jaar oud was, was hy reeds die pa van twee dogters. Hier is hy en Mary Kay in 2015 saam met hul dogters, Georgia (links) en Audrey, gedurende ’n onderhoud met die geselsprog­ramaanbied­er Barbra Walters.
 ?? BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, NYTIMES.COM, TODAY.COM, OPRAHMAG.COM ?? Die twee is in 2005 getroud, kort nadat Mary Kay uit die gevangenis vrygelaat is. Hul egskeiding is in 2019 afgehandel.
BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, NYTIMES.COM, TODAY.COM, OPRAHMAG.COM Die twee is in 2005 getroud, kort nadat Mary Kay uit die gevangenis vrygelaat is. Hul egskeiding is in 2019 afgehandel.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa