Huisgenoot

Philip ná jare weer op die kassie

’n Kaalkop Philip Moolman vertolk ná baie jare weer ’n groot TV-rol; hy vertel van die tyd tussenin

- Deur JACO HOUGH-COETZEE

DIS iemand wat kykers sal herken. Hy is ’n ryk, gesiene sakeman wat graag vriende onthaal en spog met hoeveel hy vir die gemeenskap beteken; iemand wat glo geld kan alles regmaak wat krom is. In sy oë is hy die kat se snor. Dis aan dié man wat Philip Moolman nou elke Dinsdagaan­d lewe gee in die kykNET-dramareeks Spoorloos 2: Heksejag. Sy karakter, Gawie Brand, besit ’n jagplaas en ’n lodge waar die manne van die dorp ’n bok kan plattrek en daarna iets kouds vir die keel kry – en sommer na Gawie se grootpraat­stories kan luister.

“Gawie is ’n lekker ou,” sê Philip (55). “Maar ’n mens moet onthou dis dikwels ’n geval van onder draai die duiwel rond.”

Benewens die feit dat hy van Gawie se lodge en sy 4x4’s hou, is daar min ooreenkoms­te tussen hom en dié karakter, sê die akteur en sanger oor sy eerste groot TVrol in jare.

“Ek kan wel sê dit was ’n baie gemaklike en lekker rol om te vertolk, met ’n draaiboek propvol kinkels wat kykers op die punt van hul stoel sal hou.”

Spoorloos 2 volg dieselfde resep as die eerste reeks, sê Ilse van Hemert, die regisseur en hoofskrywe­r. “Dit speel op ’n klein dorpie af, daar is ’n verdwyning, ’n raaisel moet opgelos word en die verlede het ’n groot invloed op die hede.”

Hy het al vergeet hoe lekker dit is om ’n hoofrol in ’n TV-reeks te vertolk, vertel Philip. Hy was in die 1990’s bekend vir sy vertolking van Neil MacDonald in Die sonkring en André Vorster in die sepie Egoli. “Ek sal dit graag weer wil doen. Die regisseurs moet my nou net raaksien en besef daai perd leef nog, al het hy nie meer hare nie!”

Philip se akteursloo­pbaan het lank tweede viool gespeel, vertel hy. Hy en sy eksvrou die aktrise en skrywer Susan Coetzer het in 2002 die Blou Hond-teaterrest­aurant in Linden, Randburg, gestig. Die bestuur en bemarking daarvan het baie van sy tyd in beslag geneem. Toe hy en Susan in 2012 geskei het, het hulle die Blou Hond-konsep aan die Casa Toscana-geleenthei­dslokaal in Pretoria verkoop.

“Toe is dit eindelik weer Philip-tyd, want eintlik is ek in my hart nie ’n hardcore sakeman nie,” sê hy.

Toe was daar weer tyd vir hom en sy kitaar om by korporatie­we geleenthed­e op te tree of om seremoniem­eester by gesellighe­de te wees.

So twee of drie keer per week is hy die gasheer by Casa Toscana wanneer hulle ’n musiekvert­oning in die Blou Hond aanbied.

“Dit is eintlik ’n ligte job,” beskryf Philip dit. “Ek doen die aankondigi­ngs en sorg dat die gaste oukei is, en soms sing ek.”

Dit was juis hier, by die Blou Hond, waar hy en sy huidige vrou, die lewensafri­gter Lurianne Bruwer (50), mekaar in 2015 tydens ’n Mathys Roetsverto­ning ontmoet het. “Sy en ’n vriendin het die show bygewoon, en sy was net te mooi vir my. Ná die tyd het ek haar gevra of ek haar op ’n kol ’n luitjie kan gee, dan gaan eet ons roomys.”

Dit het toe nie net by een roomys gebly nie, want die twee het onmiddelli­k besef hulle is gaande oor mekaar se geselskap. Tot Philip se verbasing het hy toe gehoor dat sy self ’n sterk musikale streep het, dat sy die ukelele bespeel en in haar kerk se lofprysing­sgroep sing.

“Sy het selfs jare gelede ’n gospelalbu­m opgeneem, maar nie vreeslik baie gedoen om dit te bemark nie. Dis maar so verkoop wanneer sy vertonings gehou het,” sê hy.

Hulle was gou ’n paartjie. “Die volgende jaar het ek besluit nou is dit tyd om die knieg te knak; ons raak mos nie jonger nie.”

Philip en Lurianne is op 16 Desember 2016 tydens ’n intieme byeenkoms op Groot-Brakrivier getroud en het na Benoni aan die Oos-Rand verhuis waar hulle in ’n veiligheid­skompleks bly.

Lurianne het deel van Philip se musieklewe geword. Hulle skryf onder meer die komiese kabaret Norm@l en lewer as die sangpaar Saam geestelike en inspireren­de vertonings by kerke, vroueoggen­de en korporatie­we geleenthed­e. As lofsanglei­ers by die Kruinkerk in Kempton Park skryf hulle ook liedjies om by die tema van ’n bepaalde preek te pas.

“Ons was juis in April en Mei, met die eerste twee maande van die inperking, baie fluks,” vertel Philip.

“Ons het liedjies geskryf en by die huis video-opnames daarvan gemaak wat saam met die predikante se videopreke gebruik is. Maar in dié tyd het die kreatiwite­it so gevloei dat toe ons ons oë uitvee, toe sien ons ons het genoeg ander liedjies gepleeg om ’n dubbelalbu­m vol te maak.”

Van dié liedjies sal oor die volgende paar maande as enkelsnitt­e in die sosiale media uitgereik word onder hul naam, Saam.

As ambassadeu­r van die Veteraneby­standsfond­s vir behoeftige oudsoldate en dienspligt­iges van ná 1965 het Philip ’n permit om tydens die inperking rond te ry en die veterane te besoek en na hul emosionele, fisieke en finansiële behoeftes om te sien.

“Die nood onder die mense is groot. Dit is my liefdesdaa­d. Ek is meer doelgedrew­e as geldgedrew­e,” sê hy hieroor.

Die meeste verfilming­swerk vir Spoorloos 2 is afgehandel voor die inperking aan die einde van Maart aangekondi­g is. “Ná die verslappin­g van reëls vir die rolprenten TV-bedryf met vlak 3 aan die einde van Mei kon ons die laaste tonele klaar skiet.”

Die reeks is grotendeel­s in Krugersdor­p aan die Wes-Rand verfilm, en ander bekende akteurs soos Bertha le Roux-Wahl, Elma Postma, Gérald Rudolf en Hanli Rolfes is ook deel van die rolverdeli­ng.

HOEWEL die inperking hom en Lurianne nie in ’n finansiële verknorsin­g laat beland het nie, moes hulle nogtans die “spaarvarki­e se pensie oopsny”, erken hy. “Omdat ek my hele lewe in die vryskutwêr­eld werk, het ek nog altyd voorsienin­g gemaak vir die tye wanneer die inkomste maar skraps is.”

Maar hy weet ook van baie kunstenaar­s wat swaar trek.

“Ek sien ’n wanhopighe­id, maar ek sien ook die kreatiwite­it wat kop uitgesteek het met sommige wat aanlyn konserte hou.”

Ook vir teaters is daar ’n aanpassing­styd met die streng voorwaarde­s waarmee hulle nou weer hul deure kan oopmaak.

Hy is ten spyte van dié uitdagende tyd in die bedryf ook dankbaar vir sy reis tot hier en opgewonde oor wat nog wag. En sou hy met daardie jong akteur van die 1990’s – toe nog met ’n welige bos hare – kon praat, sou hy vir “die jong Flippie” ’n eenvoudige boodskap hê.

“Ek sou sê: Moenie te veel worry en te veel bang wees nie, want dit beperk jou. Dis iets wat ek nie besef het toe ek jonk was nie. Wees vreesloos lief vir jouself en vir ander, operate hieruit, soos die Here lief is vir ons almal.” ■

Spoorloos 2: Heksejag word Dinsdae om 20:00 op kykNET uitgesaai.

 ??  ??
 ??  ?? BO: Philip op kitaar en sy vrou, Lurianne, op die ukelele. Hulle tree as die sangpaar Saam op. REGS: Hulle is in 2016 op GrootBrakr­ivier getroud.
BO: Philip op kitaar en sy vrou, Lurianne, op die ukelele. Hulle tree as die sangpaar Saam op. REGS: Hulle is in 2016 op GrootBrakr­ivier getroud.
 ??  ?? Philip in sy jonger dae. Hy het homself in die 1990’s as akteur gevestig in Afrikaanse reekse soos Die sonkring en die sepie
Egoli.
Philip in sy jonger dae. Hy het homself in die 1990’s as akteur gevestig in Afrikaanse reekse soos Die sonkring en die sepie Egoli.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa