ROOIBORSLAKSMAN
Deur MARINDA VAN ZYL, TAFELBERG (R236)
Nooit het sy kon dink toe sy ’n meisietjie in die skoolkoshuis op Gobabis was dat daardie wêreld so ’n ryk geskiedenis het nie. Nog minder het Marinda van Zyl kon dink sy sou dit eendag in romans oorvertel.
Rooiborslaksman, haar derde oor ’n stuk geskiedenis wat in die ou Suidwes draai, het pas verskyn. Dit is voorafgegaan deur Amraal (2016) en Dors (2018). Sy vertel dat die storie van Amraal en sy mense nie met sy dood opgehou het nie. “Sy dood en dié van sy oudste seun en twee kleinseuns wat sy opvolgers moes wees, het ’n opvolgstryd tussen Andries en Frederik Vlermuis tot gevolg gehad wat uitstekende romanmateriaal is.
“Frederik se lewe het gesoebat om in ’n storie omskep te word. Die historiese agtergrond het dit moontlik gemaak om ’n roman met ’n ander aanslag te skryf. Amraal se vredeliewendheid het plek gemaak vir rugstekery, gierigheid en selfs moord.”
Marinda, wat ’n doktorsgraad in geskiedenis het, het haar soos altyd in haar navorsing verdiep.
“Toe ek met my navorsing oor Amraal begin het, was ek verstom om te besef hoe ryk aan geskiedenis Gobabis is. Ek was daar op hoërskool, maar het nie geweet Namas het voorheen daar gewoon nie. Voor die meisieskoshuis was ’n stuk grond met drie kameeldoringbome. Hier het Amraal-hulle gewoon en het hy sy kerk gebou. Agter ons koshuis het die huis van die Duitse bevelvoerder, die Residentia, behoue gebly, asook stukke terras wat na ’n fontein lei.
Sy vertel feitlik al die bronne uit daardie tydperk is in die ou Duitse alfabet geskryf en gedruk, wat die lees bemoeilik. “Ek moes maar my ou skoolboeke nader trek om die letters te ontsyfer, maar ná so twee maande kon ek dit weer vlot lees.”
Dis geen wonder sy sê dis nou tyd vir ’n blaaskans en sy los eers die historiese romans om ’n sappige misdaadstorie te skryf nie.
So beskryf sy twee belangrike karakters in Rooiborslaksman:
“Liesbet en Frederik was die ideale karakters om goed en kwaad in balans te hou. Liesbet is soos ’n gebreide velletjie, sag, warm en duursaam. Niks kon haar onderkry nie. Frederik is koud en deursigtig soos glas. As jy hom sien, weet jy hier kom moeilikheid, en as daar bloed gaan vloei, sal dit sy teenstander s’n wees. Tog was hy die enigste een wat besef het die sendelinge is die voorlopers van kolonisasie en die enigste een wat dit kon regkry om die Namas en Herero’s te laat saamstaan teen die Duitsers.”