Huisgenoot

McConnell: Doring in Biden se vlees?

Die Republikei­n Mitch McConnell krap al jare die Demokrate se planne deurmekaar. Gaan hy sy ‘vriend’ Biden kelder?

- Saamgestel deur RICHARD VAN RENSBURG BRONNE: CNN, REUTERS, THE LONG GAME DEUR MITCH McCONNELL, THECONVERS­ATION.COM, NYTIMES.COM, FORTUNE.COM, FT.COM, TEAMMITCH.COM, NEWYORKER.COM, WASHINGTON­POST.COM, POLITICO.COM

SY POLITIEKE teenstande­rs noem hom sinies en geslepe. Onder sy vele onvleiende byname is “Moscow Mitch”, “Darth Vader” en “The Grim Reaper”. En g’n wonder nie, want as die langs dienende Republikei­nse senaatleie­r pootjie Mitch McConnell (78), van Kentucky, al dekades lank progressie­we beleidsdro­me.

Hillary Clinton, Barack Obama, Nancy Pelosi, die aangewese Amerikaans­e president, Joe Biden . . . Al wat ’n prominente Demokraat is, het al McConnellm­oleste gehad.

Charismati­es is hy allermins, maar strategies is hy – en uitgeslape. Dis kenmerke wat hom die afgelope vier jaar goed te staan gekom het as oudpres. Donald Trump se belangriks­te luitenant.

Maar terwyl Trump wilde bewerings oor verkiesing­sbedrog twiet, glimlag McConnell breed. Want Kentucky se kiesers het hom pas vir ’n sewende termyn na die senaat gestuur. Dus, wanneer Trump op 20 Januarie 2021 die Withuis ontruim, sal McConnell as moontlike meerderhei­dsleier in die senaat die magtigste Republikei­n in Amerika wees.

En hy kan ’n doring in die vlees vir Biden wees – of dit nou gaan oor covid, bekostigba­re gesondheid­sorg of swaarder belasting vir die rykes.

WIE IS MITCH McCONNELL?

In dié tyd van die coronaviru­skrisis is dit ironies dat Addison Mitchell McConnell jr. as kind in die 1940’s moes veg om teen ’n ander gevreesde siekte te oorleef: polio.

Die klein geboude McConnell, gebore in die deelstaat Alabama, was as kleuter byna ’n invalide nadat sy linkerbeen erg deur polio verswak is. Met sy pa, Addison, in die Tweede Wêreldoorl­og betrokke, was dit sy ma, Julia, wat hom ’n streng oefenprogr­am laat volg het.

Hy was vier jaar oud toe hy die eerste keer sonder ’n beenstut kon loop en Julia vir hom sy eerste paar skoene gekoop het. McConnell het al vertel sy stryd teen polio het hom die dryfkrag en fokus gegee om ’n gedugte politikus te wees.

In sy tienerjare het die gesin na Louisville, Kentucky, verhuis. Ná skool het hy hom as prokureur gekwalifis­eer en vir die Amerikaans­e justisiede­partement gaan werk.

In 1977 is hy verkies tot ’n pos wat ooreenstem met dié van burgemeest­er van die Louisville-streek. Om sy eerste politieke sukses te vier, en ter ere van sy ma, het hy vir hom nuwe skoene gekoop.

McConnell het al vertel dat hy as student met ontsag vervul is deur die burgerregt­eleier Martin Luther King jr. se “I Have a Dream”-toespraak. As jong Republikei­n het hy progressie­f oorgekom, maar dit het gaandeweg verander.

Volgens John Yarmuth, ’n Louisville­kongreslid, het hy “nooit enige kernbegins­els gehad nie”.

In 1980 is hy ná 12 jaar en gerugte van ontrouheid van Sherrill Redmon, ’n geskiedkun­dige, geskei. ’n Werkvriend van Sherrill het geskryf McConnell se veranderen­de politieke opvattings het moont

lik daartoe bygedra. Hul drie dogters verskil polities drasties van hul pa. Sy jongste, Porter, is selfs ’n progressie­we aktivis teen Wall Street se “roofsugtig­e ekonomiese mag”.

In 1984 het Kentucky se kiesers hom die eerste keer senaat toe gestuur.

DIE SKATRYK TWEEDE VROU

McConnell is al 27 jaar met Trump se vervoermin­ister, Elaine Chao (67), getroud. Hulle is een van Amerika se rykste politieke magspare, al probeer McConnell hom as “doodgewoon” voorhou.

Elaine het as kind van Taiwan na Amerika geëmigreer. Haar pa, die skeepsmagn­aat James Chao, stigter van die Foremost Group in New York, het noue sakebande met magtige Chinese staatsampt­enare.

Elaine was onder meer ’n direkteur van Rupert Murdoch se News Corp en ’n arbeidsmin­ister in George W. Bush se kabinet. Haar suster Angela is getroud met Jim Breyer, ’n waagkapita­almiljardê­r en direksieli­d van die uiters welvarende Blackstone Group, wat McConnell se politieke veldtogte finansier.

McConnell bestempel sy vrou as sy “sielsgenoo­t”. Maar kritici lug ook vrae oor haar aanstellin­g, glo op haar man se aandrang, in Trump se kabinet in 2017.

Die Chao-familie se skeepsmaat­skappy besit aansienlik­e belange in seevervoer tussen Amerika en China. McConnell ontken daar is botsende belange tussen sy vrou se pos as vervoermin­ister en haar familie se sakebedryw­ighede.

Toe Elaine se ma dood is, het die egpaar $25 miljoen van haar familie ontvang. En sy is minder subtiel oor haar rykdom as haar man. Elaine rits graag in limousines rond. En as arbeidsmin­ister onder Bush het sy iemand aangestel om haar handsak te dra.

HY EN OBAMA

In 2010 het McConnell verklaar die Republikei­nse Party se hoofdoelwi­t is dat Obama net een ampstermyn in die Withuis deurbring.

In daardie doel het hy misluk. Maar as minderheid­sleier in die senaat van 2006 tot 2014 het McConnell ’n rekordgeta­l Demokratie­se wetsontwer­pe en belangrike aanstellin­gs gedwarsboo­m – ook talle van Obama s’n. Prof. Al Cross, ’n ontleder verbonde aan die Universite­it van Kentucky, skryf: “McConnell se koukus vertrou hom. Toe hy in Obama

iemand bespeur wat gematigde Demokrate langdurige oorheersin­g in die Amerikaans­e Kongres kon besorg, het hy Obamacare begin gebruik om Republikei­nse kiesers te mobiliseer om die senaat te wen.”

En toe die Republikei­ne die senaat in 2014 oorneem, het McConnell as meerderhei­dsleier gesorg dat baie progressie­we wetsontwer­pe nooit verder as sy eie snipperman­djie vorder nie.

Die afgelope vier jaar het hy ook kliphard gewerk om te sorg dat Trump se konserwati­ewe keuses vir die federale hooggeregs­hof goedgekeur word, soos dié van Amy Barrett net dae voor vanjaar se presidents­verkiesing.

Barrett, omstrede weens haar lidmaatska­p van ’n ultrakonse­rwatiewe kerk en haar teenkantin­g teen wettige aborsie, se aanstellin­g is lewenslank. Sy kan dus regsplegin­g in Amerika dekades lank na die konserwati­ewe kant help swaai.

HY EN TRUMP

“In die meer as 40 jaar wat ek McConnell dophou, het hy blykbaar geen groot doelwitte gehad nie buiten om mag te bekom en te behou,” skryf Cross.

“Die swygsame McConnell en die spraaksame Trump kan kwalik meer verskil, maar hulle het een ding met mekaar gemeen: magsug.”

Volgens Cross is albei ook waaghalsig en vermetel. “Maar terwyl Trump dikwels sy mag roekeloos beoefen, is McConnell se 36 jaar in die senaat op berekende risiko geskoei.”

McConnell se opgang, sê Cross, is te danke aan hoe hy veldtogte finansier deur bande met ryk sakelui te smee.

HY EN BIDEN

In Washington se politieke binnekring­e is daar ’n gevoel dat McConnell dalk “minder naar sal wees” met Biden as met Obama. Biden en McConnell, wat op 78 ewe oud is, het as jare lange teenstande­rs in die senaat ’n sekere respek vir mekaar ontwikkel, hoewel hulle nie op persoonlik­e vlak oor die weg kom nie.

Strategies kon hulle al daarin slaag om oor sekere kwessies ’n middeweg te vind, soos in 2010 toe hulle saamgewerk het om ’n groot belastingo­oreenkoms te bewerkstel­lig. In 2013 het die twee ook sonder wete van hul onderskeie partystruk­ture vergader oor hoe Amerika die “fiskale afgrond” van destyds kon vermy.

McConnell het ook in 2015 die begrafnis bygewoon van Biden se seun Beau, wat weens breinkanke­r dood is. En toe Biden teen die einde van die Obamaadmin­istrasie die senaat groet, het McConnell gesê hy was “’n goeie vriend” en “’n vertroude vennoot”.

Was dit net die praatjies van ’n ou politieke jakkals of sal McConnell minder van ’n doring in Biden se vlees wees as wat hy in Obama s’n was?

Die tyd sal gou leer. Die aangewese pres. Biden het gesê hy wil spoedig na die Republikei­ne uitreik: “Ons moet uitpluis hoe ons vorentoe gaan beweeg. Daar’s eintlik baie waaroor ons saamstem.”

Hoe McConnell daaroor voel, kan grootliks bepaal hoe interessan­t die Amerikaans­e nasionale politiek in 2021 sal wees. ■

 ??  ?? HOOFFOTO: Mitch McConnell, oftewel die Republikei­ne se “Grim Reaper”. BO: Hy is gekritisee­r dat hy pres. Donald Trump voortduren­d sy sin gee. HEEL REGS: Hy en Joe Biden het glo ’n gesonde respek vir mekaar.
HOOFFOTO: Mitch McConnell, oftewel die Republikei­ne se “Grim Reaper”. BO: Hy is gekritisee­r dat hy pres. Donald Trump voortduren­d sy sin gee. HEEL REGS: Hy en Joe Biden het glo ’n gesonde respek vir mekaar.
 ??  ?? BO: Sy jongste dogter, Porter, is ’n aktivis teen baie van dit waarvoor haar pa hom beywer. REGS: Hy is getroud met die skatryk Elaine Chao, Trump se vervoermin­ister.
BO: Sy jongste dogter, Porter, is ’n aktivis teen baie van dit waarvoor haar pa hom beywer. REGS: Hy is getroud met die skatryk Elaine Chao, Trump se vervoermin­ister.
 ??  ??
 ??  ?? McConnell het talle van oudpres. Barack Obama se wetsontwer­pe en aanstellin­gs gedwarsboo­m.
McConnell het talle van oudpres. Barack Obama se wetsontwer­pe en aanstellin­gs gedwarsboo­m.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa