Huisgenoot

Kwekerykur­ator werk én leef in die veld

-

PIETER VAN WYK (32), KWEKERYKUR­ATOR

Y OUERS sê ek is gemaak op Alexanderb­aai,

ek is gebore op Port Nolloth. Daar was nie ’n dokter daar nie, so hulle moes deurjaag soontoe. Ek het grootgewor­d in die Richtersve­ldomgewing. As kind was ek gereeld in die veld – óf saam met my ouers, óf alleen.

Ons het primitief gaan kamp. My ma het streepsakk­e aan mekaar vasgewerk en ons eie tent daarmee gemaak. Ons het as gesin onder die tentsakke tussen die duine geslaap. Soggens het ons in die veld gaan stap. Ons het gesê ons lees die koerant, want ons het gekyk watse spore daar in die sand is en wat in die nag gebeur het.

Ek is die jongste van vier kinders. Almal van ons is baie lief vir die veld. My ma was ’n goeie spoorsnyer en my pa, oorspronkl­ik van Worcester, het vir 41 jaar vir die myn op Alexanderb­aai gewerk. Dis hoe hy my ma ontmoet het. My ma se familie is oorspronkl­ik van die Richtersve­ld van die begin van die 1800’s af. My ouma Nellie kon vlot Namataal praat en het ’n verskrikli­ke liefde vir die Namamense gehad. Die Namamense het my die naam “‡khubu-rub”, wat “mier” beteken, gegee, want hulle het gesê ek is soos ’n mier wat nooit stilsit nie.

My ouma se bynaam was “Vloeknelli­e”. Sy het een glasoog gehad, en toe ek klein was en sy was skottelgoe­d, het sy die glasoog op die wasbak neergesit, dan draai sy dit na my kant toe en sê vir my: “Ek hou jou dop.” Ek was so bang en wou niks verkeerd doen nie. Haar plaas, Kort

doring, was net so buitekant Alexanderb­aai. Sy was baie lief vir dans. Saans het sy die langspeelp­laat gaan uithaal en plat skoene met houthakke aangetrek, dan het ons geweet hier gaan nou gedans word.

En sy het nie ’n Huisgenoot gemis nie. Toe sy in 2003 gesterf het, het ons haar huis op haar plaas gaan skoonmaak en ’n Huisgenoot van 1948 in die huis gekry. Sy het altyd gesê as sy die dag doodgaan, gaan niemand in haar huis kom bly nie, want sy gaan vir hulle ry. Die plaashuis staan tot vandag toe leeg, want almal wat daar kom, sê hulle hoor potte en panne en dit ruik na Vicks. As ons by haar op die plaas gekuier het, was ons elke aand met Vicks uitgesmeer van op die bors tot onder die voete.

Ek het kaalvoet grootgewor­d. Ek het skoene gehaat, maar die skool het my geforseer om dit te dra. Ek het die eerste keer regtig diep in plante gegaan toe ek op ’n skool-trip was. Ek was 11 jaar oud. Daar was ’n bos wat ek baie goed geken het, want my ouma het elke dag die gom van dié bos met water gemeng en dit gedrink, en sy het gesê sy het nooit aambeie gekry nie. Ons het dit die bubblegum-bos genoem en dié gids-oom het vir ons die bos se wetenskapl­ike naam gegee – ek het gedink die oom lieg vir ons. Maar toe hy sê dit is die wetenskapl­ike naam, was ek baie geïnteress­eerd en wou meer weet.

Toe ek 14 jaar oud was, het ’n tannie by die museum op Alexanderb­aai my gevra om ’n uitbeeldin­gstuintjie by die museum te kom maak omdat sy gesien het ek is so lief vir die veld en dat ek vir sakgeld vir mense tuine gemaak het.

Sy het ’n graad in plantkunde en het my begin geleer van die klassifise­ring van plante, en op daai oomblik het ek gedink: Dis wat ek wil doen, en ek wil ’n boek skryf oor die plante van die Richtersve­ld.

Ek het daardie jaar begin skryf aan my boek. Ek het ’n 2-megapixel-Canon-kamera gehad en ’n notaboekie. As my ouers Port Nolloth of Springbok toe is vir inkopies, het hulle my langs die pad afgelaai om my rondtes in die veld te doen. Hulle het my dan kom optel as hulle teruggekom het.

Ek het elke dag ná skool veld toe gestap. Ek het in my matriekjaa­r my eerste selfoon gekry. Ek haat selfone, maar moes een kry, want ek het soms so ver in die veld geloop dat ek my ma moes bel om my te kom haal sodat die donkerte my nie vang nie.

As dinge te druk op skool gegaan het, is ek veld toe. Dit was my ontsnappin­g. Dit was my kerk gewees. Ek gaan baiekeer steeds vir twee tot drie weke, dan bly ek alleen in die berge vir opnames. Ek gaan vir weke sonder om my eie of ander mense se stemme te hoor.

Ek is disleksies en kon op skool nie spel nie, en ek sukkel nou nog. Maar ek kon altyd die Griekse en Latynse name van die plante hier gesnap het.

Ná skool het ek deur Unisa met ’n hoë sertifikaa­t in lewens- en omgewingsw­etenskap begin. Ongeloofli­k, ek het beter daar gedoen as op skool. My liefde vir plante het my beslis gemotiveer.

Ek’t aangehou met die boek waarmee ek begin het toe ek 14 jaar oud was. Die veldblomgi­ds is nou in sy finale redigering.

In 2010 het ek sendingwer­k in Angola gaan doen. Ek het by ’n skool daar getutor en vir ou mense in die gemeenskap groentetui­ne gemaak. Toe ek terug Suid-Afrika toe kom, het ek nie geweet wat ek gaan doen nie. Dit het my ’n halwe jaar gevat om net weer normaal Afrikaans te praat. Toe ek terugkom, het my ma vir my gesê daar is ’n kontrakwer­k by die Richtersve­ld Nasionale Park. Ek het vir sewe maande in ’n tent gebly en ek was heel gelukkig; ek kort nie luukshede nie. Ek is later as kwekeryass­istent aangestel en in 2015 was die kwekery heeltemal operasione­el. Ek het met tyd ’n ongeloofli­ke span gekry en hulle is my regter- en linkerhand.

Sedert ek werk vir Sanparke het ek al 25 nuwe plantspesi­es ontdek. Ek’t onlangs weer ’n nuwe spesie ontdek.

Dié Vrydag het ek die berg wat ek al vir sewe jaar dophou, gaan klim, toe iets my oog vang. Dit het bo die res van die habitat uitgestaan. Ek het net geweet dis ’n enorme ontdekking. Ek gaan hom vernoem na die Richtersve­ld.

Vandat ek 14 jaar oud was, het ek 25 000 foto’s van plante in die Richtersve­ld geneem, en as ek nou na ’n foto kyk, sal ek jou kan sê watter plant dit is, sy wetenskapl­ike naam en waar ek dit geneem het. Dis soos ’n nuwe taal wat ek geleer het. Ek was 11 jaar oud toe ek my eerste nuwe spesie ontdek het, maar ek het eers toe ek 22 jaar oud was, uitgevind dis nuut toe ek my versamelin­g na die herbarium gevat het.

Ek was al van kant tot kant op elke berg in die Richtersve­ld, so toe ek onlangs voor dié plant staan, het ek net geweet wat ek voor my sien, is nie in literatuur nie. Ek het nog nooit iets so vreemd gesien nie. Die grootheid daarvan, sy enkele stam en dat hy staan in die droogste en warmste deel van die park. Die nuwe spesie vertak min en hy het enorme groot blare.

Die Richtersve­ld is ’n ongeloofli­ke plek – dis net elke keer ’n wow. Baie Afrikaplan­tspesies groei in die Richtersve­ld. Dis half ironies, want dis ’n woestyn. Hier is byna niks en dis droog, maar sy plantlewe is divers.

Dis ’n jammerte ouma Nellie sien nie wat ek als in my loopbaan bereik het nie. Sy was ’n ongeloofli­ke karakter. Dis hoekom ek so lief is vir die ou Namamense, hulle laat my altyd aan my ouma dink. Hulle het ’n sêding: Dis ’n swaarkryle­we, maar dis ’n lekker lewe. Die manier hoe hulle in die veld grootgewor­d het, die afhanklikh­eid van die veld en reën, is ’n swaarkryle­we, maar dis ’n goeie lewe. ■

‘Die Richtersve­ld is ’n ongeloofli­ke plek – dis net elke keer ’n wow’

 ??  ?? HOOFFOTO Die kwekerykur­ator Pieter van Wyk is van kleintyd af lief vir die Richtersve­ld, die plante en sy mense.
HOOFFOTO Die kwekerykur­ator Pieter van Wyk is van kleintyd af lief vir die Richtersve­ld, die plante en sy mense.
 ??  ??
 ??  ?? BO: Pieter se Namanaam is ‘‡khubu-rub’, wat ‘mier’ beteken. ONDER: Saam met sy ma, Sussie van Wyk, in die Krugerwild­tuin.
BO: Pieter se Namanaam is ‘‡khubu-rub’, wat ‘mier’ beteken. ONDER: Saam met sy ma, Sussie van Wyk, in die Krugerwild­tuin.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa