Huisgenoot

Kortverhaa­l: “Bokveld toe”

-

VERMAAK

FIKSIE

Sy gryp die 4x4 se sleutels en stap uit. Dis ’n pikswart nag. Selfs die maan weet om weg te kruip. Aangevuur deur haar irritasie ry sy by die werf uit en let nie op dat sy nie by dieselfde hek uitry as waarby sy vanmiddag ingekom het nie. Die grondpad is vol draaie en diep dongas. Die 4x4 tref elke nou en dan ’n gat diep genoeg om haar te laat hik van die harde stamp.

Skielik val die voertuigli­gte op ’n bok in die pad reg voor haar en sy ruk instinktie­f die stuurwiel kant toe. Die motor kantel gevaarlik en sy probeer die stuurwiel na die ander kant draai, maar dis ’n fout. Sy verloor alle beheer oor die voertuig. Dit slaan om en om bollemakie­sie.

Haar laaste gedagte voor sy haar bewussyn verloor, is: Jacques gaan kwaad wees . . .

Jacques kom eers ná middernag by die huis aan. Hulle het twee van die veediewe vasgetrek, maar moes lank wag vir die polisie om van die dorp af uit te ry plaas toe. Jan van langsaan glo daar was nog ouens, maar hulle kon niks verder uitrig nie.

Jacques is verbaas dat Lisa al gaan slaap het. Hy het verwag dat sy hom sou

inwag en ’n hele speech gee oor mans wat dink hulle is beter as vroue, ensovoorts, ensovoorts. Hy het mos gesien hoe wip sy haar vroeër vanaand vir hom. Lisa, sy suster. Die feminis. Hy gaan stort toe maar en kruip onder sy komberse in.

DRUP, drup, drup. Die bloed gly teen die lem af en drupdrup op die harde grond. Hy kyk na sy handewerk. Neem die lewelose liggaam in. Hy draai om . . . nou vir die res van die plan. Lisa se eerste gedagte toe sy bykom, is aan die bok. Dan voel sy arms wat haar uit die motor lig. Sy dink eers dis Jacques, maar kom dan agter die man is veel groter as haar broer. Sterker. In die donker kan sy die buitelyne van ’n baard uitmaak, maar sy gesig bly in die skaduwee. Hy help haar amper hardhandig tot op die gras en begin sowaar haar enkels en hande vasbind. Wat op aarde!

Sy spartel vir al wat sy werd is, maar sy is nog swak en in skok ná die ongeluk. Haar hele lyf pyn. Die man vloek. Die vrou baklei soos ’n wilde kat. Toe hy haar klaar vasgebind het, begin hy ’n vuurtjie maak.

Die veedief. “Ek . . . ek sal vir niemand iets sê nie,” begin sy. “Ons kan ’n plan maak. My broer . . . ”

“Stil!” beveel hy kwaai genoeg dat sy heeltemal teen haar geaardheid in maar eerder stilbly.

“Vanaand kom jou streke tot ’n einde,” gryns hy en vee oor sy baard. Hy gaan sit en vee stadig ’n bloedbesme­erde mes skoon.

Jacques skrik wakker nadat hy ingesluime­r het en stap na Lisa se kamer om te loer of sy nog wakker is. Die bed is leeg. En in die kombuis sien hy haar 4x4 se sleutels is nie op die hakkie nie. Hy probeer Jan bel, maar sy buurman se foon is af. Die man se battery is ook altyd pap. Hy sal Jan gaan haal. Sy plaas is naby.

DIE man sit die mes langs hom neer en sit gemaklik terug asof hy regmaak vir ’n lang wag. Lisa kan sien hy is moeg, en dis ook nie lank nie voor hy begin insluimer. Sy sien geen ander uitweg nie en begin stadig nader aan die man seil. Haar lyf protesteer, maar met haar oog op die mes byt sy vas en bly beweeg. Eindelik is sy binne bereik. Die man beweeg en Lisa onderdruk ’n gil. Sy verstil; hou op asemhaal. Dan kreun hy en slaap rustig verder. Sy begin die toue heen en weer oor die mes beweeg.

Wat soos ’n ewigheid later voel, begin die toue skiet gee. Sy maak die laaste van die toue los en beweeg dan so vinnig as wat sy kan die bosse in. As sy hierdeur beweeg, behoort sy die hoofpad te kan bereik.

Jacques hamer aan die voordeur. “Jan, Jan, kom help! My suster is weg.”

Jan ruk die voordeur oop. “Ek het haar gehad, Jacques. Die klein feeks. Ek moes die arme bok slag. Haar hell driving agter ons vee aan het ’n pragtige bok sy lewe gekos.” Hy vryf oor sy baard soos sy gewoonte is wanneer hy ontsteld is.

“Waarvan praat jy, Jan?” wil Jacques weet. “Ek het jou kom haal om te help soek na my suster. Sy is weg met die 4x4 en ken glad nie die paaie nie.”

“Die leier van die veediewe, man,” antwoord Jan. “Klaas van die polisie het laat weet die manne het gesing soos kanaries. Die ringleier is ’n donkerkopv­rou met die naam Eloise. Ek het haar gehad, maar toe neem sekuriteit so lank om te kom en sy ontsnap.”

Jacques kreun. “Jan, dis die vrou, Eloise. Die een wat ek vandag die kampe gaan wys het.” Hy slaan met sy vuis in sy ander hand. “Hoe kon ek so dom wees? Gee my vee op ’n silwerskin­kbord vir haar.”

“Jy kon dit mos nie weet nie, Jacques. Sy is deksels mooi. Sulke vroue ken van manipuleer,” paai Jan. “Jy sê jou suster is weg? Ons kan sekuriteit mos vra om te help soek. Laat hulle noord soek, dan ry ons suid, dam se kant toe. Ek kry net my flits.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa