Ontmoet die manne van Wit Kasteel
Die vierstuks se storievertelalbum sal ouskool rockers die ore laat spits
Iets vir almal
Liefhebbers van rou, klassieke rockmusiek sal regop sit wanneer hulle dié groep die eerste keer hoor.
Op hul tweede album, Toegewyd, draai Wit Kasteel die krane hard oop in liedjies soos “Bloedoog bottelboer” en “Laaste keer”. Maar dan temper hulle dit weer in ’n snit soos “Elke mens”.
“Ons het met die liedjiesamestelling die musiek en die tempo doelbewus divers gehou,” verduidelik die groep se hoofsanger en kitaarspeler, Clemond Dartnall.
“Die lirieke speel ook ’n belangrike rol, want elke liedjie vertel sy eie verhaal.”
SPEELLYS
MUSIEK
“Herinnering” vertel byvoorbeeld die storie van ’n vrou wat in ’n motorongeluk sterf ná die beëindiging van haar verhouding. In “Gee my dorp terug” kom nostalgie sterk na vore wanneer hulle sing van hul jongmenskuierdae in Hatfield, Pretoria.
Benewens nege oorspronklike liedjies druk hulle ook ’n unieke stempel af op drie goue oues wat nou ’n nuwe klank gekry het.
Dit is veral hul rockweergawe van David Kramer se treffer “Meisie sonder sokkies” wat ’n groot verrassing is. Die ikoniese “House of the Rising Sun” en “Great Balls of Fire” is ook ingesluit.
Ontmoet die manne
Die baskitaarspeler en sanger Reinard Kruger en die tromspeler Waldemar Behr het in 2005 saam met Clemond aan die Hoërskool Waterkloof in Pretoria gematrikuleer met groot drome om eendag deel van ’n rockgroep te wees. Teen 2012 het hulle in die garage van Waldemar se ouerhuis begin oefen, vertel Clemond.
Drie jaar later het hul debuutalbum met hul naam as titel verskyn. Dis vir ’n Ghoema vir beste rockalbum benoem. In 2017 het die hoofkitaarspeler, Ernst Nieuwoudt, van die Bolandse dorp Paarl, by die groep aangesluit. Nou is die vierstuks se tweede album hier.
WARE NOORD, OM WEER TE DROOM Deur ELSA WINCKLER (Lapa,
R135* R148*) “Ware noord en Om weer te droom – oor die Vosen Breedt-gesinne – was uit druk en soveel lesers het na nog eksemplare gesoek. Ek was dankbaar toe Lapa instem om dit weer uit te gee,” vertel Elsa Winckler.
“Ek het nie destyds beplan om oor die dood te skryf nie. My opdrag was om ’n storie van hoop te skryf, ’n liefdesverhaal met die fokus op die geestelike groei van die karakters. Die gedagte het eers posgevat toe ek begin skryf het. En eers toe ek klaar was met die opvolgstorie, Om weer te droom, het ek besef al die navorsing wat ek gedoen het oor die invloed van ’n sib se dood op ’n gesin, was ook terapie vir myself. Ons oudste boetie is op sy sesde verjaardag oorlede, en dit het die dinamika in ons gesin vir altyd verander – iets wat ek regtig eers verstaan het ná die skryf van hierdie stories.”
Elsa vertel in ’n neutedop waaroor haar twee heerlike liefdesverhale gaan:
“Lizet Vos besluit om ná haar suster, Marina, se dood alles op haar sus se bucket-lysie te doen. Sy skuif haar eie drome op die agtergrond, maar toe haar broer, Evan, met Anya Breedt trou, raak hul families se lewe verstrengel en word Anya se broer, Stephen, en sy dogtertjie deel van hul familiekuiers.
“In Ware noord speel Evan Vos rugby vir die universiteit se eerste span en is daar altyd ’n meisie aan sy arm. Dan word hy beseer en begin hy sy pa by sy bouonderneming help. Hulle moet die Metodistekerk restoureer, en sy pa stuur Evan om die argitek te ontmoet. Toe sy op haar hemelhoë hakke ingestap kom, is hy dadelik tot haar aangetrokke, maar met sy bagasie is hy nie gereed vir ’n verhouding nie.” ■