FAMILIE LÊ OP HAAR NEK
My ouers is al ’n hele klompie jaar elke dag by my huis. Hulle het baie gehelp toe die kinders klein was, maar ons kan nou nie meer vir hulle en my werklose suster sorg nie. My ouers het ’n inkomste, maar ek moet in al hul behoeftes voorsien. Ons het geen privaatheid nie, want daar word in ons dinge gekrap. Ek het vir hulle gesê ons sit al diep in die skuld omdat ons vir almal moet sorg. Toe word ek soos ’n hond uitgeskel. My man is keelvol. Hulle luister eenvoudig nie wanneer ek praat nie.
B op B
Vir familielede wat al daaraan gewoond is om ’n mens uit te buit, moet jy baie streng grense stel. Sonder gesonde perke kan wrokke vorm waardeur verhoudings benadeel word.
Afgesien daarvan dat julle reeds in die rooi is, verhoed die finansiële eise wat hulle aan julle stel dat julle vir jul eie goue jare of vir jul kinders se verdere studie kan voorsiening maak.
Om ’n gewoonte te omvorm wat oor soveel jare posgevat het, sal tyd neem. Dis beter om geleidelik daaraan te werk om eindelik jul doelwit te bereik – jou familie wat hul eie potjie krap.
Dit sal goed wees as jy en jou man dit saam op ’n familievergadering aan hulle oordra. Sorg dat julle jul skietgoed reg het:
■ Stel ’n begroting op en wys vir hulle hoeveel dit julle maandeliks kos om hulle te onderhou (sluit kontantstrokies in).
■ Sê julle is dankbaar vir hul hulp in die verlede met die kinders, maar dat die kinders nou smiddae op hul huiswerk moet konsentreer en geen gaste dan welkom is nie.
■ Sê ook omdat jul privaatheid al dikwels geskend is, julle nou slotte aan jul kaste, ook die kombuiskaste, gaan aanbring.
■ Stel dit duidelik dat kos net tydens kuiers voorgesit sal word, mits hulle ook ’n gereg saambring. So nie, is dit net ’n koffiekuier.
■ Noem ook dat daar van besoekers verwag word om met take soos skottelgoed was te help. ■ Bied aan om jou suster te help om om ’n werkloosheidstoelae aansoek te doen.