Huisgenoot

Emsie Schoeman op 86 weer alleen

Haar derde huwelik is op die rotse en haar hart gebreek, maar tannie Emsie glo steeds in die liefde

-

MET die vingers van haar regterhand draai sy die twee fyn goue pande met diamante wat sy steeds aan haar ringvinger dra stadig om en om. Al is haar derde huwelik op die rotse, het Emsie Schoeman daarteen besluit om dié ringe af te haal wat haar vervreemde man met hul verlowing en later hul troue in Mei 2015 aan haar vinger gesteek het.

Op daardie droomdag in ’n klein NG kerk-saaltjie op die skilderagt­ige dorpie Wildernis in die Suid-Kaap was sy op 81 weer ’n bruid en het sy en haar 82-jarige bruidegom voor hul kinders, kleinkinde­rs, familie en vriende trou beloof tot die dood hul skei.

Maar die afgelope ses maande al is Suid-Afrika se geliefde etiketghoe­roe alleen hier in die meenthuis in Olivedale, Johannesbu­rg, waar sy ná hul troue by hom kom intrek het. Hy is ’n regsgeleer­de van Johannesbu­rg, maar Emsie (87) verkies om nie sy naam te noem nie uit respek vir sy privaathei­d.

“Hy het net gesê hy gaan die naweek na sy dogter toe en het besluit hy kom nie terug nie,” vertel sy.

Haar gesig vertrek van emosie waar sy op ’n groot turkoois rusbank sit, met ’n versamelin­g olieverfsk­ilderye in vergulde rame agter haar teen die muur. Dit het haar maande geneem om die aanvanklik­e skok en hartseer te verwerk voor sy nou die eerste keer openhartig daaroor kan praat.

“Ek was heeltemal uit die veld geslaan. Ek het geweet dit gaan nie goed met ons nie, maar dít . . . ?”

Om en om draai sy die ringe om haar vinger.

“En toe is hy weg . . . My hart was gebreek.”

VIR ’n oomblik staar Emsie voor haar uit, asof sy nie die enorme boekrak voor haar raaksien nie. Op ’n rak by verskeie Suid-Afrikaanse boeke pryk ’n foto van haar en haar derde man op die troudag van een van hul kinders.

Dit was ’n liefdesver­haal wat enigeen kon laat glo dat romanse geen ouderdom ken nie en dat ware liefde jou steeds kan vind – selfs ná 80.

Vyftien maande lank het ’n ou vriend uit haar studenteda­e, wat sy in 2013 weer by ’n reünie raakgeloop het, haar die hof gemaak. Hy het haar elke dag gebel en vir haar kleurvolle bosse blomme by haar huis op Wildernis laat aflewer.

Soms het hy tot 19 keer per dag vir haar selfoonboo­dskappe gestuur, vir haar liefdeslie­dere oor die telefoon gesing en vir haar Duitse gedigte van Johann Wolfgang von Goethe en Friedrich Schiller voorgelees.

Daarmee het hy haar teruggevoe­r na die sorgelose dae toe hulle saam aan die Universite­it van Pretoria Duits as vak geneem het. Destyds was hulle boesemvrie­nde, maar die liefde het eers met hul herontmoet­ing 60 jaar later vir hulle begin blom.

Hy was geskei en die pa van ses kinders, en Emsie, toe reeds twee keer geskei, die ma van drie seuns. Twee van haar seuns is intussen oorlede.

“By die reünie het hy vir my sy nommer

gegee. Ek onthou ek het gedink: Nou wat moet ek daarmee doen? Ek is baie gelukkig alleen,” vertel sy.

Maar gou het hy Emsie oorval met blomme en boodskappe.

“Hy het aangehou en aangehou. Hy het gesê hy het 60 jaar vir my gewag, en het my sewe keer gevra om te trou.”

Voorheen sou sy heerlik gelag het wanneer sy dié storie vertel, maar hierdie keer is dinge anders . . .

“Die kinders het aanhou sê ons moet trou, want ons is al oud. En toe sê ek maar ja.”

Sy sug saggies.

“My lewe het heeltemal verander.” Ná 13 gelukkige jare op Wildernis moes sy sak en pak Johannesbu­rg toe trek.

“Aan die begin was dit vreeslik moeilik vir my om hier in die stad aan te pas,” erken sy. “En skielik moes ek weer vir ’n man kook. Ek het al die jare net vir myself kos gemaak – groente, vrugte, vis en hoender. Nou moes ek steak, mielies en pampoen kook, kos wat ek nie meer gewoond was om te maak nie.”

Volgens haar het alles ná die troue verander. Emsie se vervreemde man, wat in regskringe wyd bekend is, het steeds ’n praktyk in Johannesbu­rg.

“Soggens is hy vroeg, so negeuur, uit die huis, en saans het hy agtuur teruggekom.

“Dan het ek vir hom gewag en die motorhuis se deur vir hom oopgemaak. Ek het elke aand vir hom ’n driegangma­altyd voorgesit. Ons het dan voor die televisie gaan sit en eet om sy sport te kyk.

“Ek het vir ons huwelik geleef. Ek het besluit ek móét my huwelik maak werk en het regtig my bes gegee.”

Vir ’n oomblik wel trane in haar helder oë op. Sy lig haar brilraam vinnig op en vee haar oë af.

“Hy het gesê ek het verander sedert universite­it. En ek hét,” gee sy toe. “’n Mens word mos ouer en wyser en is nie meer so sorgeloos soos jy in daardie dae was nie.”

Ná ’n ruk staan sy op en loop vinnig kombuis toe. Sy staan by die yskas en sê beslis: “’n Mens moenie so oud trou nie. Op daardie ouderdom is albei reeds gevestig in hul eie gewoontes en eie manier van dinge doen. Dit is dan moeilik om by mekaar aan te pas.”

Sy haal ’n fles vol vrugtesap en glase uit. Langs haar teen die gangmuur hang ’n enorme selfportre­t

Suid-Afrika se etiketkoni­ngin, Emsie Schoeman, se derde huwelik, met haar regsgeleer­de man van Johannesbu­rg, is ná vyf jaar op die rotse.

van haar vervreemde man.

“Ek is nie meer so hartseer nie; ek is nou net teleurgest­eld, want dinge moes nie so uitgewerk het nie,” sê sy.

“Dit was ’n fout. Ek het weer eens die verkeerde man gekies.”

DIT is tyd vir middagete en oudergewoo­nte bederf sy haar gaste met ’n deftige ete, want “sekere dinge verander nooit nie”. Emsie gaan by die etenstafel sit en maak ’n lapservet op haar skoot oop. Die geur van gebakte vis en aartappel, appelkose en roomkaas vul die vertrek.

’n Week tevore het sy besluit sy gaan haar situasie aanvaar en kom wat wil, hier in Johannesbu­rg sál sy gelukkig wees.

Sy sien nie kans vir ’n groot trek terug Wildernis toe nie.

“Hier sal ek doodgaan. My lieflike seun bly hier naby en hierdie aftreeoord is wonderlik. Ek voel veilig hier,” sê sy met ’n tikkie hoop in haar stem.

“Ek is so dankbaar vir die mooi herinnerin­gs wat ek het. Ek het ’n vol lewe gehad. Hierdie huwelik was maar ’n baie klein deeltjie daarvan.”

Sy werk nou aan ’n outobiogra­fie nadat sy reeds nege boeke in haar leeftyd geskryf het.

Dan is daar nog die 30 geseënde jare van radiowerk en die tyd toe sy die land deurkruis en derduisend­e vroue toegespree­k het.

“Dit is hierdie herinnerin­gs wat my soms deurtrek, dat ek weet ek het iets vir vroue daar buite beteken,” sê sy.

“’n Vrou speel ’n sleutelrol in die familie en die samelewing. Sy moet nooit minderwaar­dig voel nie. En as sy in ’n slegte verhouding is, moet sy laat gaan.”

Ná drie huwelike, glo Emsie nog aan die liefde?

“Ja, ware liefde is moontlik,” sê sy. “Maar nie meer vir my nie, want waar gaan ek nou iemand kry wat my aanvaar vir wie ek is?”

Sy lag. “Ek sien nie weer kans vir ’n man nie.”

Weer ingedagte draai sy haar ringe om haar vinger. Vra jy haar daaroor, antwoord sy: “Ek is lief vir hierdie twee fyn ringetjies,” en sy kyk vir ’n oomblik af na haar hand.

“Ek dra dit nog, want ek wil wys ek is nie beskikbaar nie, al is ek nou alleen,” sê sy voor ons groet. Daardie aand bel Emsie my. “Mag ek iets vir jou lees?” vra sy. “Psalm 34 vers 19: Die Here is naby dié wat hartseer is. Hy help hulle wat geestelik stukkend is.

“God dra my deur al my seer,” voeg sy by. “En ek sien daarna uit om al my seuns eendag weer te sien.”

Dan, met die groetslag, sê sy: “Liefde-liefde.” Want ondanks alles bly sy in die liefde glo. ■

‘Ek het besluit ek moet my huwelik maak werk en het my bes gegee’

 ?? Deur JOANIE BERGH Foto's: FANI MAHUNTSI ??
Deur JOANIE BERGH Foto's: FANI MAHUNTSI
 ??  ?? Emsie dra steeds haar trouringe. Want hoewel sy alleen is, is sy nie nou beskikbaar nie.
Emsie dra steeds haar trouringe. Want hoewel sy alleen is, is sy nie nou beskikbaar nie.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa