Huisgenoot

700 kerse om meisie te vra omte kys

’n Boerseun van Jacobsdal wou ’n spesiale meisie vra om met hom te kys – toe spel hy sy liefdesboo­dskap uit met ’n ligskouspe­l op die skool se rugbyveld

-

HY’S dalk nie Hugh Grant nie, maar Herman Groenewald van Jacobsdal in die Vrystaat staan g’n duit terug vir enige Hollywood-hartebreke­r nie. En romkomdraa­iboekskryw­ers kan gerus ook maar by dié boerseun kom kers opsteek. Want toe Herman onlangs die liefdesvla­m in sy hart vir Madré Erasmus, ’n klasmaat van die Hoërskool Landboudal, voel brand, het hy besluit om dit vir haar te wys op ’n manier wat haar sal laat swymel. Hy wou haar vra om sy meisie te word, maar dit moes onvergeetl­ik wees, het hy besluit.

Die twee 16-jarige tieners het eintlik toe al ’n rukkie vir mekaar geloer en gesels. Algaande het die verliefde Herman besef hy wil meer as net vriende met die mooie Madré wees.

Maar hoe gemaak in hierdie era waar verhouding­s op WhatsApp en Instagram gemaak en verbreek word? So ’n kletskamer­kys was nie vir Herman nie.

“Sy is vir my baie spesiaal, en ek wou iets ouliks vir haar doen,” vertel Herman nou terwyl Madré onderlangs giggel.

“Ek was vasbeslote,” onthou hy hoe hy planne beraam het. “Ek het dit aanhou uitstel en uitstel, maar my vriende het my moed ingepraat. Dit was nou of nooit.”

Op 16 November het Herman in die Vrystaatse dorpie se algemene handelaar ingestap en al 700 kerse in die winkel gekoop.

Hy en sy groepie skoolvrien­de het daardie aand die kerse op die skool se rugbyveld gaan uitpak: ’n reusehart met die voorletter­s “H” en “M” in die middel daarvan.

“Dit was harde werk,” onthou Herman nou, en voeg dan inderhaas by: “Maar die moeite werd!”

En hoe dan anders? Want toe Madré deur skoolvrien­de “ontvoer”, na die rugbyveld gebring en deur die kersligsko­uspel verras is, het sy sonder huiwering geantwoord: “Ja.”

“Ek was nog nooit so bederf nie,” sê sy en glimlag. “Ek voel baie spesiaal.”

NES enige tiener is dié twee plaaskinde­rs teruggetro­kke en skaam wanneer ’n mens hulle oor hul verhouding pols, maar dis duidelik hulle het die skoot hoog deur. Die twee gr. 10’s ken mekaar sedert albei drie jaar gelede die Landboudal­kosskool begin bywoon het. Die piepklein dorpie Jacobsdal is in die Vrystaat, net sowat 15 km van die Noord-Kaapse grens. Herman se ouers boer buite Jacobsdal en Madré se ouers naby Postmasbur­g in die Noord-Kaap.

“Herman en een van my vriende van laerskool was kamermaats, en ek het hom so ontmoet,” vertel Madré.

“Ons het baie gou vriende geword en het ook later dieselfde vriendekri­ng gehad,” las Herman by.

Hul verhouding was eers platonies, maar Herman vertel hy het in die afgelope jaar “gevoelens” vir Madré begin ontwikkel.

“Baie van ons klasmaats het gedink ons is reeds gekys; dis hoe na aan mekaar ons twee is,” verduideli­k sy.

Herman vertel hy het nog altyd geweet hy wil eendag op ’n flambojant­e en romantiese manier sy meisie vra om met hom te kys.

“Ek het gereeld met my vriende daaroor gepraat. Ek het vir hulle gesê dat ek my eerste meisie met honderde kerse wil uitvra.”

Waar presies die idee vandaan kom, weet hy nie. “Ek is seker maar net ’n romantiese siel,” sê hy en lag skamerig.

Hy sê sy skoolvrien­de het hom nie gespot toe hy met hulle gedeel het hoe hy vir Madré die kys-jawoord wil vra nie. Trouens: “Ek het baie van my vriende geïnspiree­r; een van hulle wil nou ’n meisie voor die hele skool uitvra.”

Herman het die Maandag nadat hy en sy klasmaats eksamen geskryf het na die winkel op die dorp gegaan en hul hele voorraad lang wit kerse gekoop. Oor die 700 daarvan.

“Mense het my ’n bietjie vreemd aangekyk toe ek al die kerse koop. Hulle het seker gewonder: ‘Wat gaan in hierdie kind se kop aan?’ Hulle het seker gedink ek beplan om die skool af te brand!”

Hy en 13 van sy vriende is toe na die rugbyveld om die kerse uit te pak. Dit het hulle meer as vier uur geneem om te rangskik. “Daar was gelukkig nie ’n briesie in die lug nie en die kerse het nie doodgewaai nie.”

Toe kom die groot uitdaging om Madré na die rugbyveld te lok.

“Ek het gereël met die onderwyser wat

Herman en Madré sê hulle sien daarna uit om nou in die Desemberva­kansie as ’n paartjie saam te kuier. Daar is klaar gereël dat hulle by mekaar se ouerhuise gaan kuier.

BO: Herman het 13 vriende gekry om te help om die kerse te rangskik. LINKS: Hy en Madré het mekaar ontmoet toe hulle aan die Hoërskool Landboudal begin skoolgaan het. REGS: Hulle was goeie vriende en baie van hul skoolmaats het gedink hulle is klaar gekys.

by haar koshuis toesig hou dat Madré moet uitkom. Sy het gedink die onderwyser wil met haar oor iets praat, maar toe wag ons haar in en ontvoer haar met ’n sak oor haar kop.”

Madré giggel. “Hulle het my op ’n bakkie gelaai en ’n paar draaie met my gery om my deurmekaar te maak, maar teen hierdie tyd ken ek die skoolterre­in goed, en ek het presies geweet waarheen hulle my vat.”

Herman het haar toe aan haar hand na die ligskouspe­l gelei. Al sy helpers het stilletjie­s op die paviljoen gesit om die groot oomblik te aanskou.

“Hy het toe die sak van my kop afgehaal, en ek het amper omgeval . . . Honderde liggies oral! Ek was ’n bietjie geskok. Ek is nie aan al die aandag gewoond nie,” erken Madré.

En toe sak die tienerseun op een knie en vra: “Ek is nou nie die mooiste of die sterkste ou in die skool nie, maar sal jy my die gelukkigst­e ou in die skool maak en my meisie wees?”

Madré sê sy was uit die veld geslaan. “Ek het dadelik ja gesê. Ek kon in daardie stadium nie ophou lag nie.”

Daarna het al sy helpers, asook Madré se vriendinne, uit die donker gekom en die pas gekysdes gelukgewen­s.

Madré onthou: “My gesig was sowaar seer van al die glimlag.”

DIE twee loer heeltyd skelm vir mekaar terwyl hulle nou by die skool met Huisgenoot gesels. Minder as ’n maand ná die groot gebeure fladder die vlinders in hul maag nog mooi in lieflike formasie. En hoe vorentoe – sien hulle mekaar saam by hul matriekafs­keid?

“Jis, dit sal lekker wees, maar ons sal maar moet wag en kyk,” sê Herman. Madré bloos.

“Ek dink dit is nog baie vroeg om te kan sê waarheen die verhouding gaan, maar hy het my hart gesteel.”

Die twee het ook klaar planne gemaak om tydens die lang skoolvakan­sie oor en weer te kuier.

“Sy gaan die eerste week van die vakansie by my kom kuier, en ek gaan die tweede week van die vakansie vir haar op die plaas kuier,” sê Herman in sy skik.

Hul ouers keur die verhouding goed en is gereed om hul kinders se geliefde te verwelkom.

Madré terg dat die standaard nou hoog gestel is: Herman sal vorentoe moet uithaal en wys.

Dan glimlag hy weer met oë wat blink. En hy laat hoor, soos net ’n verliefde tiener kan: “Ek het darem nog so ’n paar idees. Ek wil hulle nie nou verklap nie, maar sy moet maar wag en sien.” ■

‘Ek is seker maar net ’n romantiese siel’

 ??  ?? Deur JACQUES MYBURGH Foto's: ONKGOPOTSE KOLOTI
Herman Groenewald het sy oog op Madré Erasmus, ’n klasmaat van hom, gehad, toe besluit hy om sy lyf Hugh Grant te hou en haar die kys te vra deur haar voete onder haar uit te slaan.
Deur JACQUES MYBURGH Foto's: ONKGOPOTSE KOLOTI Herman Groenewald het sy oog op Madré Erasmus, ’n klasmaat van hom, gehad, toe besluit hy om sy lyf Hugh Grant te hou en haar die kys te vra deur haar voete onder haar uit te slaan.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa