Marlene le Roux se veggees inspireer
Marlene le Roux se veggees maak haar voor én agter die skerms ’n inspirasie Deur CHARLEA SIEBERHAGEN-GREY Foto’s: JACQUES STANDER
DIT was ’n geskarrel soos min. Terwyl die meeste Suid-Afrikaners paniekerig begin het om hul koskaste aan te vul, het die nuus van die inperking vir Marlene le Roux heel ander uitdagings ingehou. As uitvoerende hoof van die Kunstekaapteater in Kaapstad moes sy skielik produksies begin uitstel – en nie plaaslike skooltoneelstukke nie, maar groot internasionale produksies.
“Ek het twee weke lank amper nie geslaap nie, want ek moes vervaardigers bel,” vertel sy. “Nieu-Seeland toe, Australië toe, die Russiese balletgeselskap wat veronderstel was om hierheen te kom, New York toe . . .”
Sy moes aan die vervaardigers van die produksies verduidelik dat die teater weens die pandemie tydelik sluit, vertel Marlene (53) in haar huis in die noordelike voorstede van Kaapstad.
Sy en haar span moes vinnig koppe bymekaarsit. En toe spring dié planmaker weg. Sy het bedryfspraktyke vir teaters uitgewerk sodat hulle regstreekse uitsendings op die internet kan doen “sodat ons kunstenaars kan inkry, sodat hulle net ’n plék kan hê”, onthou sy.
Maar Marlene het nog nooit geskrik vir harde werk en oplossings vind nie. Sy is ’n bekende aktivis vir mense met gestremdhede en minderbevoorregtes, en sy is ook onlangs aangewys as die nuwe voorsitter van die ATKV. Sy word binnekort met ’n tweede eredoktorsgraad vereer vir haar werk en is boonop die aanbieder van haar eie geselsprogram, Die lewe skuld jou niks, wat tot onlangs toe op VIA uitgesaai is.
Hoewel die kunste steeds onder druk verkeer weens die inperkingsmaatreëls, hou Marlene moed. “Ek dink die kunste het nou van voor af ’n doel. Aanlyn stroming kan nié die ervaring vervang waar jy sit en ’n produksie beleef wat jou hart tref nie,” sê sy met geesdrif in haar stem.
Maar sy sal nie stry nie: Dit was ’n tawwe jaar. “Ons het nog nooit tot stilstand gekom nie. My agtergrond, waar ek vandaan kom, het my deur hierdie tyd van covid-19 gehelp.”
Sy lyk vandag vrolik in ’n blommerok en glimlag uitgelate vir die kamera, maar Marlene ken van klippe kou. Hardes. Die lewe het haar al immers keer op keer met ’n onverwagte wending uitgedaag.
As baba het sy polio oorleef. As jong onderwyseres moes sy ’n ernstige operasie ondergaan om ’n breingewas te laat verwyder. En toe spat haar wêreld drie jaar gelede aan skerwe.
Sy moes haar jongste kind, Adam (15), aan die dood afstaan. Kort daarna is sy en haar man van 27 jaar, Simeon George, geskei en moes Marlene weer die stukke van haar lewe begin optel.