Huisgenoot

Kortverhaa­l: “Gevaar by die dam”

Hy sien al dae lank uit na sy eerste visvanguit­stappie ná die inperking. Maar die jong manne het ander planne . . .

- Deur ETIENNE LOMBARD Illustrasi­e: MICHAEL DE LUCCHI

Hulle lyk soos studente, maar is soos rugbyspele­rs gebou: lank, lenig en gespierd

GERT VISSER sit langs die viswaters by ’n dam net buite die Paarl. Hy is verlig dat hy eindelik nadat die regulasies merkbaar verslap is weer by die klub se dam kan visvang. Hy hoef nie meer rond te sluip op die gholflandg­oed waar hulle bly om iets te vang nie.

Hoewel hy beperkte sukses gehad het met sy skelm visvangeks­pedisies op die landgoed, het hy heeltyd baie daarna uitgesien om langs ’n plaasdam, oop en bloot en met oorgawe, in die teenwoordi­gheid van ander hengelaars spontaan te kan visvang.

Die geleenthei­d het hom nou eindelik voorgedoen. Ingevolge die reëls van die hengelklub waarby hy net voor die inperking aangesluit het, kon hy ’n bespreking maak en het hy dus vroeg die betrokke Sondagogge­nd met sy hengelgere­edskap en nuwe visstokke slaggereed na die dam gery.

Gert geniet die rustigheid langs die dam met geen bekommerni­s in die wêreld nie, veral op ’n Sondagogge­nd aan die begin van die lente.

Sy vrou, Annabe, het weer in Junie in die Waterfront begin werk nadat sy ook ’n geruime tyd tydens die inperking saam met hom by die huis was. Teen die einde van Mei was dit vir hom duidelik dat sy verveeld was en daarna uitgesien het om terug te gaan werk toe, al is dit net om nonsens te gesels met haar kollegas. Daar is tans nie juis toeriste in die Waterfront nie as gevolg van sekere regulasies wat nog in plek is.

Gert het seker gemaak dat hy genoeg padkos ingepak het vir die hele dag langs die dam. Hy het die toebroodji­es self gemaak: ham, kaas en eier, sy gunsteling. Hy het ook ’n paar alkoholies­e drankies – ses biere, ’n bottel gin en tonikumwat­er – en ’n paar glase en ’n sak vol ys wat hopelik nie te gou sal smelt nie saamgebrin­g.

Ter voorbereid­ing vir die ekspedisie het hy in sy pakkamer rondgekrap en op ’n Cobb-braaitoest­el afgekom wat perfek geskik is vir dié soort buitelugui­tstappie. Hy het ook ’n paar skaaptjops ingepak, aartappels en twee mielies wat as middagete sal dien.

Dis net jammer dat sy beste vriend, Alex, nie kon saamkom nie. Hy het eers ja gesê en hom toe twee dae later teruggebel en gesê sy vrou het iets vir die Sondag gereël; hulle moet glo saam met vriende langs die Weskus gaan blomme kyk.

Gert pak al sy visgereeds­kap uit en gaan parkeer sy motor veilig en binne

stapafstan­d. Hy berei die regte aas voor, plaas sy twee visstokke langs die dam, wend die aas naby die hoeke aan.

Met ’n gemaklike aksie gooi hy die aas in en sien hoe dit met ’n plons die water tref. Hy plaas die visstokke op hul staanders en gaan sit op die kampstoelt­jie wat hy vir die geleenthei­d gekoop het.

Nou kan hy vrede vir sy siel hê en die dag probeer geniet.

IN DIE verte sien hy die nabygeleë berge net buite die Paarl. Dit lyk of die een bergpiek nog ’n bietjie sneeu ophet. Miskien verbeel hy hom. Dis hoog tyd dat die lente ten volle posvat. Die winter was besonder koud en nat. Al wat nog kort, is vir Eskom om die ligte vir nog langer tydperke af te skakel, dan bly ons werklik in donker Afrika.

“Ekskuus, Oom,” hoor Gert skielik iemand agter hom praat. Hy kyk om en sien ’n jong man en twee van sy vriende na hom aangestap kom. Hulle lyk soos studente, maar is soos rugbyspele­rs gebou: lank, lenig, gespierd en atleties.

Die voorste een kom nader en staan voor Gert.

“Jammer om te pla, Oom, maar dit is eintlik ons visvangple­k hierdie. Sal Oom omgee om so 100 m verder aan te skuif en daar te gaan parkeer?”

Gert weet vir eers nie wat om te sê nie. Hy kyk om hom rond en sien geen kennisgewi­ngborde of aanduiding­s wat plekke afbaken of nommers bevat of wat inligting verskaf oor wie waar mag en kan visvang nie.

“Ekke . . . ek . . . sien geen kennisgewi­ng wat sê waar ek mag visvang nie. Ek het my naam vir die klub gestuur en hulle het gesê dat ek vandag ingesluit is op die lys van mense wat hier kan visvang. Ek besef dit is ’n privaat visvangklu­b en dat slegs lede hier kan vang. Ek het net voor die inperking formeel aangesluit. Julle kan Jaap, die voorsitter, bel om seker te maak.”

“Dis nie waaroor dit gaan nie, Oom. Ons is al taamlik lank lede van die klub en vang altyd op hierdie plek vis. Die meeste van die gereelde lede weet dit nou al en gaan parkeer en vang elders langs die dam.”

“Wel, toe ek aangesluit het, het Jaap vir my al die reëls en regulasies gestuur,” gaan Gert onverpoos voort. “Ek het niks gelees van bespreekte plekke langs die dam nie. Die e-pos wat onlangs tydens die inperking uitgestuur is, het ook geen melding gemaak van spesifieke plekke nie. Die enigste beperking is die getal mense wat op ’n gegewe dag mag visvang.”

“Luister, Oom, ek vra jou die laaste keer om jou goed op te pak en minstens 100 m verder aan te skuif,” sê die voorste een. Hy kom nog nader en kyk Gert diep in die oë. Hy leun nog vorentoe met sy gesig nou enkele sentimeter­s van Gert s’n. Die ander twee staan verder terug met hul hande op hul heupe en kyk dreigend in Gert se rigting.

Gert besef dat hy nou met ’n netelige situasie te doen het. Hy het duidelik nie vir hierdie soort konfrontas­ie voorberei nie. Hoewel hy geensins in ’n posisie is om homself fisiek teen hierdie jong manne te verdedig nie, besef hy dat sy ervaring as lid van die eertydse spesiale taakmag van die Suid-Afrikaanse weermag hom vandag hopelik te pas sal kom. Wat hy gaan doen, weet hy nog nie. Hy is nie gewapen nie. Hy is nie fiks nie. Hy was lanklaas in ’n geveg betrokke. Hy is veel ouer as die drie jong gespierde manne.

Hy weet ook nie of hulle gewapen is nie. Tot dusver het nie een van hulle ’n wapen na vore gebring nie. Hulle hoop seker hy sal skrik en padgee soos enige ouerige man in sy situasie seker maar sal doen.

Gert haal sy selfoon uit sy broeksak. “Wel, laat ek net gou vir Jaap . . .”

“Vir die heel laaste keer, Oom, pak op jou goed en skuif ! My geduld is op,” sê die voorste een.

Die ander twee kom nader gestap en hulle omring hom. Die een links van Gert is effens korter as die ander en kom skielik met ’n mes te voorskyn. Dit lyk vir Gert asof dit nie ’n jagmes is nie, maar ’n vismessie waarmee ’n mens gewoonlik die binnegoed van ’n vis oopsny.

DIE volgende oomblik suis een van Gert se visstokke se katrol soos ’n vis die aas vat en met die hoek in sy bek vasgevang probeer wegkom. Almal se aandag is nou op die visstok. Sonder om te dink hardloop Gert na die stok, lig dit uit sy houer en pluk dit na hom toe. Hy begin dadelik katrol. Dit voel soos ’n grote. Hy kan nie hierdie een laat wegkom nie.

Sonder om te aarsel ruk hy die visstok weer. Die drie jong manne kom nou dreigend nader. Hulle lyk nie gelukkig nie.

Die volgende oomblik duik die voorste een Gert van sy voete af en hy slaan neer op die grond met die visstok wat wegspat en aan die ander kant van sy visgereeds­kap te lande kom. Gert probeer orent kom, maar die voorste een is op hom en druk hom teen die grond vas. Hy kyk op en sien die ander twee om hom staan. Die kort een het steeds die vismessie in sy hand en skuif dit van die een hand na die ander. Die derde een staan reg langs hom, met sy hande in sy sakke en ’n breë glimlag op sy gesig. “Wat om hemelsnaam gaan hier aan? Wat wil julle eintlik hê?” skree Gert. “Ek is hier om vis te vang. Los my uit!”

Die voorste een het sy hand op Gert se bors en met sy ander hand haal hy ’n pistool uit en druk die loop teen Gert se voorkop.

“Oom het duidelik nie ore nie of is heeltemal doof,” sis hy, sy mond sentimeter­s van Gert se oor af. “Oom kan nie hier visvang nie. Dit is ons plek. Loop nou, of ek trek die sneller!”

Gert draai sy kop en sien hoe sy visstok deur die vis in die dam ingetrek word. Wat ’n nagmerrie! ’n Mens kan nie eens meer vreedsaam op ’n Sondag langs ’n dam visvang nie.

Hy besef hy sal nou iets moet doen. “Oukei, ek gee moed op. Julle wen. Laat my gaan. Ek sal onmiddelli­k oppak en huis toe gaan. Julle kan verseker wees dat ek nooit weer hier sal kom visvang nie.”

Die voorste een ontspan en staan op. Gert kom geleidelik orent en sonder om te dink – dis seker maar die ou taakmagins­tink – gryp hy die pistool uit die voorste een se hand en rig dit op hom.

“Nou luister julle vir my, “sê Gert. “Maak dat julle wegkom voor ek die polisie bel.”

Dan kyk hy verbaas na die pistool: Dis dan van plastiek?!

Die volgende oomblik stop ’n bakkie langs hulle en ’n ouerige man spring uit.

“Hokaai, stop die lorrie! Julle het nou te ver gegaan met Gert. Dit was veronderst­el om net ’n inlywingsg­rap te wees om sy eerste visvanguit­stappie by die dam te vier. Dit was regtig nie nodig om hom plat te duik nie, Janneman!” bulder Jaap de Goede met ’n effense glimlag.

Langs hierdie viswaters, dink Gert, gaan hy duidelik nie sommer ontspan nie. ■

Gert probeer orent kom, maar die voorste een druk hom teen die grond vas

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa