Huisgenoot

LIEFDE BLOM WEER VIR ERIK

Drie jaar nadat sy verlowing verbreek is, het die Binnelande­rsakteur weer liefde gevind – by ’n kunstenaar wat nie sepies kyk nie!

-

TOE hy drie jaar gelede met ’n gebroke hart uit die Kaap na sy tuiste in Noordwes terugvlug, wou hy niks van die liefde weet nie. Maar Erik Holm sou nog leer: Die liefde laat hom nie voorskryf nie. “Dis maar daai ou rympie wat jy altyd hoor: Sodra jy ophou om daarna te soek, of selfs om jou teë te sit, kom dit na jou toe,” sê die akteur vandag.

En dan neem hy sy meisie, die kunstenaar Colleen Jury-Zeffertt, se hand in syne. “Nou is ons storie ook een van daai tipiese romkomtipe­s.”

Een wat die verhaal vertel van ’n bekende akteur vir wie liefdesgel­uk ná ’n verbreekte verlowing soos ’n pynlike illusie lyk. Maar dan trek ’n kunstenaar met pienk rastalokke by ’n huurwoonst­el op sy erf in, en sy weet nie eens hy is beroemd nie . . .

“Dit klink dalk vreemd, maar ek het in my lewe nog nooit van hom gehoor nie. Die eerlike waarheid is ek het voor ek hom ontmoet het, nooit eens ’n episode van Binnelande­rs gesien nie,” sê Colleen (28) oor die kykNET-sepie waarin Erik die rol van Rian Malherbe vertolk.

Hulle kom uit twee verskillen­de wêrelde, beaam hy. Hy is “’n tipiese akteurstip­e”, soos Erik (39) homself beskryf, en Colleen is teruggetro­kke en verstaan boonop min Afrikaans. “En sy hou niks van sepies nie,” verklap hy.

“Moenie dit hardop sê nie!” keer sy kamma. Maar dan gee sy toe: “Dis waar, ek hou so min van sepies, ek kyk nie eens na hom op televisie nie.”

Maar hy gee glad nie om nie. “Dis een van die redes waarom ek so mal is oor jou,” sê Erik. “Want met jou maak die wêreld en sy dinge nie saak nie – dis net ek en jy.”

WAAR die twee verliefdes by ’n gesellige restaurant op hul tuisdorp, Hartbeespo­ort, met Huisgenoot gesels, is dit duidelik Kupido se pyl was in die kol. Hulle kan skaars hul hande van mekaar afhou. Kort-kort word soentjies uitgedeel, en as jy weer kyk, is Colleen op Erik se skoot.

“Ek is gek oor hom,” vertel sy half skaam en ’n gesonde blos vorm op haar wange. “Kyk net sy ongeloofli­ke blou oë! Ek ken niemand wat nie in hierdie oë wil kyk nie.”

En Erik koer: “Sy is ongeloofli­k. Kom ek

stel dit vir jou so: Sy is alles wat ek nie geweet het ek nodig het nie. Of sommer eenvoudige­r: Sy is álles vir my.”

Die twee is al net meer as ’n jaar ’n paartjie. Hulle het mekaar laat in 2019 ontmoet toe Colleen die nuwe huurder van ’n woonstel op Erik se erf geword het. En nee, dit was nie liefde met die eerste oogopslag nie, sê sy.

“Jy’s reg, my lief,” terg Erik haar. “Jy het op ’n aand na my toe gekom en gesê jy kan nie meer huur betaal nie; jy wou weet wat die oplossing is. En hier’s ons nou!”

Hulle lag oor die versinsel. “Eintlik was dit jy wat die flikkers begin gooi het,” kap Colleen kastig terug.

Toe hy vir die derde keer met kleurvolle orgideë by haar voordeur opdaag – orgideë wat hy glo toevallig êrens opgemerk het – het sy geweet daar steek veel meer daaragter as net ’n verwelkomi­ngsgeskenk vir sy nuwe huurder.

“Ek het spesifiek na orgideë gaan soek net om ’n verskoning te hê om weer met haar te praat,” erken Erik nou. “Kyk net na haar – sy is beeldskoon,” sê hy en wys na Colleen.

Dit was nie moeilik om te raai wat haar gunsteling­blom is nie, want op haar linkerarm is daar van haar hand tot by die skouer prente van orgideë getatoeëer.

“Wel, daar was dít en die vele koffies,” terg sy haar kêrel. “Een aand het ek besef die bekers koffie word net te veel en te gereeld.

Hulle het lank oor en weer gekuier, maar êrens was daar ’n oomblik – geeneen van die twee kan onthou presies wanneer nie – toe hulle gesoen het. En toe is die koeël deur die kerk.

“Ek praat nou baie oor hoe mooi sy vir my is, want sy is,” sê Erik. “In my oë is sy die beeldskoon­ste mens wat nog ooit op aarde asemgehaal het, maar dis meer as net dit. Sy het so maklik by my lewe kom

‘Hy is hierdie wonderlike, sjarmante, snaakse ou wat my oorrompel het’

inpas, asof sy bedoel was om nog altyd daar te wees.”

Hy onthou hoe sy geen idee gehad het dat hy ’n bekende akteur is nie.

“Ek het vir haar gesê: ‘Hei, jy weet ek is famous, nè?’ ”

En sy vertel: “Toe sê ek ek sal maar sy woord daarvoor moet vat, nie dat dit saak maak nie.”

Die roem skeel haar min. “Ek doen my deel om Erik op sy tone te hou,” spot sy. “Ek vertel gereeld vir hom hy is net Hartbeespo­ort-famous; hy moenie grootkop kry nie!”

DIT was ook nog nooit vir Colleen ’n struikelbl­ok dat Erik verlam is nie. Die akteur het sy nek gebreek toe hy in 2007 by ’n mensgemaak­te meer by die Lake Umuzi Waterfront-winkelsent­rum in Secunda, Mpumalanga, ingeduik het om ’n bal uit die water te haal vir kinders wat daar gespeel het.

“Ek het nie aan Erik gedink as verlam of aan ’n rolstoel gekluister nie. Hy is hierdie wonderlike, sjarmante, snaakse ou wat my totaal en al oorrompel het. Dat hy verlam is, is ’n bysaak. Ek moet ook erken: Ek geniet dit om na hom om te sien.”

Tog gee hulle toe: Ja, daar is wel ook opoffering­s.

“Die ergste vir my is dat ek haar nie gewoonweg kan druk of die deur vir haar kan oopmaak nie,” sê hy. “My droom is om haar na ’n konsert toe te vat, haar op my nek te tel en heelaand te dans. Of om myle en myle saam met haar op die strand te gaan stap. Maar dit kan nie gebeur nie.”

En Colleen?

“Ek is gek oor staptogte in die berge – dis iets wat ek graag met hom sou wou deel. Maar dit pla my nie dat ons dit nie kan doen nie. Want net hier, hier langs hom, is ek in elk geval meer vervuld as wat ek al ooit voorheen was.”

Colleen, ’n skilder en beeldhouer, het Erik geïnspiree­r om ook self sy hand aan dié kunsvorme te waag.

Verlede Mei het hy sy kunswerke – houtvorms waarop hy skilder en teken – begin bemark.

“Sy het in vele opsigte weer lewe in my kom blaas, ek is weer lief vir skep – selfs vir asemhaal,” sê Erik. “Nee, sy het my nie voltooi nie, ons glo nie in daardie dinge nie. Maar die lewe saam met haar is mooier en ryker.”

Dis opwindend en ’n vreugde om haar lewe met hom te deel, sê Colleen. “Ek het nog nooit iemand ontmoet wat so ’n groot ophef van die klein dingetjies maak nie. Soos nou die dag toe hy in die middel van die pad stilgehou het sodat ek ’n perdeblom kon pluk. Elke dag saam met hom is spesiaal.”

En al ken hulle mekaar maar nog net sowat ’n jaar en ’n half, begin Erik al klaar half spottend maar ook ernstig na daardie groot vraag verwys. Dis tog eindelik waarvan hy droom, erken die akteur: ’n lang, sorgelose lewe saam met sy “lief ”.

“Hokaai!” keer Colleen. “Jy sal my nog eers moet vra om te kys.”

Hulle lag. “Dalk vra ek sommer albei vrae tegelyk,” sê Erik. “Solank ek net by jou kan wees.” ■

 ??  ?? Deur CYRIL BLACKBURN Foto’s: SHARON SERETLO
Deur CYRIL BLACKBURN Foto’s: SHARON SERETLO
 ??  ?? HOOFFOTO: Nadat sy verlowing vier jaar gelede verbrokkel het, is die akteur Erik Holm weer dolverlief – dié keer op Colleen JuryZeffer­tt, ’n kunstenaar wat ’n woonstel op sy erf gehuur het. REGS: Al is daar dinge wat hulle nie saam kan doen nie, is hulle verhouding steeds ’n sprokie, vertel die twee.
HOOFFOTO: Nadat sy verlowing vier jaar gelede verbrokkel het, is die akteur Erik Holm weer dolverlief – dié keer op Colleen JuryZeffer­tt, ’n kunstenaar wat ’n woonstel op sy erf gehuur het. REGS: Al is daar dinge wat hulle nie saam kan doen nie, is hulle verhouding steeds ’n sprokie, vertel die twee.
 ??  ??
 ??  ?? Erik as die
Binnelande­rskarakter Rian Malherbe en sy TV-vrou, Pippa, destyds vertolk deur Nadia Valvekens.
Erik as die Binnelande­rskarakter Rian Malherbe en sy TV-vrou, Pippa, destyds vertolk deur Nadia Valvekens.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa