Huisgenoot

‘Jy verlang verniet na jou jeugdige lyf. Jou dae is getel. Jy lyk ál meer soos jou ma’

-

KORT ná die aanvanklik­e skok, spoel die vreugde oor die ongebore pienkvoet soos ’n golf oor haar. Die lekkerste van mawees is ongetwyfel­d die onverwagte opwinding van ouma-word. “Ook maar goed ek het toe nie ’n bikini gekoop nie,” prewel sy. “Dit sou seker uiters onvanpas wees om so skraps geklee met my kleinkind op die strand te paradeer.”

Haar oë skiet vol trane van vreugde toe sy na Sanet kyk. “Ek is so bly vir julle. Jy sal sien, ek gaan ’n ouma duisend wees.”

Sanet knik instemmend. “Daaraan twyfel ek nie vir ’n oomblik nie.”

Toe Jaco vertrek, plant hy ’n soen op haar voorkop. “Sien Ouma volgende Sondag vir ete, nè?”

Brenda straal behoorlik. Haar hande jeuk skielik om te leer borslappe hekel en babaskoent­jies brei. Sy sal sorg dat haar spens se rakke altyd kreun onder blikke vol koekies. Sy sal stories lees, pleisters plak, sandkastel­e bou en roomys eet.

Wat ’n vreugde! Dis asof sy plotseling weer ligvoets deur die lewe kan dans. Sy gaan stylvol en grasieus oud word. As koningin Elizabeth dit kon regkry, kan sy ook.

Daardie aand ontspan Brenda in ’n salige borrelbad met ’n glas vonkelwyn in die hand. Dis immers nie aldag dat ’n mens ouma word nie. Dis tyd om hierdie nuwe lewensfase aan te gryp. Toe sy uitklim, staan sy fier en regop voor die wasbak en knipoog vertroulik vir die vrou in die spieël. “Kom ek gaan maak vir ons twee tee. Ons kom al ’n lang pad saam. Dis hoog tyd dat ons vrede maak en basta met bikini-blues!” ■

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa