TENNIS SE SKELSKURK
Staan opsy, John McEnroe, tennis het ’n nuwe stout seun. Net jammer hy is nie so doelgerig as dit by sy spel kom nie
SO talentvol, maar net so onvoorspelbaar . . . plofbaar, eintlik – en met ’n los mond. Wanneer hý op die tennisbaan stap, is dinge selde vervelig. Klink dit soos die onvergeetlike John McEnroe? Nee, dis die stout seun van ’n nuwe generasie, Nick Kyrgios. As dié 25-jarige tennisspeler van Australië die dag besluit hy gaan laat looi, speel hy die baan aan die brand – soveel so dat selfs die beste ter wêreld sukkel om by hom kers vas te hou.
Vra maar vir Dominic Thiem, die Oostenryker en nr. 3 op die wêreldranglys wat onlangs by die Australiese Ope in Melbourne moes spook vir ’n oorwinning oor Kyrgios. Die Aussie het die tuisskare behoorlik op hol gehad met sy opwindende spel.
Maar in tenniskringe word daar meer gereeld oor sy streke op die baan as oor sy kishoue gepraat.
Kort voor die Australiese Ope het Nick weer die tonge laat klap, maar dié keer toe hy in die Murray River-ope sy raket stukkend gegooi het.
Uit frustrasie met sy beseerde linkerknie wat bly pla, het hy eers sy raket soos ’n nuutgekoopte sak ys teen die grond stukkend gegooi – en dit toe tot in die leë paviljoen ingeslinger.
Dan was daar ook die keer in 2019 toe hy by die Miami-ope in ’n bekgeveg met ’n toeskouer betrokke geraak het. Of toe hy later dieselfde jaar by die Italiaanse Ope ook sy raket neersmyt én ’n stoel langs die kantlyn met een hand tot op die tennisbaan gooi.
By Wimbledon in 2019 het hy tydens ’n wedstryd probeer om vir Rafael Nadal met ’n bal raak te slaan, en die Spanjaard kon net betyds koes van die bal wat op sy borskas afpyl.
Voeg daarby al die kere wat hy al met skeidsregters gestry of sy mond oor sy teenstanders uitgespoel het, en jy kry ’n CV waarop daar eerstens sou staan: “Moeilikheidmaker.”
En hy probeer allermins vriende op die baan maak. Hy het teenstanders soos Novak Djokovic, Fernando Verdasco en Borna Coric al lelik met beledigings toegesnou, soos “Lummel!”, “Arrogantste persoon ooit!”, en “Het jy klippe in jou kop?”
En moenie dink hy neem agterna ’n verskonende houding in nie.
“Hoekom moet ek verskoning vra?” het Nick ná die Nadal-voorval gesê.
“Ek meen, hierdie ou het hoeveel Grand Slams en hoeveel geld in sy bankrekening? Ek dink hy kan ’n hou teen sy bors vat!”
AS DAAR nou iemand is wat wéét hoe ’n mens se emosies en humeur jou op die tennisbaan kan kelder, is dit die Amerikaner John McEnroe, wat in die 1980’s die etiket van tennis se stout seun gedra het. McEnroe, deesdae ’n gerekende kommentator, se raad aan Kyrgios in ’n vorige onderhoud was eenvoudig: “Hy moet introspeksie doen as hy een van die beste spelers wil word en Grand Slams wil wen.” Die Amerikaner, wat self sewe Grand Slam-titels kon wen, meen Kyrgios kan nie bloot op sy natuurlike talent staatmaak as hy sy opgang wil maak nie.
“Ek hoop hy sien die skrif teen die muur voor dit te laat is. Dis nie net sy kop wat moet reg wees nie; hy sal harder aan sy spel ook moet werk.”
En McEnroe se insig is in die kol. Ondanks die Aussie se potensiaal kon hy nog nooit verby die kwarteindstryd van ’n Grand Slam-toernooi vorder nie, en sy hoogste posisie op die wêreldranglys was maar 16de. Hy het dit in 2016 reggekry, maar sedertdien weens ’n rits beserings en min speeltyd tot 47ste teruggesak – ’n posisie wat kenners meen nie sy talent weerspieël nie.
Intussen stap hy gereelder met yslike boetes as lywige wennerstjeks van toernooie af weg. Hy moes al onder meer R1,6 miljoen, R500 000, R320 000 en R180 000 uit die sak skud vir sy oproerige gedrag of gekruide taal op die baan.
Nick het boonop die gewoonte om soms ’n onderarmafslaan in te span om sy teenstanders onkant te betrap – pleks daarvan om die bal bo sy kop te gooi en dit so hard as moontlik af te slaan, sal hy die bal dan met ’n onderarmhou liggies net-net oor die net tik. Dis nie teen die reëls van die spel nie, maar word in sommige kringe as onsportiewe gedrag beskou.
Hoewel Nick hom gedra asof kritiek hom nie skeel nie, lyk dit of hy tog oor sy tekortkomings en sy toekoms begin besin. “Ek het die ervaring, maar dit gaan eindelik daaroor om jou alles te gee en oor ’n lang tydperk deel te neem,” sê hy.
“Soms is ek nie mal oor die sport nie. Maar ek weet nie regtig wat om daarsonder te doen nie. Ek weet ek het die talent
Nick was al in ’n rits verhoudings, maar gaan sedert verlede jaar met die beeldskone model Chiara Passari uit. Hy noem haar “Chezzil”, met haar toestemming.
om groot hoogtes te bereik.”
Dié seun van ’n Griekse pa, ’n verwer, en Maleise ma, ’n rekenaarprogrammeerder, is gelowig en dra gereeld ’n goue hangertjie met ’n kruis daaraan. Hy is in Canberra gebore en het op skool ook in basketbal uitgeblink, maar ’n tennisbeurs losgeslaan om op 16 aan te sluit by die gesogte Australian Institute of Sport, waar hy sy vaardighede geslyp het.
Hy was al in aan-af-verhoudings met die vrouetennisspeler Ajla Tomljanovic en die Rus Anna Kalinskaya, maar is sedert verlede jaar in ’n verhouding met die beeldskone model Chiara Passari.
Dié het aanhangers onlangs laat gons nadat sy op Instagram geskryf het: “Cheaters always want you to be loyal while they’re being unfaithful.” Maar Chezzil, soos Nick haar noem, is duidelik steeds erg oor haar kêrel, want sy was daarna langs die baan toe hy Thiem aangedurf en so byna mak gemaak het.
IE Aussie het ondanks sy streke ook ’n sagter sy en streef daarna om ander te help.
sy NK Foundation wil hy vir minderbevoorregte kinders ’n veilige hawe skep waarin hulle kan woeker om hul sportdrome te laat realiseer. Dit doen sy stigting deur ’n ondersteuningsnetwerk te bied en ook te help met laekostebehuising en onderrig- en afriggeleenthede.
“As ek my visie kan laat geskied, is my hoop dat ek meer hiervoor onthou sal word as enigiets wat ek al op die tennisbaan gedoen het of nog gaan doen,” sê hy op die stigting se webtuiste.
Hy het ook aan die begin van 2020 tydens die rampspoedige brande in sy geboorteland die voortou geneem om geld vir slagoffers en nooddienste in te samel.
En met die coronakrisis het hy en sy stigting kospakkies vir mense in nood begin insamel. Onlangs het hulle weer met ’n voedselvervaardiger saamgewerk om kospakkies aan Foodbank Australia te skenk. Tog wens tennisaanhangers wêreldwyd dat hy hom met dieselfde doelgerigtheid op sy spel sal toespits.
“Ek weet waartoe ek in staat is,” het hy al gesê. “Ek is ’n goeie tennisspeler, maar ek doen nie die ander goed nie. Ek is nie die mees professionele ou nie. Ek oefen nie dag in en dag uit nie. Ek sal nie elke dag opdaag nie. So daar is ’n klomp dinge waarop ek sal moet verbeter om op dieselfde vlak te kom as wat Rafa, Novak en Roger al vir so lank al is.”
En as hy dít kan regkry, sal hy dalk in die proses ’n paar van die wêreld se voorste spelers laat les opsê . . . en ’n paar rakette se lewe spaar. ■