VIVA DIE VIVIER-VROUE!
Dié ma en dogters is al drie bekende gesigte op die skerm – en ’n trio om mee rekening te hou
Ouma weet mos.
DIT is ’n sonderlinge lekkerte in hierdie tyd van virtuele kuiers: Om op een slag met drie dinamiese vroue te kan gesels. Dis nie vreemd om hulle voor jou op die skerm te sien nie – die televisieaanbieder Adri Vivier en haar twee beeldskone aktrisedogters, Trix en Lea, kuier immers gereeld in verskeie programme op die televisieskerms in Suid-Afrikaanse sitkamers.
Maar toe die drie Vivier-vroue borrelend begin vertel van hul paadjies tot hier, hul liefde vir toneelspel en hoe heg die gesin is, is dit asof jy in ’n warm binnekring ingenooi word.
“Kyk hoe mooi lyk julle,” sê Adri (59) toe sy haar twee dogters op die skerm sien. Sy was nog tot onlangs een van die drie wyse “oumas” met tonne lewenservaring wat in die VIA-reeks Ouma weet mos raad uitdeel aan ander wat met alledaagse dilemmas stoei. En sy is reg – al drie vroue sit dalk in die gemak van hul eie huis, sonder ’n haarstilis of grimeerkunstenaar byderhand, maar hulle lyk net so pragtig en stylvol soos wanneer die kollig op hulle val en die kameras begin rol.
“Ek sien my dogters hopeloos te min,” sê Adri. Maar Lea (29) skud haar kop dat die donker krulle bons. Nee, sy stem nie saam nie. “My ma sal altyd sê sy sien ons nie gereeld genoeg nie, maar ek en sy gaan drink minstens elke week ’n koffie saam,” sê die jong aktrise, wat al in onder meer Fynskrif en Binnelanders te sien was en binnekort in die Showmax-reeks Dam verskyn.
Trix (32), wat tans in die M-Net-telenovelle Legacy die rol van Petra Potgieter vertolk, glimlag saam vanuit Johannesburg, waar sy en haar man die afgelope ses maande woon.
Sy sien haar ma en suster wel deesdae minder – met Adri en pa Pieter (62) wat op Melkbosstrand woon en Lea wat in die hartjie van die Moederstad in ’n woonstel bly.
Maar wanneer hulle wel ’n kans kry – tussen al die televisieopnames deur, die gedurige pendel tussen Johannesburg en Kaapstad en vol dagboeke – is daar vir hierdie kunstige trio niks lekkerder as om rustig saam met die res van hul gesin op Melkbosstrand om die tafel met ’n bottel wyn te kuier nie.
Dan sal hulle vrolik gesels en lag oor teater-, fliek- en televisiedinge terwyl hulle aan ’n bord tuisgemaakte kos weglê. “Dis heerlik wanneer my ma net na my luister. Ek vra haar nie vir raad nie, want dis nie hoe ek dinge hanteer nie. En as ek met haar kan praat en weerloos voor haar is, dan kom ek tog by my eie oplossing uit,” vertel Lea. “Dis soos ’n siel
VAN LINKS: Lea as Yola in die Showmax-reeks Dam; Lea as Lilanie du Toit in Fynskrif; Trix as Petra Potgieter in die M-Net-telenovelle Legacy; Trix as Flea van Jaarsveld in die misdaadriller Trackers.
kundige,” sê sy, en Adri lag.
“Toe ons kinders was en ons nie lekker gevoel het nie, het my ma altyd ’n groot pot tee gemaak. Daar was altyd ’n koekie of beskuitjie daarby. Dan kon ons praat as ons wou. Ons kon net wees rondom die pot tee.”
TOE Adri die nuus met haar aktrisedogters deel dat sy self weer op die kassie gaan verskyn, was hulle in die wolke. “Ek was baie opgewonde dat sy die moed bymekaargeskraap het om weer na die bedryf terug te keer. Sy het al ’n paar televisierolle en advertensies op haar dag gemaak, en dit vat guts om ná so lank terug te keer,” vertel Trix.
Adri was jare gelede in die dramareeks Meeulanders en die komediereeks Fishy Fashions te sien. Sy het onlangs besluit sy sien weer kans daarvoor om op die skerm te werk – en as ouma van haar oudste, Hermann (35), se twee kinders, het sy gevoel sy kan ’n bydrae lewer.
Tydens die kinders se grootwordjare het sy onder meer ’n dramaskool besit, vryskut skryfwerk gedoen en onderwys gegee. Sy en Pieter, ’n senior advokaat, het altyd hul vier kinders aangemoedig om eerder boek te lees as televisie te kyk; om eerder buite in die tuin te speel en hul eie verbeeldingswêreld te skep waar enigiets moontlik is.
Ouboet Hermann, wat ’n toerismeonderneming en ’n organisasie vir jong branderplankryers op Mosselbaai bedryf, en sus Meije (23), die jongste, wat tans ’n vyfdejaar- mediese student aan die Universiteit Stellenbosch is, het albei ’n sterk kreatiewe streep, maar dis veral die twee middelste kinders wat behoorlik deur die kunstegogga gebyt is.
Hulle deel al van kleins af ’n liefde vir toneelspel en het gereeld saam huiskonserte gehou en aan al wat ’n kunswedstryd is deelgeneem. “Trix gooi al drama vandat sy gebore is,” vertel Adri. “Sy was
skaars drie, toe het sy begin dans. Sy het alles na buitentoe opgevoer. Lea leef nou weer al van jongs af in ’n wêreld van haar eie.” Die twee sussies deel ’n hegte band – al moes hul gereelde drafsessies en kuiers plek maak vir lang telefoongesprekke en WhatsApp-stemboodskappe sedert Trix in Gauteng woon.
“Trix is my bestie, en ek is haar bestie. Soms sukkel sy net om dit te sê,” sê Lea met ’n vonkel in die oog. Haar ousus trek haar dik, geel trui stywer om haar lyf en glimlag. “Ja, Lea is cool. Ek is baie, baie lief vir haar,” beaam sy.
Hul talent kom ook van pa Pieter af, sê Lea.
“Hy is ook ’n heerlike storieverteller. Ek onthou ek het al vir my pa in die hof gaan kyk. Wanneer hy praat, luister mense. Dit is ook ’n soort performance.”
Nogtans moes Pieter en Hermann soms hare op hul tande hê in ’n huis vol vroue met sulke sterk persoonlikhede. “Ons het hulle beslis in ’n stadium ore aangesit,” sê Adri en lag.
Sy het Pieter na elke kind se balletkonsert en opvoering gesleep. Soms was hy “keelvol” daarvoor, sê Adri, maar hy het nogtans elke keer heel voor in die gehoor gesit en nie een van sy kinders se optredes misgeloop nie.
Adri self skroom nie om te erken dat sy haar dogters se grootste aanhanger is
Adri en haar dogters probeer mekaar gereeld sien vir ’n koppie koffie. nie. Haar gesig straal van trots toe sy oor al hul rolle tot dusver praat. “Ek kyk álles,” sê sy.
“Mamma sal na ons kyk, die pauseknoppie druk, rewind en dit oor en oor kyk,” vertel Trix. Wanneer hulle haar daaroor vra, gee sy graag terugvoering oor hul spel – en Trix en Lea sal gereeld by mekaar kers opsteek vir eerlike terugvoering. “Ons kan ure lank praat oor ons rolle en oor alles wat in die bedryf aangaan. Ek entertain selde terugvoering van ’n medeakteur, want ’n mens is nooit heeltemal seker waar dit vandaan kom nie. Maar ek weet terugvoering van my ma en sussie kom altyd uit ’n goeie en liefdevolle plek,” vertel Trix.
KORT voor ons groet, vertel Trix sy vlieg die volgende dag vir ’n kort besoek Kaap toe. Adri se stem word sag. “Sondag gaan ons darem weer om die tafel sit en kuier.” En so ’n kuier is allesbehalwe ’n stemmige storie. “Dis soms moeilik om ’n woordjie in te kry wanneer ons almal om die tafel sit,” vertel Trix. “Soms werk ons op mekaar se senuwees, en dan is dit soos ’n sneeubal wat net groter word. Dan baklei ons!”
Hulle speel ook graag bordspeletjies saam, vertel Lea.
“Ons is mal oor Scrabble. Maar ons hou nie daarvan om saam met my ma te speel nie, want sy maak nuwe woorde op en speel in Afrikaans én Engels.” “Maar ek is veeltalig,” protesteer Adri. Trix antwoord gemaak streng: “Nee, Mamma, ’n mens speel net een taal op ’n slag.”
Die gesigte is net vir ’n oomblik ernstig voor al drie vroue op die skerm weer uitbundig saam lag – dié ma en haar dogters deur wie se are ewe veel toneeltalent én lewenslus bruis. ■
‘Ons kan ure lank praat oor alles wat in die bedryf aangaan’