Huisgenoot

Paar wil aarde help met piepklein huis

-

JY MOET twee keer kyk om vas te stel wat dit is. Dit het wiele, maar dit lyk nie heeltemal soos ’n karavaan nie. Dit het ’n dak, maar dis op die oog af te klein om ’n woonhuis te wees. Jy sou kon raai dis ’n pophuis, behalwe dat die enkele meubels binne groot genoeg is vir volwasse mense. Is dit ’n hut? ’n Kajuit? Nee, vertel Marisa Visicale en Carla Cronjé toe ons aan die deur klop waar hul woning tans op die Vrystaatse dorp Rosendal staan. Dis hul eie piepklein huisie van net 8,64m² – ’n “Tiny House”, soos dié soort tuiste bekendstaa­n.

Piepklein huisies is ’n internasio­nale gier onder mense wat probeer om ’n huis so klein en eenvoudig moontlik te bou sodat hulle meer minimalist­ies kan lewe.

Maar Marisa (35) en Carla (29), wat saam met hul gesin (twee gemmerkatt­e, ’n skaaphond en ’n labrador) in dié huis woon wat nie eens ’n halwe motorhuis sal vol staan nie, het dinge ’n paar tree verder gevat: Nie net is hul huisie grootliks uit herwonne materiaal gebou nie; hulle kan dit ook aan hul bakkie vashaak en enige plek in die land staanmaak.

“Ons wou iets doen wat vir ons opwindend is, maar ook ’n positiewe impak op die aarde het en volhoubaar­der is,” sê Marisa.

“Ons wil net dié dinge hê wat ons regtig nodig het. Wat vir ons die belangriks­te is, is om veilig te wees, warm te slaap en genoeg kos te hê,” vertel Carla.

Binne sien jy elke item is sorgvuldig gekies. Die bak met lemoene, die spieël en die twee wit kassies het elk hul plek. Hoe knus is die lewe in dié huisie dan? “Die eerste ding wat ons geleer het, is as een persoon slaap, slaap almal,” lag Carla. “Die ruimte is so klein, dit werk nie as een slaap en een bly wakker om iets anders te doen nie.”

En tog is die binnekant so ingerig dat dit nie juis beknop voel nie. Daar is ’n houtkis in die middel van die enkele vertrek, twee tafeltjies en twee kassies in die hoeke, ’n rusbank, ’n yskas en ’n gasstofie. Om by die bed te kom, moet jy met ’n leer opklim na die slaapplek wat bokant die kosmaakple­k is.

Tans staan hulle op die perseel van vriende se hotel op Rosendal, waar hulle die badkamerge­riewe gebruik, maar hulle beplan om volgende ’n stort, ’n water

kan, sonpanele en ’n droë toilet (wat afval in kompos omskep) te kry wat hulle dan sal kan opslaan waar ook al die huisie stilhou. Hulle wil ook die reënwater wat teen die huisie se skuins dak afloop, opvang sodat hulle ’n kweekhuis in hul badkamer kan inrig.

En wanneer dit alles gereed is, gaan hulle hul huisie weer aan hul bakkie haak en die langpad vat.

TERWYL Huisgenoot op die rusbank in die sitkamer – wat ook die kombuis en die leefvertre­k is – met hulle gesels, is daar ’n klop aan die deur. ’n Nuuskierig­e paartjie het dié huis opgemerk en wil kom vra hoe dit gebou is.

Daar is ’n hele kultuur van mense wat in Tiny Houses belangstel en met mekaar raad deel, vertel Marisa. “Mense wat hierdie denkwyse uitleef, skroom nie om van reg oor die wêreld hul kennis met mekaar te deel nie. Hulle deel hoe hulle bou, die proses en die foute wat hulle gemaak het.”

Wat het dié twee laat besluit om in so ’n klein huisie nes te skop?

Die “normale prentjie” wat die samelewing skets van hoe

’n mens moet leef, insluitend die groot voorstedel­ike huis waarvan almal droom, het al van kleins af nie vir Marisa of Carla aangestaan nie.

Die twee ken mekaar sedert 2007. Marisa het vier jaar lank haar eie binneversi­erings-en-dekorwinke­l in Welkom gehad. Carla het ná haar sielkundeg­raad aan Unisa

as kindersiel­kundige en onderwyser­es in Pretoria gewerk en in 2017 ’n reeks organiese velsorgpro­dukte vervaardig en verkoop. Marisa het ook in 2016 haar eie binneversi­eringsfirm­a begin.

Die pandemie het hulle groot laat skrik, sê Marisa en Carla. “Die inperking was stresvol. ’n Mens het gewonder: Het ons nog ’n werk? Is daar ’n toekoms vir ons? Het ons volgende maand ’n salaris?”

Hulle het begin voel hulle moet eenvoudige­r en spaarsamer lewe. Die oplossing het by die paartjie se vriende Jaydon Meidlinger en Dita Schoeman gelê.

“Jaydon is ’n argitek en hy het al Tiny Houses vir hul gesin gebou. Hulle het in daardie tyd hul vaste woning afgebreek en ons kon van daardie oorskietho­ut gebruik om ons huisie te bou,” vertel Carla.

“Negentig persent van wat jy voor jou sien, is herwonne materiaal. Die volhoubaar­ste boumateria­al is dinge wat reeds bestaan. So pleks daarvan om iets uit niks te maak, kan jy bestaande dinge gebruik en iets cools daarvan maak,” sê sy.

Hulle het verlede jaar sowat ses maande lank aan hul huisie gebou en kon op 1 Januarie intrek. Die twee beplan om ses maande op Rosendal te bly terwyl hulle by die hotel help met binneversi­ering voor hulle weer ’n roete Kaap se kant toe aandurf.

Aangesien hulle moue opgerol en herwonne materiaal gebruik

het, het hul tuiste min geld gekos. Die grootste uitgawe was die R45 000 wat hulle vir die spesiale sleepwa moes betaal waarop die huisie staan sodat hulle dit met hul bakkie kan rondsleep.

Hulle bereken as iemand ’n soortgelyk­e huisie van nuwe materiaal sou wou bou dit hulle minstens R160 000 uit die sak sal jaag. En as jy dit dan nie self bou nie en iemand sou betaal om dit te doen, kan jy ’n ekstra R125 000 by die totaal voeg.

Maar dis elke sent en sweetdrupp­el werd. “Ek kan nie vir jou die verligting en vryheid verduideli­k nie. Hierdie huis is ons s’n. Ek skuld absoluut niks daarop nie. Hy het wiele, so ons haak hom aan my bakkie en ons vat hom net waar ons wil,” sê Marisa. “Waar ons met die gemeenskap konnekteer, parkeer ons.”

En hul huisie het selfs ’n naam waaronder hulle op Instagram inskrywing­s plaas, vertel hulle: Tiny Hero Home. Dis hul wegbreek van die alledaagse lewe.

 ??  ?? HOOFFOTO: Carla Cronjé (links) en Marisa Visicale by hul huisie op wiele. ONDER: Hul tuiste is byna heeltemal van herwonne materiaal gemaak. HEEL ONDER: Die paartjie wou volhoubaar­der leef.
Deur FRANCO HAVENGA Foto’s: PAPI MORAKE
HOOFFOTO: Carla Cronjé (links) en Marisa Visicale by hul huisie op wiele. ONDER: Hul tuiste is byna heeltemal van herwonne materiaal gemaak. HEEL ONDER: Die paartjie wou volhoubaar­der leef. Deur FRANCO HAVENGA Foto’s: PAPI MORAKE
 ??  ?? LINKS: Die huisie word met Marisa se Ford Ranger gesleep. REGS: Elke meubelstuk in die huis dien ’n spesifieke doel.
’n Mens moet met ’n leer opklim om van die leefarea en kombuis, kompleet met ’n gasstofie en yskas, by die slaapplek te kom.
LINKS: Die huisie word met Marisa se Ford Ranger gesleep. REGS: Elke meubelstuk in die huis dien ’n spesifieke doel. ’n Mens moet met ’n leer opklim om van die leefarea en kombuis, kompleet met ’n gasstofie en yskas, by die slaapplek te kom.
 ??  ?? Die paartjie het vier troeteldie­re wat ook in die huisie woon. Hier span Sebast die kat en Kai die skaaphond by hul tuiste uit.
Die paartjie het vier troeteldie­re wat ook in die huisie woon. Hier span Sebast die kat en Kai die skaaphond by hul tuiste uit.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa