Huisgenoot

SUS DRA STORIES AAN BY MA

-

My suster wil nie hê dat die son oor my skyn nie. Ek pas al jare lank ons ma op, maar sy dra stories by haar aan en stook haar teen my en my gesin op. My ma se oordeel is nou nie meer so dat sy altyd tussen waarheid en leuens kan onderskei nie. Sy vertel my dikwels wat my suster sê. My suster maak my ma gespanne oor niks. Sy aanvaar geen verantwoor­delikheid vir my ma nie, want sy is glo te besig met haar werk. Ons sit met my omgekrapte ma wat dan nie wil eet nie.

A op N

Die verhouding­s met ons sibbes as volwassene­s spruit gewoonlik uit ons kinderdae. Jou suster het bes moontlik toe ook so manipulere­nd teenoor jou opgetree.

Dit is gelukkig nooit te laat om grense te stel nie sodat jy jouself nou beter kan laat geld.

Vir sulke boelies moet daar duidelik uitgespel word watter van hul eise onredelik is. As sy tot dusver onbeperkte toegang tot jul huis gehad het, kan jy haar vra om in die toekoms ’n afspraak te maak voor sy kom kuier.

Op hierdie manier stel jy dit duidelik dat dit jul huis is en dat daar sekere reëls is. Sê gerus as die tyd wat sy wil kom kuier vir jou ongeriefli­k is en stel ’n ander tyd voor.

Dit is dalk moeilik om teen haar op te tree omdat sy jou suster is. Maar vra jouself af as dit ’n vriendin of ’n kollega was wat jou beskinder het, sou jy dit verduur en verdra het? Jy sou bes moontlik die vriendskap laat verflou het of jou kollega daarna gevra het.

Omdat dit moeilik is om in jou omstandigh­ede jou suster te vervreem of te konfrontee­r, speel oop kaarte met haar. Sê vir haar jy weet van die onwaar stories wat sy aandra, want jul ma deel dit met jou.

Jou ma se versorging neem waarskynli­k ’n groot deel van jou dag in beslag en jy het dalk te min tyd vir selfsorg. Stel voor dat jou suster vir een dag in ’n maand vir ’n versorger vir jou ma betaal sodat jy ’n blaaskans kan kry.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa