Huisgenoot

Therese Bam oplaas swanger op 44

Die aktrise Therese Bam het drie jaar lank gesukkel om swanger te raak. Ná vyf rondes vrugbaarhe­idsbehande­ling, teleurstel­lings en trane kan sy nou danksy die hulp van ’n eierselske­nker uitsien na haar seuntjie se koms

- Deur MARELIZE GRBICH Foto’s: MISHA JORDAAN

AS JONGER aktrise het sy dikwels snags gedroom sy word ma. Duidelike beelde van hoe sy haar baba borsvoed en troos het dan in die middernagt­elike ure voor haar afgespeel. Wanneer sy daarna wakker geword het met die besef dat dit net ’n droom was, het dit haar dae geneem om die teleurstel­ling te verwerk.

Al het soveel ander drome deur die jare vir Therese Bam waar geword, het haar grootste begeerte onvervuld gebly, en haar arms leeg.

Maar nou – ná vyf rondes vrugbaarhe­idsbehande­ling wat ook baie trane en teleurstel­lings meegebring het – verwag sy eindelik op 44 haar eersteling.

Therese en haar man, Christiaan Bam (54), ’n argitek, se babaseun, wat nog sy naam moet kry, is met die hulp van ’n skenkereie­rsel verwek, vertel die aktrise openhartig.

“Dit is regtig die ding in my lewe wat ek nog die graagste wou hê – afgesien van my man; van ’n gesonde huwelik,” sê Therese oor die baba wat sy reeds in haar voel groei en skop. “Dit is die grootste geskenk wat ek nog in my hele lewe kon kry.”

Toe dit blyk dat ’n skenkereie­rsel die enigste opsie is as sy wil swanger raak, moes sy eers met die idee vrede maak dat die baba nie haar gene sou hê nie.

“Jy besef jou aandeel in die kind se genetika gaan wegval en dit is ’n verskrikli­ke ding om te verwerk,” erken sy.

“Dit is ’n rouproses om van jou DNS afskeid te neem. Jy móét treur. Almal van ons wonder mos maar of jou baba iets soos sy pa sal doen of soos jy van iets gaan hou. En dalk die familie se bakore sal hê.”

Maar sy het besef die kind sal steeds haar geliefde Christiaan se DNS hê. Sy sal steeds die baba in haar lyf kan dra en die lewe aan hom kan skenk – alles deel van haar langgekoes­terde droom oor moederskap.

Waar Therese op die stoep van haar en haar man se huis in Houtbaai, Kaapstad, oor die prentjiemo­oi hawe sit en uitkyk, gly haar hande telkens beskermend oor die ronding van haar maag. Tog moet sy haarself nog soms oortuig dat daar regtig ’n babaseuntj­ie vir hulle op pad is.

“’n Mens is al so gewoond aan al die teleurstel­lings. Jy beskerm jouself. Ek is 21 weke swanger en ek sukkel steeds om dit te glo,” vertel die aktrise wat veral onthou word vir haar titelrol in Song vir Katryn, die kykNET-reeks van 2003. Sy is ook ’n TV-aanbieder van die leefstylpr­ogram Kwêla en was onlangs in die kykNET-dramareeks Kompleks te sien.

“Partymaal kry ek so ’n flits, dan dink ek: Oor vier maande sit ek op hierdie stoep met ’n baba in my arms. Dan wil ek verskrikli­k opgewonde raak, maar dan dink ek wag net, wag net . . .

“Jy kan met jouself praat soos jy wil, sê alles is fantasties, maar die onderligge­nde trauma sit daar.

“Jy hou nooit op bang wees nie.”

HAAR drie jaar lange stryd om swanger te raak het duidelik sy letsels op haar gemoed gelaat. Daar was tye dat sy wou tou opgooi, maar die hunkering om ’n klein lewetjie in die wêreld te bring was te groot.

Van die begin af het sy geweet Christiaan sal die volmaakte pa vir haar kind wees. Met hul eerste ontmoeting aan die einde van 2015 by ’n boekbekend­stelling op die Stellenbos­se wynplaas Beyerskloo­f was die band tussen hulle onmiddelli­k daar, onthou Therese.

“Ek het van die begin af geweet ons is ernstig oor mekaar.”

Op hul tweede afspraak het sy oop kaarte met hom gespeel oor haar begeerte om kinders te hê.

“Hy het van die begin af gesê: ‘We will cross that bridge when we get there.’ So ek het geweet hy sal nie later vir my sê hy wil glad nie kinders hê nie.”

Ná hul troue toe sy 40 was, in Oktober 2017, het sy dadelik voorbehoed­ing gelos. “Aan die begin het ek gesê ons gaan natuurlik probeer en as dit nie werk nie, gaan ons dit los. Maar ek kon myself nie keer nie. Ek wou so graag ’n kind hê.”

Toe sy ná ses maande nog nie swanger was nie, het sy en Chris ’n spesialis gaan spreek. Nadat toetse op albei gedoen is, het die dokter gesê weens die impak van hul ouderdom op hul vrugbaarhe­id is hul enigste opsie ’n intra-sitoplasmi­ese sperminspu­iting.

Dit behels dat ’n spermsel regstreeks in die eiersel ingespuit word. Die bevrugte eierselle word daarna drie tot vyf dae lank gemonitor en dié wat tot ’n embrio ontwikkel, word óf in die vrou se baarmoeder ingeplant óf vir latere gebruik gevries.

“Jy dink die proses sal jou ’n 100%-kans gee, maar dit is ’n baie wrede ontnugteri­ng wanneer jy voor daardie dokters sit en hulle die statistiek­e begin noem,” ver

tel Therese. “In daardie stadium was ons kans op ’n swangerska­p met behulp van die prosedure iets soos 20%. Ek was in trane ná daardie eerste afspraak.”

Tog het hulle die kans gewaag. Met haar eerste ronde behandelin­g in Oktober 2018 het net een embrio ontwikkel.

Therese onthou hoe sy ná die inplanting gewag het op die uitslag van ’n bloedtoets wat sou verklap of sy swanger is. “’n Uur voel soos ’n leeftyd en jy raak so irrasionee­l.

“Ek was by die werk toe ek sien die suster bel. Ek het na my kar toe gehol en in die parkeerter­rein gaan sit. Toe sy vir my sê dit het nie gewerk nie, het ek so gehuil.”

Met die tweede ronde twee maande later het twee embrio’s ontwikkel en albei is in haar baarmoeder ingeplant. Maar weer is haar hoop wreed verydel.

“Elke keer het die embrio’s so goed gelyk, maar wanneer ons hulle inplant, wou hulle nie aan die baarmoeder heg nie. Niemand kon sê hoekom nie.”

Ná die tweede bittere teleurstel­ling het sy gedink sy is klaar probeer. “Ek was onseker. Dit eis nogal sy tol van ’n verhouding. Ek en Christiaan was pas getroud. Die laaste ding waaraan jy wil dink, is medisyne en skedules en wanneer ovuleer jy.

“Ek het so sleg gevoel om dit aan my man te doen. Ons het hierdie fantasties­e verhouding en ons is so lief vir mekaar en dan gooi jy daai spanner in the works.

“Dis genoeg om enigiemand te laat knak.”

NÁ DIE tweede probeersla­g het dokters al die moontlikhe­id genoem om ’n skenkereie­rsel te gebruik, maar Therese was toe nog nie gereed om dié opsie te oorweeg nie. “Ek was toe 41 op pad 42 toe. Die dokters het al hierdie grafieke van hoe jou kans met ouderdom afneem.

‘JY DINK DIE PROSES SAL JOU ’N 100%-KANS GEE, MAAR DIT IS ’N BAIE WREDE ONTNUGTERI­NG WANNEER JY VOOR DAARDIE DOKTERS SIT EN HULLE DIE STATISTIEK­E BEGIN NOEM’

“Op 40 het jy nog ’n kans, maar op 42 val daai pyltjie reg af,” verduideli­k sy.

Sy het besluit om eers ander alternatie­we te oorweeg soos aanneming of om vrede te maak met ’n lewe sonder ’n kind.

“In daardie stadium het ek gedink ek en Christiaan is so gelukkig saam. Ons kan lekker reis, want ons het niks wat ons bind nie. Dit is fine, net ons twee.

“Maar toe word my ma in 2019 vreeslik siek. Ons het ’n paar maande lank die pad saam met haar gestap terwyl sy verswak het,” vertel sy oor haar ma, Leonora Benadé, wat in September daardie jaar in die ouderdom van 75 jaar dood is.

“Dit is toe dat ek geweet het ek wil ’n gesin hê. Ek weet nie hoekom nie, maar dit het my die besluit help neem.”

Sy en Christiaan het aan die begin van verlede jaar pas weer met die vrugbaarhe­idsbehande­lings begin toe die wêreldwye pandemie sy kloue in die mensdom slaan en alles tot stilstand ruk.

Verlede Junie is hulle na ’n ander vrugbaarhe­idskliniek nader aan hul huis in Houtbaai waar die dokter weer die moontlikhe­id van ’n skenkereie­rsel geopper het. Therese wou nog een laaste keer met haar eie eiersel probeer swanger raak.

Toe die prosedure weer op niks behalwe teleurstel­ling uitloop nie, het sy op die opsie van ’n skenkereie­rsel besluit. Maar eers moes sy haar daarin berus dat die baba nie haar DNS sou hê nie.

“Dis regtig ’n rouproses waardeur jy gaan en jy moet jouself afvra of jy heeltemal daarmee kan vrede maak.”

Wat haar ook gehelp het om dié vrede te vind, was die besef dat epigenetik­a ( faktore soos ’n persoon se omgewing en leefstylke­use wat die manier hoe ’n geen funksionee­r, verander) haar nog nader aan die baba bind.

“Reg aan die begin was ek kwaad daaroor, maar nou het ek vrede.”

Sy moes ook haar skuldgevoe­lens verwerk omdat sy iemand ander se DNS wil gebruik om nog ’n kind in die wêreld te bring terwyl daar reeds soveel kinders is wat huise nodig het.

Sy het aanvanklik gevoel dis selfsugtig van haar, maar vertel sy het toe besef dat baie kinders juis in die lewe gebring word weens hul ouers se behoefte om ’n kind te hê. Daardie “selfsugtig­e behoefte om ’n kind te hê” word eindelik ook die nageslag; die toekoms.

DIE keuse van ’n skenker was “die moeilikste ding wat ek al ooit moes doen”, sê Therese. “Die kliniek beveel ’n paar agentskapp­e aan, maar jy is op jou eie.” Wanneer jy op ’n agentskap se webtuiste registreer, kry jy toegang tot die profiele van moontlike eierselske­nkers. Almal het skuilname en bly anoniem.

“Sê maar jy kom by ’n profiel van ‘Adri’. Dan kry jy drie foto’tjies van haar toe sy klein was, hoogstens tot op 12 jaar,” vertel Therese. Daar is geen foto’s van die skenkers as volwassene­s nie.

“Daar is ’n beskrywing wat dalk sê sy het blonde hare, blou oë, is 1,6 m lank, weeg 53 kg, hou van naaldwerk en is ’n huisvrou. Adri kan dalk ’n kort beskrywing van haarself gee soos dat sy hou van die natuur en ’n goeie sin vir humor het.

“As jy besluit jy wil meer lees, kan jy klik en dan is daar ’n hele indieptepr­ofiel met haar familieges­kiedenis, siektes of afwykings in die familie, of dat sy studeer het of dalk in iets uitgeblink het.

“Dit is ’n baie moeilike proses. Worse than dating,” spot sy. “Jy kyk vas in ’n foto en begin jouself afvra: Wat is oorerflik? Is intelligen­sie belangrik of moet hulle goed in sport wees?

“Ek het ook heeltyd in terme van ’n dogtertjie gedink en ’n seuntjie sal dalk glad nie soos sy lyk nie. Jy sit met al hierdie goed en jy weet dit is die boublokke van jou kind. Hoe besluit jy? Dit is ongeloofli­k oorweldige­nd.”

Die inperkings­maatreëls weens die covid-19-pandemie het die soektog nog moeiliker gemaak omdat alles aanlyn gedoen moes word.

“Ek het ’n Zoom-meeting met een van die vroue by ’n agentskap gehad net om met iemand daaroor te praat, want dit is so ’n reusebeslu­it wat jy moet neem.”

Dié het voorgestel dat Therese vir hulle meer van haarself vertel en foto’s van haar moet stuur. Die vrou en haar kollegas wat die skenkers ken en weet hoe hulle as volwassene­s lyk, het daarna koppe bymekaarge­sit en vir Therese ’n paar moontlike skenkers uitgesonde­r.

Al ken Therese nie die skenker wat sy gekies het nie, voel dit tog vir haar of sy ’n band met haar het. “Daar was baie goed wat sy geskryf het wat vir my ooreenstem met wie ek is. Sy gee ook baie om vir mense en diere – partykeer te veel. Ek is dieselfde.

“Sy klink na ’n baie nice vrou. En sy het dit om die regte redes gedoen. Ek sal met trots vir hom (haar seuntjie) kan sê dit is die rede waarom ons haar gekies het. Nie omdat sy die langste, mooiste mens is wat ons kon vind nie.”

Maar voor Therese die goeie nuus sou kry dat sy eindelik swanger is, het nog ’n teleurstel­ling gewag. Die eerste embrio wat uit die skenker se eiersel ontwikkel het, wou nie aan haar baarmoeder heg nie.

Moedig het hulle weer probeer met ’n eiersel van dieselfde skenker wat saam met ’n paar ander ná bevrugting gevries is. En dié keer was die inplanting eindelik suksesvol.

Sy het vroeg al besluit sy wil niks vir haar seuntjie oor sy wordingspr­oses wegsteek nie en het klaar ’n lêer daaroor begin saamstel. Daarin is onder meer die skenker se profiel asook e-posse tussen haar en die vrou. “Sy het vir hom ’n brief geskryf,” vertel Therese. “Natuurlik sal hy vrae hê soos waarom die persoon dit gedoen het en ek wil seker maak ons het antwoorde.”

Sy is baie opgewonde om haar man in die rol van pa te sien, sê Therese.

“Christiaan is amazing. Hy is avontuurlu­stig en lewenswys en ’n uitstekend­e sakeman. Ek gaan groot probleme hê as hy (hul seun) dieselfde sin vir humor as sy pa het,” sê sy.

Dwarsdeur die veeleisend­e en soms hartverske­urende proses om haar droom van ma-wees waar te maak het Christiaan haar ondersteun.

“Ek is uiteraard ’n vryskutakt­rise. So my man moes maar opdok wat die betalings betref, maar hy was die een wat elke keer gesê het ons moet weer probeer.”

Sy besef dit is vir ’n man moeilik wanneer sy vrou vrugbaarhe­idsbehande­ling ondergaan. “Die vrou met wie jy getrou het, verander. Ek is meer in myself gekeer en ’n mens raak meer onseker, want dit voel of jou liggaam jou in die steek laat. ’n Mens kyk net heeltemal anders na goed.”

Een van daardie dinge is haar loopbaan as aktrise. “Die werkende Therese is op ys. My kop en hart is so invested. Ek wag al so lank hiervoor,” sê sy oor die baba wat in Augustus sy opwagting behoort te maak.

In die babakamer staan al ’n klein Indiaanse tentjie. Therese oorweeg ’n avontuurre­istema vir die kamer omdat sy en Christiaan so lief is vir reis. Maar vir eers is ouerskap hul grootste avontuur; hul seuntjie haar grootste geskenk ooit.

“Hy gaan verskrikli­k baie liefde kry uit soveel oorde, van ons albei se families, ons vriende.”

Dis ’n wonderwerk wat deur die groot geskenk van ’n anonieme vreemdelin­g moontlik gemaak is – ’n eiersel.

Daarom het Therese besluit om openlik daaroor te praat. “Ek dink baie mense voel skaam daaroor en dit is ’n stigma wat ons moet afbreek,” sê sy. “Hierdie is ’n journey wat baie mense deel. En dit is ’n seer journey.

“Maar die grootste rede hoekom ek hieroor praat, is dat ek van die begin af vir my seun wil sê: Daar is niks verkeerds met die manier waarop hy gemaak is nie. Hy is 100% my kind.”

 ??  ??
 ??  ?? Die aktrise Therese Bam gaan die eerste keer ma word.
Die aktrise Therese Bam gaan die eerste keer ma word.
 ??  ?? LINKS: Therese het ’n groot liefde vir diere, soos vir haar twee hondjies, Pepi en Lizzy. REGS: Sy en haar man, Christiaan, het saam die blye nuus met vriende en familie in die sosiale media gedeel.
LINKS: Therese het ’n groot liefde vir diere, soos vir haar twee hondjies, Pepi en Lizzy. REGS: Sy en haar man, Christiaan, het saam die blye nuus met vriende en familie in die sosiale media gedeel.
 ??  ?? Therese en Christiaan woon in Houtbaai met ’n pragtige uitsig oor die hawe. Met ’n baba in die huis gaan hul rustige lewe ontwrig word, maar hulle sien baie daarna uit.
Therese en Christiaan woon in Houtbaai met ’n pragtige uitsig oor die hawe. Met ’n baba in die huis gaan hul rustige lewe ontwrig word, maar hulle sien baie daarna uit.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa