Huisgenoot

Die bitter beker van ’n predikants­vrou

Jare lank was sy ’n toegewyde predikants­vrou, maar toe verkul haar man haar met ’n getroude vrou – en nou is sy dakloos, werkloos en alleen

- Deur JANA VAN DER MERWE

JARE lank was sy getrou aan die sy van haar dominee-man.

Genevieve* het haar destydse werk laat vaar en alles gedoen wat van die dominee se vrou verwag sou word. Sy was betrokke by die gemeente se vrouekomit­ee, sy het bidure gelei en sy het ingespring met Sondagskoo­l en geldinsame­lingsproje­kte.

Ook tuis het sy die fort gehou. Sy het die kinders versorg, en wanneer haar man ná ’n lang dag ná sy huisbesoek­e aan gemeentele­de by die huis kom, het sy hom met ’n bord kos en beker koffie ingewag.

Maar Genevieve het haarself nooit as “Mevrou Dominee” beskou nie, en dié rol was nie altyd vir haar maklik nie. “As die dominee se vrou is jy altyd onder die vergrootgl­as. Is jou rok te kort, rol die oë. Hulle weet hoeveel slukke vonkelwyn jy by geleenthed­e drink.”

Sy moes haar byna soos ’n “marionet” gedra, vertel sy: “Jy doen en sê net die regte ding.”

Dit wás moeilik, en sy was ook nie aldag foutloos nie, erken sy.

Maar toe – ná ’n huwelik van meer as ’n dekade en die koms van haar kinders– los haar dominee-man haar onlangs vir ’n ander vrou.

En nou, sê Genevieve, het sy ten spyte van al haar opoffering­s deur die jare alles verloor. Sy is dakloos, werkloos en alleen.

Sy moes by familie intrek omdat sy nie ander verblyf kan bekostig nie, en terwyl haar eks voortgaan met sy lewe en in die nuwe liefde baai, moet sy van voor af haar voete vind.

“Dis ongeloofli­k moeilik om te dink ek moet nou van voor af begin en met jong mense in die werkmag probeer meeding. Ek moet vanoggend weer CV’s gaan uitstuur. Dit gee my slapelose nagte.”

“Die spanning het ’n groot tol van haar gesondheid geëis, en ook emosioneel,” vertel haar ma. “Sy voel verneder.”

DIE beginjare van hul huwelik was ’n sprokiesve­rhaal, sê Genevieve. Pieter* het haar hart help heelmaak nadat sy as jong vrou vasgevang was in ’n gewelddadi­ge huwelik. Sy het haar nuwe geliefde ontmoet nadat sy by die kerk op hul dorp om hulp gaan aanklop het en die dominee – met wie sy haar huwelikspr­obleme bespreek het – haar toe aan Pieter voorgestel het.

Aanvanklik het sy haar hart teenoor Pieter oopgemaak, maar toe Genevieve se nagmerrieh­uwelik verby is, het die vriendskap tussen haar en die enkellopen­de Pieter tot ’n volwaardig­e romanse ontwikkel. Hulle is nie lank daarna nie getroud.

Pieter, wat ná hul troue ’n werk as dominee op ’n ander platteland­se dorp aanvaar het, was geliefd in sy gemeente en ’n goeie prediker.

“In die oë van sy gemeente kon hy niks verkeerd doen nie. Dit was ’n eer vir hulle om hom vir huisbesoek of aandete in hul huis te hê.”

Oor die vroeë jare van hul huwelik vertel Genevieve: “Dit was soos ’n absolute droom. Hy was liefdevol, vriendelik; hy’t geluister.

“Ek glo omdat hy my agtergrond geken het, het hy my verstaan. Dit was soos ’n sprokie.

“Voor die kinders gekom het, was alles maanskyn en rose. Ons was verlief en verlore. Ons het saam gaan dans, fietsgery. Die Bybel was ons handboek.”

Tog erken sy dinge was toe al nie altyd maklik nie.

“Ek besef vandag ek het ná een van ons kinders se geboorte aan nageboorte­like depressie gely. Hy was ’n moeilike baba, en ek het heeltyd gehuil. Ek was meestal alleen.”

Sy het ook weens migraines “baie pynmedikas­ie begin gebruik”, erken sy.

’n Paar jare gelede het Pieter ’n werk by ’n ander gemeente aanvaar, en die gesin het verhuis.

“Pieter het ál meer ontvlugtin­g gesoek. Hy het baie meer begin oefen. As hy nie gewerk het nie, was hy soggens kwart oor vier uit die huis uit. Hy was toegewyd, en saans is hy weer uit om te gaan oefen.”

Sy beweer Pieter het hom van haar onttrek. “As ek net by sy rekenaar gaan sit het, het hy my daarvan beskuldig dat ek krap . . . En ek hét gekrap; ek het geweet iets is fout.”

Sy sê sy het toe opgemerk dat Pieter altyd voor en ná eredienste met Stella* staan en gesels het. “As ek hom afgeneem het, was sy altyd daar of iewers op die agtergrond.”

Genevieve sê sy en Pieter het baie oor Stella baklei, maar dat hy altyd ’n verhouding ontken het.

Die bom het gebars toe Genevieve eendag na die kerkkantoo­r gegaan en gehoor het hoe Stella se man binne vir Pieter smeek: “Los asseblief net my vrou uit!”

Pieter het daarna glo met die hele sak patats vorendag gekom, en Genevieve sê sy moes hoor Stella het ook douvoordag opgestaan en saam met hom geoefen.

Genevieve en Pieter se huwelik het toe finaal op die rotse geloop.

’n Kerklike woordvoerd­er het bevestig die leraar het deur ’n egskeiding gegaan.

“Daar was ook bewerings van ’n buiteegtel­ike verhouding. Die (betrokke) Ring het ’n kerklike tugonderso­ek deur ’n tugliggaam laat doen. Die uitkoms hiervan was dat die predikant se predikants­bevoegdhei­d weggeneem is deur die Ring.”

Hy verduideli­k “predikants­bevoegdall­es heid” is as’t ware ’n lisensie om ’n dominee te wees.

“Die noodwendig­e gevolg daarvan is dat hy sy pos as predikant van die betrokke gemeente moes ontruim.”

Hy benadruk ’n kerklike tugonderso­ek is ’n vertroulik­e proses waarvan die besonderhe­de nooit openbaar gemaak word nie.

Vir Genevieve bly dit ’n bitter beker. Volgens haar slaap Stella gereeld naweke by Pieter oor, al is haar eie egskeiding nog nie finaal afgehandel nie. Pieter en Stella bederf Genevieve se kinders glo gereeld met geskenke en uitstappie­s, maar Genevieve het nie geld om vir haar kinders iets te koop nie. “Ek gun hulle geluk, maar dit maak seer.”

SY EN Pieter is nou amptelik geskei, vertel Genevieve, en meteens is sy weer in trane. “Hy is ’n man van God. Iemand wat op die preekstoel staan en preek. Ons kinders was ’n geskenk van God, maar hy het weggegooi vir haar. Sy hele loopbaan. Dít ten koste van my en my kinders; en ’n ander vrou se huwelik, man en hul kinders.”

Sy vertel sy is bang oor die toekoms. “Ek voel bang en eensaam en bekommerd oor my kinders. Hoe vertrou ’n mens weer ná so iets?”

’n Vriendin van Genevieve – wat haar weergawe van die gebeure bevestig – vertel afsonderli­k aan Huisgenoot dit breek haar hart om haar vriendin so te sien.

“Dit is absolute emosionele hel waardeur sy is. As ek met haar praat, huil sy. Kan jy dink hoe moet iemand voel om die hele tyd te moet hoor jy is nikswerd? Genevieve was ’n dinamiese mens op haar dag. Dit is moeilik om haar so te sien.”

Maar dit is Genevieve wat die tragiese verhaal van haar mislukte huwelik self opsom: “Ek het self al baie foute gemaak . . . My groot fout was om my man op ’n troontjie te plaas.”

* Skuilname. B Huisgenoot het Pieter om kommentaar oor die bewerings oor sy affair en die kerkonders­oek genader, maar in ’n WhatsApp-boodskap antwoord hy: “Jul inligting is nie feitelik korrek nie. Ek lewer nie enige kommentaar nie en keer ook nie enige publikasie goed nie. Ek behou my regte voor.” Huisgenoot het hom daarna die geleenthei­d gebied om die feite aldus hom te stel, maar kort voor ons druktyd het hy nog nie gereageer nie.

B Stella se man wou in opdrag van sy prokureur nie met Huisgenoot praat nie, maar het bevestig hy is besig om van sy vrou te skei.

‘AS EK NET BY SY REKENAAR GAAN SIT HET, HET HY MY DAARVAN BESKULDIG DAT EK KRAP’

 ??  ??
 ??  ?? ’n Predikants­vrou is verpletter nadat haar man haar gelos het.
’n Predikants­vrou is verpletter nadat haar man haar gelos het.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa