Huisgenoot

Malusi Gigaba se vrou hang wasgoed uit

Malusi Gigaba se vervreemde vrou laat haar man les opsê met haar onthulling­s oor sy beweerde Gupta-bande en ander skandale

- Deur JOY MPHANDE

WANNEER jy van die Zondo-kommissie hoor, dink jy aan ’n waardige staatsinst­elling waar mense oor belangrike en ingewikkel­de kwessies soos tenderbedr­og en staatskapi­ng gesels. Maar die afgelope ruk het daar in dié kommissie se verhore ’n sepie afgespeel wat ’n mens eerder aan The Bold and the Beautiful laat dink. ’n Minister se stylvolle vrou wat haar man – ’n berugte pierewaaie­r – se streke die een ná die ander onthul. Stories oor kontant wat in ’n kluis weggesteek is en luukse vakansies wat deur korrupte sakelui gefinansie­r word.

Dít alles het ontvou nadat Norma Mngoma, die vervreemde vrou van oudmin. Malusi Gigaba, onlangs in die getuiebank beland het.

Gigaba is een van die land se prominents­te politici en het al in die verlede die uitsoekpos­te van minister van finansies en minister van binnelands­e sake beklee.

Maar die afgelope jare was hy ook om smeriger redes in die nuus. Een daarvan was ’n eksplisiet­e video wat deur iemand op die internet versprei is waarin Gigaba met homself vroetel.

Gigaba het destyds beweer hy het dié video eintlik vir sy vrou gemaak. Maar Norma beweer nou hy het woes agter haar rug rondgevry en het die video waarskynli­k vir iemand anders gemaak.

In Julie verlede jaar het dinge vererger toe Norma ’n Mercedes G-Wagon, wat Gigaba by ’n vriend geleen het, in ’n woedebui met ’n sleutel bygedam en diep krapmerke in die verf van dié spogmotor gemaak het.

Enige man sal seker kwaad wees as sy

vrou ’n geleende motor verniel, maar Gigaba het dit ’n stappie verder geneem. Hy het ’n aanklag ingedien, en Norma is deur die Valke in hegtenis geneem. Sy het ’n nag agter tralies deurgebrin­g, maar die saak teen haar is eindelik deur die hooggeregs­hof in Pretoria uitgegooi nadat die regters beslis het Gigaba het sy invloed misbruik deur die Valke in ’n huwelikstw­is te betrek.

’n Paar maande later het Norma een Sondagogge­nd die koerant oopgeslaan en tot haar verbasing daarin ’n berig oor die verbrokkel­ing van haar huwelik gelees, inligting wat sy glo deur Gigaba aan die koerant uitgelek is.

Nee, het sy blykbaar besluit, genoeg is genoeg. En nou is dit haar kans om haar vervreemde man te laat les opsê.

VOOR die Zondo-kommissie het sy die een skandaal ná die ander oor haar man oopgevlek: hoe hy na bewering by die omstrede en korrupte Gupta-broers duur motors, goue juwele, oorsese vakansies en sakke vol geld – letterlik – ontvang het.

Halfpad deur dié sappige onthulling­s het Norma, wat deesdae weer haar nooiensvan gebruik, ’n paar dae af gevat om asem te skep. Maar vroeg vandeesmaa­nd was sy terug voor die kommissie om nog te vertel.

Toe Gigaba haar die jawoord gevra het, het die Guptas hom met kontant oorlaai om die troue van R5 miljoen by die Durban Botaniese Tuin te finansier, beweer sy. Die Guptas kon nie self die troue bywoon nie, maar het glo derduisend­e rande gegee sodat die pasgetroud­es na Doebai kon reis om daar in die vyfsterWal­dorf Astoria-hotel gepamperla­ng te word.

Toe hul seun gebore is, het die Guptas die baba ’n halssnoer van goud gegee.

Sy beweer Gigaba het in ’n stadium so in Gupta-kontant geswem dat hy gereeld R50 000 of R100 000 op ’n slag uitgehaal het om te betaal vir Norma se uitgawes en oorsese vakansies, waaroor sy dikwels op Instagram gespog het.

Dis ook nie net voor regter Zondo dat Norma mond uitspoel nie. Sy het in ’n TV-onderhoud oor Gigaba se bande met die Guptas gesels.

Ja, sy weet sy maak waarskynli­k baie vyande met haar getuienis, vertel Norma aan Huisgenoot. Maar dis juis hoekom sy alles nou op die rekord wil kry. “Ek getuig om myself te beskerm.”

NORMA was maande vooraf senuagtig oor haar getuienis voor die kommissie, vertel sy. ’n Paar dae voor sy in die getuiebank moes staan, het sy haar in ’n hotel in Kampsbaai ingeteken om haar kop skoon te kry. Al die lelike dinge wat mense in die media oor haar sê, maak haar seer. “Maar ek het vir myself gesê ek moet sterk staan. Ek moes onthou ek is die enigste mens wat party van dié dinge weet.”

In die jare voor hul huwelik versuur het, het Norma haar man soms na die Guptas se huis in Saxonwold, Johannesbu­rg, vergesel.

Sy vertel sy en Gigaba het dié kuiers nie juis geniet nie. “Dit was nie vir my lekker nie, want ons is nie toegelaat om ons fone saam te neem nie. Maar ek wou Malusi ondersteun.”

Dis rondom dié tyd dat die eerste krake in hul huwelik begin wys het nadat Gigaba se buite-egtelike sekskapade­s die media gehaal het.

Norma het aanvanklik gedink sy sal haar man bystaan omdat hy die pa van haar twee kinders is.

En eienaardig genoeg, al getuig sy die afgelope ruk bedags teen hom, slaap Norma en Gigaba nog onder dieselfde dak. Sy sê hulle bly om die kinders se onthalwe albei in die huis in Pretoria aan.

“Ons huis is groot genoeg dat ons albei daar kan woon sonder om op mekaar se tone te trap,” sê sy. “Hy het sy helfte van die huis en ek het myne.”

Sedert sy in die openbaar oor Gigaba se verhouding met die Guptas begin praat het, het die oudministe­r, wat volhou hy het niks verkeerds gedoen nie, nog nie weer ’n woord met haar gepraat nie.

Sy sê sy gaan vir berading en vertel haar geloof, familie en vriende hou haar staande.

“Ek is nie spyt oor enige besluit wat ek geneem het nie,” sê sy. “Ek voel vry, want ek weet ek doen die regte ding.”

Sy wil so gou moontlik die hele storie agter haar sit. Een van haar drome is om in die nabye toekoms weer te studeer en haar graad in modeontwer­p te voltooi wat sy lank gelede begin het. Daarna wil sy haar eie huis kry.

Te oordeel na haar sosiale media platform sis sy steeds lief daarvoor om groot bedrae geld aan luukses te bestee. Maar dié keer, sê sy, is dit als haar eie geld.

“Ek hou daarvan om my eie geld te verdien,” sê sy. “Ek kan dit uitgee nes ek wil.”

En hoewel haar huwelik dramaties in duie gestort het, gaan dit haar nie keer om weer liefde te soek nie. Sy is nog nie seker of sy sover sal gaan om weer te trou nie, maar sy hou haar opsies oop.

“Volgende keer sal ek seker maak ek vra waar die geld vandaan kom.” B Malusi Gigaba se regspan het Huisgenoot se versoek om kommentaar na hom verwys. Hy het teen druktyd nie gereageer nie.

‘EK IS DIE ENIGSTE MENS WAT PARTY VAN DIÉ DINGE WEET’

 ??  ?? Norma Mngoma het skokgolwe veroorsaak met haar Zondo-getuienis teen haar vervreemde man, Malusi Gigaba.
Norma Mngoma het skokgolwe veroorsaak met haar Zondo-getuienis teen haar vervreemde man, Malusi Gigaba.
 ??  ?? Die vervreemde egpaar woon steeds saam ter wille van hul kinders, sê Norma.
Die vervreemde egpaar woon steeds saam ter wille van hul kinders, sê Norma.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Norma vertel sy voel vry ná haar getuienis, want sy weet sy “doen die regte ding”.
Norma vertel sy voel vry ná haar getuienis, want sy weet sy “doen die regte ding”.
 ??  ?? Norma is verlede jaar in hegtenis geneem nadat sy ’n Mercedes G-Wagon verniel het. Sy het glo gedink dit behoort aan een van Gigaba se beweerde skelmpies.
Norma is verlede jaar in hegtenis geneem nadat sy ’n Mercedes G-Wagon verniel het. Sy het glo gedink dit behoort aan een van Gigaba se beweerde skelmpies.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa