Die eiesoortige Malcolm Gladwell
HY HET DIE HOUDING VAN ’N OORGRETIGE VERMAKER OP ’N KINDERPARTYTJIE; DIS ALLES VREEMD AANSTEEKLIK
Hy kan wetenskap tot verteerbare brokkies wysheid vereenvoudig; dis dié dat sy boeke soos The Tipping Point, Outliers en Blink die blitsverkoperlyste oorheers. Malcolm Gladwell kyk terug op sy loopbaan en verduidelik waarom ’n plakkaat van ’n diktator teen sy muur pryk
WEINIG dinge sal jou aandag van ’n gesprek met Malcolm Gladwell kan aflei: Die skrywer is ’n bol merkwaardige feite, verrassende staaltjies en swaaiende arms. Tog dwaal my aandag weg, want teen sy kantoormuur in Hudson, New York, is ’n reusefoto van Mao Zedong.
In sy kenmerkende grys pak en met ’n effense grynslag hang die moorddadige Chinese diktator dreigend bo die 57-jarige Malcolm se regterskouer.
Hy dink die plakkaat is skreeusnaaks. Hy het dit 15 jaar gelede op ’n garageverkoping gekoop en onlangs weer in ’n kas daarop afgekom, vertel hy.
“Ek het gedink hoe snaaks dit sou wees om Mao oor my skouer te kan sien terwyl ek by my lessenaar besig is,” vertel hy. “Hierdie werklik veragtelike tiran herinner my aan hoe belangrik dit is om menslik te wees terwyl ek werk.”
Dis hoe Malcolm is: eienaardig, anders en ’n meester van verrassing.
Ons ontmoet mekaar op Zoom, ek in ’n halfdonker hotelkamer in Manhattan; hy in sy sonnige kantoor. Kommerwekkend maer in sy kappietop, met sy kenmerkende bos krulhare kort geknip,
doem Malcolm se gesig byna té naby die skerm op elke keer wanneer hy iets wil benadruk.
Hy het die houding van ’n oorgretige vermaker op ’n kinderpartytjie, maar dit is alles vreemd aansteeklik. Al hou jy nie van sy “slim dink”-roetine waaruit ’n hele bedryf uitlopers en nabootsers gespruit het nie, is dit onmoontlik om in die man se geselskap verveeld te wees.
Hierdie eienskappe het sy buitengewone loopbaan aangevuur wat strek oor 25 jaar by The New Yorker, ses blitsverkopers en ’n ontluikende podsendingryk waarvan ’n nuwe program, Revisionist History, die anker is. Dit bied alternatiewe blikke op allerlei kwessies soos waarom gholfbane ’n bedrogspul is en die verskil tussen Israelse en Amerikaanse chutzpah. Revisionist History se sesde seisoen begin binnekort en dit verskyn gereeld boaan die trefferlyste.
Dit is geen oordrywing om Malcolm die beroemdste intellektueel in Amerika en dalk die wêreld te noem nie: een van daardie seldsame slimkoppe wie se boeke gewilde Kersgeskenke is. Vooraanstaande geleerdes, van John Gray tot Daniel Kahneman, kritiseer hom oor sy geneigdheid om die wetenskap in kitskos te verander, maar niemand kan stry dat hy ’n boeiende storieverteller is nie. Die boeke wat hom bekend gemaak het – The Tipping Point, Outliers en Blink – floreer nie omdat hulle oorspronklik is nie; dit is suksesvol omdat hy vervelige akademiese navorsing met fassinerende vertellings verweef.
MALCOLM laat hom nie maklik in ’n boksie plaas nie. Sy Jamaikaanse ma, Joyce, het sy Britse pa, Graham, in die 1950’s by University College London ontmoet. Hy was ses toe hulle van Southampton na Ontario, Kanada, getrek het waar sy pa ’n wiskundeprofessor aan die Universiteit van Waterloo was.
Is hy Brits, Kanadees, Jamaikaans of Amerikaans? “Ek het soveel mededingende identiteite, ek kies die een wat op daardie oomblik die gerieflikste is,” sê hy.
“In Kanada is dit lekker om mense te herinner jy’s Engels; in Amerika is dit lekker om mense te herinner jy’s Kanadees; in Engeland is dit lekker om mense te herinner jy’s Jamaikaans.”
Malcolm het aan die Universiteit van Toronto studeer, maar sy punte was nie goed genoeg vir nagraadse studie nie. Toe word hy ’n joernalis, eers by The Washington Post en toe by The New Yorker, waar hy oor populêre wetenskap geskryf het. In 2000 het sy boek The Tipping Point verskyn; sedertdien oorheers hy sy veld.
Maar nie almal waardeer sy vereenvoudigings of sy sukses nie. Sy bekendste teorie, die “10 000 hours rule”, waarvolgens dit rofweg 10 000 uur duur om ’n gegewe vakgebied te bemeester, word gereeld verkeerd bewys.
“Malcolm Gladwell is Amerika se bes betaalde sprokieskrywer,” was die opskrif van ’n resensie in The New Republic deur prof. John Gray oor sy boek van 2013, David & Goliath. Dit gaan oor hoe die agteros teen alle verwagting in seëvier.
’n Resensent in Esquire het selfs ’n naam vir Malcolm se tegniek bedink: die “Gladwell-skynhou”. Dit is wanneer ’n skrywer ’n voor die hand liggende aanname oor die wêreld bevraagteken, vir die leser vertel hulle het die kat aan die stert beet en hulle dan vlei deur daarop te sinspeel dat hulle onbewustelik heeltyd geweet het wat die regte antwoord is.
“Dit pla my nie regtig nie,” sê Malcolm oor die kritiek. “Dit gaan alles oor jou doelwit. As jy ’n professor is in Engelse letterkunde aan Oxford wat ’n akademiese boek skryf wat die hoogtepunt van ’n leeftyd van navorsing is, moet jy liewer nie uitsoekerig wees en vereenvoudig nie. As jou gehoor mense is wat so slim en geleerd soos jy is en jy skryf iets wat nie op daardie vlak is nie, sal jy as ’n mislukking en ’n bedrieër beskou word.”
Maar sy gehoor is ’n perd van ’n ander kleur. Hy wil “13-jariges”, “ryk Republikeine in Texas” of die mens bereik wat net twee boeke per jaar lees. Hy glo hulle kies sy werk omdat dit prettig en toeganklik is en dit stel hulle bloot aan idees wat hulle dalk nie andersins sou teëkom nie.
“Vir my om iets te skryf wat dig en dof is en op die fynste besonderhede te let sou die boek nutteloos vir daardie mens maak,” sê hy. “Daardie einste akademikus wat krities teenoor my is: Ek is nie krities teenoor hulle nie. Ek aanbid hulle.”
Hy wys nederig daarop dat Jesus immers ook in gelykenisse onderrig het.
“Jesus het een bekende preek, die bergpredikasie, gelewer. Die res is bondige
stories wat jy self moet deurdink.” Hy verseker my sy pandemie-ervaring was taamlik maklik. Hy het dit tussen sy boomryke blyplek in die noorde van die staat en die kantore van sy Pushkin-podsendingryk in Hudson, sowat 200 km van New York af, deurgebring. Of dit saam met ’n metgesel was, sê hy nie. “Die Britte vra altyd hierdie vrae,” klik hy sy tong.
Hy het baie tyd gehad om aan sy stokperdjies te wy. Dit draai hoofsaaklik om karre koop, karre verkoop, oor karre stry, spoedboetes kry en “die wonderlikste tydskrif te lees – Car, waarvan ek elke uitgawe sedert 1990 of so het”.
As ’n aartsoptimis is Malcolm gretig om die moontlike voordele te midde van die afgelope jaar se ellende raak te sien. Hy hoop dat as die uittog uit stede soos Londen en New York voortduur die eiendomspryse sal daal en “interessanter” mense dan sal terugtrek.
Hy meen ook ons onlangse ervarings kan ons die nodige gereedskap gee om die klimaatskrisis te oorleef.
“Dit het ons geloof in die wetenskap en in gesamentlike optrede herstel,” sê hy. “Dit het ons daaraan herinner dat ’n goeie regering werklik saak maak en ’n vrotsige regering alles opmors.”
Hy dink die samelewing het bewys dat dit geharder is as wat ons verwag het. “Die ontsettende lewensverlies was die verwagte deel,” sê hy. “Die onverwagte deel was dat ons nie gevou het nie.”
Malcolm slaan oor na sy nuwe boek – ’n geskiedenis van die bombarderingstrategie in die Tweede Wêreldoorlog – om sy siening te illustreer.
“Vat die Blitz. Almal het gedink dit sou tot wydverspreide paniek lei, maar dit het nie. Die teenoorgestelde het gebeur. Dit leer mense in Brittanje hulle is baie sterker as wat hulle besef het. Mense stof hulle af en gaan aan met hul lewe. Hulle besef die oorlog, al is dit verskriklik, is geen rede om skreeuend die bos in te hardloop nie. Ek dink die pandemie het
’n soortgelyke uitwerking op baie mense.
“Dié wat oorleef het, het geleer hulle is veerkragtiger as wat hulle gedink het; die samelewing is veerkragtiger as wat hulle gedink het.”
The Bomber Mafia, sy sewende boek, word later vandeesmaand bekendgestel. Dalk omdat hy weet sy “Gladwell-skynhou” raak ’n bietjie afgesaag, is dit ’n geskiedenisboek oor die bombardering in die oorlogstyd pleks van ’n netjies verpakte popsielkundeboek. Dit het uit sy podsendingreeks ontwikkel en is steeds herkenbaar Gladwelliaans – eksentriek en meevoerend – maar die onderwerp wyk skerp daarvan af.
Sy fassinasie met die Tweede Wêreldoorlog kom uit sy kinderjare in Engeland toe hy behep was met oorlogstories. Teen sy kamermuur was ’n foto van hom onder ’n standbeeld van Lord Nelson. Toe sy pa hom vertel hy het ’n Luftwaffe-bom in sy tuin in Kent gekry wat nooit ontplof het nie, was hy meegevoer.
“Kan jy jou ’n beter storie vir ’n agtjarige seun voorstel? Om te hoor jou pa was deel van ’n oorlogstorie het net onmoontlik glansryk gevoel. Op daardie ouderdom weet jy niks van die vrees en grusame werklikheid van die oorlog nie.”
THE Bomber Mafia vertel van ’n groep skrander Amerikaanse lugmagoffisiere by die Maxwell-lugmagbasis in Alabama wat voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog ’n teorie oor presisiebomwerping ontwikkel het. Die gruwels van die Westelike Front van die Eerste Wêreldoorlog het by hulle gespook, en hulle het gehoop lugkrag en nuwe tegnologie soos bomvisiere kon oorlog doeltreffender maak. Bomwerpers het uitgesoekte teikens getref – fabrieke, bevelsposte, toevoerkanale – en verhoed dat soldate in hul miljoene in gevegte oor ’n stuk modder sterf.
Maar, soos die 19de-eeuse Pruisiese genl. Helmuth von Moltke graag gesê het, geen plan oorleef kontak met die vyand nie. Selfs met die nuwe bomvisiere en al het hulle bedags probeer vlieg om akkuraatheid te verbeter (teen ’n verskriklike prys), was die bomwerping in die hitte van die stryd eenvoudig nie akkuraat genoeg om spesifieke teikens te tref nie.
Op die ou end het die Amerikaners na die Britse benadering van “areabombardering” – baie intensiewe bombardering – oorgeslaan. Dit dek teikengebiede van belangrike nywerheidstede, dikwels dig bevolk, om die vyand se moreel te tap en algemene chaos te saai.
Dit was wreed, en party geskiedkundiges meen dit was ’n oorlogsmisdaad, maar teen 1944 is sulke besware in die wind geslaan.
Die Amerikaanse verandering van strategie het van krag geword toe genl. Haywood Hansell deur die onmenslike en onsentimentele genl. Curtis LeMay as hoof van 21st Bomber Command in Guam vervang is. Dit was Amerika se lanseerblad vir lugaanvalle op Japan.
Onder druk om Japan op sy knieë te dwing het LeMay die brandbomveldtog beplan en gelei. Nuut ontwikkelde napalm is gebruik om digbewoonde houtstede tot as te verbrand. Dit het aansienlik meer lewens as die atoombomaanvalle in Hirosjima en Nagasaki geëis. “Meer mense het waarskynlik hul lewe binne ses uur verloor as op enige ander tyd in die geskiedenis van die mensdom,” skryf Malcolm. Hy raam tot 100 000 mense het in die aanvanklike brandbomaanvalle op Tokio in Maart 1945 gesterf.
Met hul terugkeer na Guam
‘EK VOEL ONS HET VERGEET WAT DIT BETEKEN OM MENSE TE VERGEWE EN VERSKILLE TE AANVAAR’
moes vlieëniers hul vliegtuie ontsmet om die reuk van brandende vleis uit te kry. Altesaam 67 ander Japannese stede het Tokio se lot gedeel.
Maar ten spyte van die gruwel veroordeel Malcolm nie die generaals nie.
“Ek is simpatiek oor die lot van besluitnemers op daardie oomblik. Teen 1944 was hierdie ouens in die lugmag tot op die been uitgeput, hulle het tientalle kollegas verloor en was deur hel, nie ’n week of ’n maand nie – jare lank. Dis vir my moeilik om uit my goed geleë kantoor in Hudson ’n oordeel te vel.”
Die bombarderingsmafia – wat almal nes Gladwell bedagsame en stelselmatige mense was – se sending het misluk. Pleks daarvan om miljoene soldate te red het lugbombardering tydens die Tweede Wêreldoorlog die bloedbad vererger deur burgerlike bevolkings van Londen en Dresden tot Tokio te verwoes.
Al het hulle die rusie oor bombarderingstaktiek verloor, het hul benadering tog geseëvier – Hansell en sy bende sou in hul noppies gewees het met vandag se presisietegnologie.
“Afstandbeheerde tuie verteenwoordig vordering, maar geen oorwinning nie,” sê Malcolm. “Die bombarderingsmafia was reg dat presisiebomwerping ’n morele verbetering is, maar dit los niks van jou probleme op nie. As dit die waarskynlikheid verhoog dat jy bomme sal gebruik om ’n konflik op te los, is dit ’n netelige kwessie.”
Een mens teenoor wie Malcolm minder simpatiek is, is Arthur Harris, die eerste lugmaarskalk in beheer van die Britse lugmag se Bomber Command en die bombardering van Duitsland.
“Ek dink hy was ’n psigopaat,” sê Malcolm.
Harris was daarvoor verantwoordelik dat Dresden in Februarie 1945 platgevee is. Dit het 25 000 of meer lewens geëis om ’n militêre voordeel te kry wat sedertdien bevraagteken word.
“Ek het ’n mate van simpatie vir sy posisie, maar van die besluite wat hy teen die einde van die oorlog geneem het, was eenvoudig mal.”
As Harris ’n psigopaat was, stem Malcolm dalk saam met die veldtog om sy standbeeld in die middestad van Londen te verwyder? Nee, glad nie.
“Mense wat standbeelde wil afbreek, dryf my tot radeloosheid,” sê hy. “Ons het meer standbeelde nodig, nie minder nie. Kom ons laat waai met die standbeelde; hulle bied goeie geleenthede om vir mense geskiedenis te leer.”
Hy stel voor ’n standbeeld van Harris se heftigste kritikus, die verpleegster Vera Brittain, word langs syne opgerig. “Jy kan Vera met soveel venyn en veragting moontlik na die bomgooier Harris laat kyk; sy het gedink hy’s ’n monster.”
SY ONGEWONE voorstel oor die standbeelde som op wat vir my die interessantste ding van Malcolm is. In die kultuuroorloë wat die media nou besig hou, kies hy nie kant nie. Hy is van dubbele herkoms, die seun van ’n Jamaikaanse vrou wat vooroordeel ervaar het toe sy in die Engeland van die 1950’s met sy wit pa getrou het.
Hy skryf nadenkend oor die kwessies van ras, segregasie, polisiëring en identiteit. Hy staan die een of ander vorm van vergoeding vir slawerny voor, want hy glo “alles het dieper wortels as wat jy dink”.
Tog maak Malcolm se konserwatiewe
Christelike opvoeding, sy besige verstand en sy ingewikkelde identiteit hom wrewelrig oor party nuwe ideologieë. Hy is byvoorbeeld steeds skepties oor die wettiging van dagga, want hy meen die voorstanders daarvan het nog nie genoeg feite verstrek nie.
Nie net is hy gekant teen die afbreek van standbeelde van aaklige ou mans nie; hy steun ook vryheid van spraak onvoorwaardelik. Dit laat hom met party Amerikaanse linkses koppe stamp.
“Ek voel ons het vergeet wat dit beteken om mense te vergewe en verskille te aanvaar,” sê hy.
Hy was veral woedend toe die nuut aangestelde redakteur van Teen Vogue, Alexi McCammond (27), nie die betrekking aanvaar het nie oor ’n paar rassistiese twiets wat sy op 17 oor Asiërs geskryf het. Alexi se innige verskoning was nie genoeg om haar te red nie. “Dis absurd,” sê hy. “Hoekom sal jy ooit ’n tydskrif getiteld Teen Vogue hê as jy nie in die morele ontwikkeling van tieners belangstel nie?”
Sy voorkeur vir menslike kompleksiteit bo morele absolutisme is verfrissend. Hy het gedink dit was “wonderlik” toe die Amerikaanse genealogiese TV-program Faces of America hom inlig dat voorsate van hom in Jamaika ’n slaaf besit het.
“Dit het my daaraan herinner dat die lewe nie altyd skoon of helder is nie; hoe ingewikkeld ons as mense is. Dit sal my regruk as ek ooit wil hiet en gebied.”
Dit, dink ek, is die ander geheim van Malcolm se sukses: sy geesdrif. Hy is bly om ’n donker hoofstuk in sy familie se verlede te ontdek, want dit is ’n geleentheid om iets nuuts oor die geskiedenis te leer. Hy hou van sy plakkaat van Mao, want dit is ’n geleentheid om mense aan die dink te sit. Hy hou van obsessiewe mense en bleeksiele, want hy is ook een.
In ’n wêreld van sinici en pessimiste is sy onbeteuelbare optimisme ’n welkome teenvoeter. Hy glo ons kan beter vaar.
Toe ek hom vra wat hom steeds ná al sy sukses motiveer, vertel hy my van ’n podsending-episode wat hy nou oor die wetenskap van wasgoedmiddels maak.
“Daar is 1 000 mense in Cincinnati, doktors, wat hul dae daaraan wy om te probeer uitwerk hoe die waspoeier Tide jou klere beter kan skoonmaak. En ek kan saam met hulle uithang,” vertel hy.
“Wie wil dit nie doen nie? Ek vermoed op 80 sal ek dit steeds wil doen. Dis pret.”
Dit klink vir my na ’n saai storie, maar soos ek Malcolm ken, sal hy ’n manier kry om dit fassinerend te maak.