Prettige doodskis te vier die lewe
Met sy unieke doodskiste probeer ’n Nieu-Seelander om ’n hartseer dag vir families ’n bietjie draagliker te maak
ALMAL weet hoe droewig ’n begrafnis kan wees. Toe die Nieu-Seelander Ross Hall eendag sit en sy testament opstel, het hy oor sy eie sterflikheid begin nadink en hom afgevra of hy ook met ’n morbiede seremonie die ewigheid ingestuur wil word. “Een ding wat ek besef het, was dat ek nie in ’n bruin boks gegroet wil word nie,” onthou Ross. “Toe skryf ek in my testament hulle moet vlamme op my doodskis verf.”
’n Paar dae later het Ross begin wonder of daar ander mense is wat soos hy voel. Dié besef was die vonk wat tot die ontstaan van sy onderneming, Dying Art, gelei het. Deesdae maak Ross en sy kollegas ongewone en dikwels eienaardige kiste vir families wat hul ontslape geliefdes met ’n tikkie skouspel wil groet.
“Party mense is tevrede met ’n bruin houtboks, en dis wonderlik. Maar as hulle met ’n groter ophef koebaai wil sê, is ek hier om hulle te help,” vertel hy.
Een van Ross se onlangsste skeppings was ’n kis in die vorm van ’n éclair vol geklitste room. Dié kis was vir sy neef Phil McLean, wat in Februarie sy stryd teen kanker verloor het.
“Die éclairkis was nogal spesiaal. Ons het kunsskuim aan die kante van die kis geplak en toe twee dae lank daaraan gewerk om dit soos ’n éclair met room te vorm. Toe dit mooi vorm aangeneem het, het ons dit geverf.”
Op dié begrafnis in Auckland het mense te lekker gelag toe hulle die kis sien.
Dit het hulle gehelp om die hartseer en gesukkel van Phil se laaste weke te vergeet, sê sy weduwee, Debra McLean. “Almal se laaste herinnering aan Phil is nou van dié lekkerny en sy humorsin.”
Van Ross se ander skeppings sluit in ’n seilboot (met seil, roer, kajuit, kiel en al), sjokoladestafie, vleuelklavier en Ferrari. Een persoon het selfs ’n kis aangevra met motiewe uit die rolprent The Matrix.
“Ons het al ’n kis van Lego gebou, ’n brandweerwakis wat die kerk op wiele ingerol het en nou dié éclair,” som Ross sy gunstelinge op.
NADAT hy die inspirasie sowat ’n dekade gelede gehad het, het Ross die idee vir sy bont doodskiste met ’n paar begrafnisondernemers gedeel. Nie een van hulle het die moed gehad om iets so ongewoon aan hul kliënte te smous nie.
“Ek het tot 20 verskillende ontwerpe gemaak en met ’n brosjure by begrafnisondernemers ingeloer. Hulle het almal gedink ek is mal,” vertel hy. Maar Ross het vasgebyt en kort voor lank was daar mense wat hom gekontak het om te vra of hy vir hul geliefde ’n kis sou maak.
Sy kiste kos tussen R30 000 en ’n stewige R80 000, afhangend van hoe ingewikkeld die ontwerp is, maar Ross hou vol hy doen dit nie vir die geld nie.
“Ek kry soveel vreugde daaruit om ’n hartseer dag ’n bietjie ligter te maak.
“Ons kry wonderlike terugvoer van die familie oor die verskil wat so ’n kis kan maak. Dit gee ’n heel ander kleur aan ’n treurige oomblik.”
Die eenvoudigste kiste kan in sowat vier uur aanmekaargesit word, maar die meer uitspattiges neem dae.
“Soos jy kan dink, moet ons vinnig werk. As ons ’n bestelling vir ’n kis kry, los ons alles en werk dadelik daaraan.”
Ross begin gewoonlik met ’n gewone, kaal kis van plankhout en veselbord en voeg dan die fyner detail by. Hy gebruik
’n digitale drukker vir die ontwerpe. Hulle gebruik ook geen boumateriaal wat sukkel om ondergronds te vergaan of die omgewing kan beskadig nie.
“Ons voel sterk daaroor om omgewingsvriendelik te wees,” sê Ross.
Wanneer hy die spesiale doodskis klaar aanmekaargesit het, vervoer Ross dit na die begrafnis met ’n Cadillaclykswa wat uit Amerika ingevoer is.
DIE begrafnisbedryf is nie meer wat dit in die ou dae was nie, vertel dié Nieu-Seelander. “Mense dink deesdae aan ’n begrafnis as ’n lewensviering eerder as ’n rougeleentheid. En hulle is dikwels bereid om vervelige ou gebruike uit te gooi en eerder iets unieks te doen.”
Debra stem saam. Sy sê haar man, wat in die ouderdom van 68 oorlede is, was besonder lief daarvoor om met sy kampeerwa deur die land te ry en op verskillende plekke fyngebak te koop. So lief was hy vir dié soetgebak dat een van sy eerste gedagtes ná sy kankerdiagnose was dat hy in ’n éclair begrawe wou word.
Hoewel die bioafbreekbare kiste feitlik altyd saam met die oorledene begrawe word, is Phil op die laaste oomblik na ’n plankkis oorgeskuif omdat die kunsskuim aan sy kis nie maklik in die grond sou ontbind nie en dus nie omgewingsvriendelik sou wees nie. Ross gaan sy neef se éclairkis as ’n aandenking hou.
En is Ross self nog vasbeslote om in sy vlamkis begrawe te word? Nee, hy het intussen van plan verander. Deesdae sê Ross hy wil in ’n kis met deursigtige kante begrawe word. Pleks van ’n kispak wil hy net ’n deurtrekkertjie aanhê. Om verstaanbare redes is sy kinders nie baie erg oor dié idee nie. “Hulle sê hulle sal dit nie doen nie,” vertel Ross en lag.
Maar vir eers geniet hy sy werk in die begrafnisbedryf en hoop hy dat hy sy werk nog lank sal kan voortsit.
“Jy moet ’n sekere soort mens wees om as begrafnisondernemer te werk; dis nie altemit nie,” sê hy. “Dit het my lewensuitkyk verander – deesdae herinner ek myself elke oggend as ek wakker word dat ek moet leef asof dit my laaste dag is.
“Ons maak so baie kiste en sien soveel mense heengaan. Die ergste is die besef dat alles verby is as jy daai kis se deksel toemaak. Dié hele proses het my baie dankbaar gemaak vir elke oggend wat ek nog wakker kan word.”
‘HULLE MOET VLAMME OP MY DOODSKIS VERF’