Huisgenoot

Bill Gates se peperduur egskeiding

Ná 27 jaar gaan Bill en Melinda Gates skei. Hier’s ’n kykie na hul liefdespad

- Saamgestel deur KIM ABRAHAMS

OP HUL troudag 27 jaar gelede het Bill en Melinda Gates ’n eenvoudige geskenk van haar ouers ontvang. Dit was ’n beeldjie van twee voëltjies wat langs mekaar sit en in die verte tuur. Melinda het dit in hul voortuin gesit. “Ek dink altyd aan hulle,” het Melinda al oor die voëltjies opgemerk, “want ek en Bill is ook so; ons kyk in dieselfde rigting.” Wel, nie meer nie.

Ná meer as ’n kwarteeu se getroude lewe strek Bill en Melinda nou hul vlerke om in afsonderli­ke rigtings te vlieg.

Hul egskeiding­sooreenkom­s gaan ’n paar baie groot syfers bevat. Bill, die vierde rykste mens op aarde, is ’n asemrowend­e R1 900 miljard werd – meer as die bruto binnelands­e produk van sommige lande.

Net hul huis (met onder meer ’n kunsmatige strand met sand wat van die Karibiese Eilande ingevoer is), ’n gimnasium, fliekteate­r en 24 badkamers – al is daar net sewe slaapkamer­s – het ’n waarde van sowat R2 miljard.

Niemand het die egskeiding voorspel nie. Die skatryk programmee­rder en sy dinamiese vrou was nie die soort wat partytjies gehou en saam met flieksterr­e uitgehang het nie. Hulle het hulle nog altyd met liefdadigh­eidswerk besig gehou.

Sedert hulle in 1994 getroud is, het hulle deur hul Bill and Melinda Gates Foundation meer as R500 miljard vir die stryd teen malaria, MIV/vigs, hongersnoo­d en ander humanitêre kwessies geskenk.

En nou lyk dit asof die twee wat soveel gedoen het om ander te help nie hul eie liefdesboo­tjie bo water kon hou nie.

Dit is glo die 57-jarige Melinda wat Bill om ’n egskeiding dagvaar. In hofstukke gebruik sy die gebruiklik­e rympie: Hul verhouding het “onherstelb­aar verbrokkel”. In die dae ná die aankondigi­ng het

dit uitgekom dat Melinda al in Oktober 2019 met egskeiding­sprokureur­s gepraat het, maar dat die egpaar gewag het tot hul jongste, Phoebe, 18 jaar oud geword het voor hulle die egskeiding formeel bekend wou maak.

DIE toekomstig­e mev. Gates het Bill ontmoet toe sy in 1987 as produkbest­uurder by Microsoft begin werk het. Hulle het op ’n werkgeleen­theid langs mekaar aan tafel beland, en ’n jaar ná Melinda se aankoms by die maatskappy het hulle hul liefde oor en weer verklaar.

Bill is ’n beroemde slimkop en ’n bietjie eksentriek; dit het nie altyd soos ’n gewone verhouding verloop nie.

Melinda het glo eendag in Bill se kamer ingeloop waar hy besig was om ’n lys van die voor- en nadele van die huwelik op ’n witbord te maak.

Daarby het hy voor hy Melinda in 1993 gevra het om te trou eers die toestemmin­g van sy vorige meisie, Ann Winblad, gevra. Ann was blykbaar tevrede daarmee: Sy het opgemerk Melinda het die regte “intellektu­ele stamina” vir Bill.

Die twee het in 1994 in Hawaii by die 12de putjie van ’n hotel se gholfbaan aan mekaar trou beloof in ’n seremonie wat R4 miljoen gekos het. Bill het al die helikopter­s op die eiland vir die dag gehuur net om te keer dat iemand anders die troue uit die lug afneem.

Drie kinders, Jennifer (23), Rory (21) en Phoebe (18), is gebore. Bill en Melinda het moeite gedoen om hulle so normaal moontlik groot te maak. Selfone was verbode tot hulle 14 jaar oud was, almal het skottelgoe­d gewas en hulle is aangemoedi­g om boeke te lees. Bill het die kinders gereeld skool toe geneem om gehaltetyd saam met hulle deur te bring.

Bill en Melinda het in hul testament bepaal die kinders sal elk eendag $10 miljoen erf, maar nie ’n sent meer nie. Die res van hul rykdom gaan alles aan welsynorga­nisasies. Hulle is nou betrokke by The Gifting Pledge, wat rykes aanmoedig om die grootste deel van hul fortuin weg te gee vir opheffings­werk.

IN DIE laaste jare het daar plek-plek krake in hul sprokie opgeduik. Melinda het in onderhoude opgemerk hul huwelik is nie altyd maklik nie, veral omdat Bill 16 uur per dag werk en min tyd vir die gesin het. “Ek kan dae onthou waar dit so moeilik in ons huwelik gegaan het dat ek gewonder het: ‘Kan ek dit doen?’,” het sy in 2019 met hul 25ste huwelikshe­rdenking in ’n onderhoud aan The Sunday Times gesê.

Sy onthou hoe “verskrikli­k alleen” sy gevoel het ná Jennifer se geboorte, en sy moes toe hard werk om hul huwelik weg van die rotse af te hou. “Bill was die uitvoerend­e hoof van Microsoft en was vreeslik besig – almal wou ’n stukkie van hom hê. Ek het net gedink: ‘Oukei, miskien wou hy kinders gehad het in teorie, maar nie in praktyk nie.’ ”

’n Kennis het gesê Melinda het die meeste verantwoor­delikheid op haar geneem om die kinders groot te maak, terwyl Bill hom meer in sy werk verdiep het.

Die miljardêr Warren Buffett, ’n vriend van die Gates-egpaar, het in ’n onderhoud met Fortune gesê Bill is baie slim, maar “wat die groter prentjie betref, is Melinda slimmer”.

Die familieken­nis stem saam. “Melinda het ’n ongeloofli­ke kapasiteit om te gee. Sy kan diversifis­eer, waar Bill grotendeel­s net op een ding kan fokus. Deur die jare heen was daardie een ding sy werk.”

In die dae nadat hulle hul skeiding aangekondi­g het, het skinderton­ge bespiegel dat Bill se ou vriendin Ann, self ’n IT-miljoenêr, ’n rol in die verbrokkel­ing van die huwelik gespeel het.

Ann, vyf jaar ouer as Bill, is ’n formidabel­e sakevrou met meer as 40 jaar ervaring in die IT-bedryf. Sy en Bill het drie jaar lank uitgegaan voor hy Melinda ontmoet het.

Deur hul getroude jare het Bill ’n ooreenkoms met Melinda gehad dat hy een keer per jaar saam met Ann met ’n vakansie na ’n kothuis by die see kon gaan.

“Ek en Ann kan oor biotegnolo­gie gesels terwyl ons minigholf speel,” het Bill eenkeer oor haar gesê.

“Ons dink baie dieselfde oor die wêreld en oor onsself,” het Ann bygevoeg.

Dit lyk nie of die egskeiding lelik sal raak nie. Die dag nadat hulle aangekondi­g het hulle gaan skei, het Bill aandele van R26 miljard aan Melinda oorgedra.

Hy is seker nie te bang om sy fortuin met sy vrou te deel nie. Selfs as hulle hul rykdom gelyk verdeel, sal Bill ná die skeiding R950 miljard werd wees.

Meer as genoeg geld vir alles wat hy nou op eie houtjie sal moet doen.

 ??  ?? Melinda Gates het haar man, die miljardêr Bill Gates, onlangs om ’n egskeiding gedagvaar.
Melinda Gates het haar man, die miljardêr Bill Gates, onlangs om ’n egskeiding gedagvaar.
 ??  ?? Saam met hul kinders, (van links) Jennifer, Rory en Phoebe, wat elkeen eendag net $10 miljoen (nou sowat R145 miljoen) van hul ouers sal erf.
Saam met hul kinders, (van links) Jennifer, Rory en Phoebe, wat elkeen eendag net $10 miljoen (nou sowat R145 miljoen) van hul ouers sal erf.
 ??  ??
 ??  ?? Die Gates-egpaar se luukse huis, Xanadu 2.0, by die Washington-meer in Seattle het sewe slaapkamer­s.
Die Gates-egpaar se luukse huis, Xanadu 2.0, by die Washington-meer in Seattle het sewe slaapkamer­s.
 ??  ?? LINKS BO: Hulle is in 1994 getroud. REGS: Bill het destyds eers sy eksmeisie Ann Winblad gevra of hy met Melinda mag trou.
LINKS BO: Hulle is in 1994 getroud. REGS: Bill het destyds eers sy eksmeisie Ann Winblad gevra of hy met Melinda mag trou.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa