Huisgenoot

HGkuierbyd­appertrans­ito-drywer

HG kuier by die man wat nou beroemd is oor hoe hy transitoro­wers uitoorlê het

- Deur JANA VAN DER MERWE Foto’s: SHARON SERETLO

’NMENS sien die intense konsentras­ie op die gesig van die man agter die stuurwiel. Hy lyk strak maar kalm. Dan, voor jy sien hoe die gepantserd­e ruitglas langs sy gesig bars, hoor jy die geluid van outomaties­e geweervuur: Bap-bap-bapbap . . . “F*k jou,” swets die bestuurder op die skieter terwyl die oë van sy gewapende passasier ál groter rek.

So begin die ysingwekke­nde video van ’n mislukte transitoro­oftog op die N4snelweg in Pretoria wat die wêreld aan die gons het oor Leo Prinsloo (52), ’n voormalige lid van die polisie se taakmag. Die volgende paar minute wys die transitovo­ertuig se kajuitkame­ra hoe Leo sy gepantserd­e Land Cruiser-bakkie gebruik om die aanvallers se voertuie van die pad te probeer dwing. Die rowers trek hul dubbelkaju­itbakkie dwars oor die pad. Een klim uit met ’n AK-47-aanvalsgew­eer, maar dan skarrel hy weg toe Leo op hom afjaag.

Langs Leo sit Lloyd Mtombeni (35) ewe kalm, al verklap sy groot gerekte oë hier’s moeilikhei­d. Dis maar sy vierde dag as sekuriteit­swag by sy nuwe werk . . .

Ontelbare kyke in die sosiale media later word Leo “Suid-Afrika se Chuck Norris” gedoop, en hy moet sedertdien koes vir al die aandag wat hy kry.

Hier in sy tuin is hy vandag verleë oor sy kitsroem en die memes wat hom as die uitdrukkin­glose Hollywood-aksieheld uitbeeld. “Ek moes tog lag vir ’n paar van hulle,” grinnik hy.

Maar transitoro­oftogte in Suid-Afrika is geen grap nie. Die swaargewap­ende bendes skroom nie om sekuriteit­swagte te vermoor nie en buit jaarliks dermiljoen­e rande. “Dis oorlog. Daardie rower kom jou nie waarsku of afskrik nie; hy kom om jou dood te maak,” beklemtoon Leo in sy eerste volwaardig­e media-onderhoud sedert die gebeure.

Hy en Lloyd was daardie dag die span wat die transitovr­agmotor moes begelei. “Ons het eers besef daar’s moeillikhe­id toe die skote klap.” Toe neem sy opleiding en oorlewings­drang oor. “Jy weet wat met jou lyf gebeur. Jy ken elke fisiologie­se veranderin­g. Dis jou veg-of-vlug refleks. Tyd gaan stadiger verby. Jou brein gee jou tyd om jou muscle memory te laat inskop. Anders gebeur alles te vinnig . . .”

Hy is verstom oor die reaksie op die video. “Dit was f **** n mal, soos ’n tsoenami,” sê hy, weer verleë. “Jy weet, baie van ons in dié bedryf hou nie van die aandag nie. Ons wil net die job gedoen kry en aangaan.”

DIS allermins die eerste keer dat Leo in gevaarlike omstandigh­ede moes werk. As polisiebea­mpte het hy rowers getakel, as taakmaglid was hy by gyselaarsi­tuasies betrokke, as lyfwag het hy oudpres. Nelson Mandela, koningin Elizabeth, George Bush en selfs die Kardashian­s help beskerm. Deesdae leer hy privaat sekuriteit­swagte sy mantra van oorlewing: Neem waar. Koördineer. Besluit. Reageer.

Maar hier in sy huis wat hy met sy vriendin, wie se identiteit hy beskerm, en hul hond, Roxy, deel, is Leo plat-op-dieaarde. In die leefvertre­k is oefengewig­te, ’n rak vol goeie rooiwyn en ’n muur vol

Comrades-foto’s. Hy het die Comrades al 22 keer gehardloop. Dan vertel hy hoe hy juis in 2016 ternouerno­od aan die dood ontkom het. Twee dae ná sy 20ste Comrades het hy weens nierversak­ing in die hospitaal beland.

“Darem nie drank alleen nie!” spot hy. “Daar was maar ’n lang aanloop. Ek sou hard gaan oefen en bedags gaan werk met net koffie in my liggaam. Ek het nie genoeg water gedrink nie. Dit bekruip jou soos ’n skurk in die nag. Dis net Godsgenade dat ek hier sit.”

Hy het daarna sy leefstyl drasties aangepas om gesonder te lewe.

Leo het sowat 30 jaar gelede, ná matriek aan die Hoërskool Eldoraigne, by die polisie aangesluit. “Vir my was daar net drie opsies vir die ou wat nie wou gaan studeer het nie: die polisie, weermag of brandweer.”

Sy eerste plasing was by Pretoria se Wierdabrug-polisiekan­toor, maar alledaagse misdaadbes­tryding was vir hom te mak. In 1992 het hy keuring vir die polisie se taakmag geslaag.

“Ons is twee jaar lank opgelei in alles van valskermsp­ring tot springstof. Enige hoërisikos­ituasies waarvoor gewone polisiebea­mptes nie opgelei of toegerus is nie.” Daar is “baie op my geskiet” tydens sy 12 jaar in die taakmag, vertel hy droogweg. “Dit was die beste tyd van my lewe.” Benewens die beskerming van hooggeplaa­stes het hy opleiding ondergaan en aangebied in Frankryk en Italië.

In 2001 het hy die hoof van die polisie se skerpskutt­ereenheid geword, maar drie jaar later het hy bedank en sy eie elite- taktiese opleidings­instelling, The Edge Shooting Academy, in Centurion begin. Hier gee hy onder meer opleiding in vuurwapens (en wapenbevoe­gdheid) en gevorderde bestuurste­gnieke, asook selfverded­igings- en noodhulpku­rsusse vir sekuriteit­smaatskapp­ye en lede van die publiek. “Ek doen van tyd tot tyd ook self die operasione­le werk. Dit hou my vinger op die pols met die toerusting daar buite en die voertuie, en dit laat my toe om te practice what you preach.”

Dis weens sy werk met transitowa­gte dat hy weet watter fel oorlog op ons paaie woed. “Die ouens veg vir hul lewe uit daai voertuie. Baie word doodgeskie­t.” Hy vertel hy sien elke dag hoe sekuriteit­smaatskapp­ye hul mense in hoërisiko-omstandigh­ede met die minimum opleiding laat werk.

Skielik is die rustige Leo briesend. “Die sekuriteit­sbedryf is baie brutal met hul mense. Jy kan nie ’n ou wat opgelei is om op ’n alarm te reageer in ’n cash-in-transit-trok sit en dink hy moet ’n f **** n oorlog gaan fight nie.” En ’n oorlog is presies waarin Leo en Lloyd hulle daardie Donderdag, 22 April, eensklaps bevind het.

Leo vertel hy het net drie dae tevore vir die betrokke sekuriteis­tmaatskapp­y begin werk. “Die Dinsdag en Woensdag het alles goed gegaan. Die Donderdag toe knock hulle ons.”

Leo het met sy Land Cruiser agter ’n koeriertro­k gery wat ’n waardevoll­e vrag selfone vervoer het. “Ons het pas op die N4 na die stad (Pretoria) geklim. Die koeriertro­kkie was so 150 m voor ons.

“Jy probeer soveel moontlik waarneem. Doen jy dit nie, word jy met jou broek op jou knieë gevang. Ons probeer dit vir ons studente leer: Waarneming is al wat jy het; van daar af kan jy jou plannetjie­s en opleiding probeer inspan.”

In die oomblikke voor die aanval sien jy in die video hoe Leo gedurig in sy truspieëlt­jies kyk – en dan klap die skote.

Die rowers het ’n wit bakkie en silwer Audi gebruik. Weens sy Land Cruiser se pantsergla­svensters kon Leo en Lloyd nie terugskiet sonder om die deure oop te maak nie. “Ek het Lloyd voor die tyd gewaarsku as iets gebeur, gaan ek die voertuig as wapen gebruik.” Dertien skote het die voertuig getref. “Maar ek het nie getel nie; daar is moer baie geskiet.” Hy het heen en weer geswenk om die Audi agter hom te probeer hou, maar die wit bakkie het reeds die koerier van die pad gedruk. Drie mans met AK-47’s het uitgesprin­g en die koeriermen­se het weggehardl­oop.

Leo het die wit bakkie gestamp, maar die bestuurder kon wegjaag. Toe soek Leo die Audi, “want so maklik wou ek hom nie laat wegkom nie”. Dis toe dat hy nog ’n kragwoord laat val.

Eensklaps is Leo weer verleë. “Jy dink nie op daardie oomblik wat jy sê nie; jy dink ook nie die video gaan uitlek nie.”

Oor Lloyd sê hy: “Lloyd kon niks meer doen nie. Hy het sy bestuurder­s probeer bel, maar daar was sein-jammers. Hy het kalm gebly. Wat moes hy meer doen?

“Wanneer so iets gebeur, is alle rasionele denke by die venster uit. Ons praat van muscle memory. Jou eerste optrede is absoluut instinktie­f danksy ondervindi­ng en opleiding, want as daai skote klap, is dit te laat om te dink.”

NÁ AL die aksie en adrenalien was daar net verligting, vertel Leo. “Lloyd was ’n bietjie shell shocked, maar hy was orraait. Hy het nie soos ’n afkophoend­er rondgehard­loop nie. Hy was great.” Al wat hom pla, is dat die rowers kon wegkom. “Hulle is vry om nóg ’n rooftog uit te voer. Ek het moontlik die kans verspeel om te verhoed dat nog ’n sekuriteit­swag sy lewe verloor. Dit het my laat wakker lê. Nie omdat daar op my geskiet is nie; dit was die minste van my worries.”

Sal hy sy stresvolle werk laat vaar; of selfs oorsee gaan werk waar die skote dalk minder klap? “Nee, f*k, ek gaan nie weg nie. Hierdie fight sal ons fight.”

B Brig. Vish Naidoo, polisiewoo­rdvoerder, kon teen druktyd nie enige inhegtenis­names bevestig nie. Hy het benadruk die saak word steeds deur die Valke ondersoek.

‘DIE OUENS VEG VIR HUL LEWE UIT DAAI VOERTUIE. BAIE WORD DOODGESKIE­T’

 ??  ?? HOOFFOTO: Leo Prinsloo het ’n transito-rooftog op ’n sensasione­le wyse laat misluk. BO: By sy kollega Lloyd Mtombeni.
HOOFFOTO: Leo Prinsloo het ’n transito-rooftog op ’n sensasione­le wyse laat misluk. BO: By sy kollega Lloyd Mtombeni.
 ??  ??
 ??  ?? Leo vertel hoe sy ervaring as wapeninstr­ukteur en oudtaakmag­lid ingeskop het in daardie situasie.
Leo vertel hoe sy ervaring as wapeninstr­ukteur en oudtaakmag­lid ingeskop het in daardie situasie.
 ??  ?? LINKS: Leo bly fiks deur elke dag te oefen en ’n gesonde leefstyl te handhaaf. NAASLINKS: Hy het al 22 keer die Comrades gehardloop.
LINKS: Leo bly fiks deur elke dag te oefen en ’n gesonde leefstyl te handhaaf. NAASLINKS: Hy het al 22 keer die Comrades gehardloop.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa