Huisgenoot

’N UITTREKSEL UIT ‘EEN OF ANDER HELD’

-

Terwyl Traudl se aandag op haar hande gevestig bly, benut Berghammer die kans om haar deeglik te bekyk. Sy het ’n onwêreldse skoonheid. Haar vel lyk byna deurskynen­d, haar hare is ’n goue gloed, haar oë troebel. ’n Groot hartseer hang om haar, en Berghammer raak op die plek oortuig dat dit sy plig as man is om haar te beskerm.

Dat daar reeds ’n man in haar lewe is, steek hom dwars in die krop, maar hy kry dit reg om te vra: “Is jou verloofde een van ons soldate? Ek kan probeer reël dat hy verlof kry.”

Traudl maak haar oë toe en pers haar lippe saam. “Daar is nie verlof waar hy is nie,” antwoord Dehlinger. “Hy het gesneuwel deur sy lewe te gee om sy kamerade te red. Manfred

Eberhardt was ’n ware held.”

Traudl knyp haar oë toe asof dit ’n swaar slag is om eens net die naam te hoor. “Manfred Eberhardt?” eggo Berghammer. “Ek het hom geken,” sê hy. Nou kry Traudl se oë lewe. Sy kyk na hom, en Berghammer wens sy hele lewe kan só wees. “Hy was in my peloton.”

“Dan hoef ek jou seker nie te vertel nie!” dawer Dehlinger. “Jy weet alles van sy heldedaad.”

Berghammer vat ’n slukkie wyn terwyl hy meer oor Eberhardt probeer opdiep. Eberhardt het goed gelyk op die paradegron­d, ’n netjiese kêrel, maar in die veld het hy gewoonlik aangebied om ondersteun­ingstakies te verrig, soos om na die perde te kyk, eerder as om in die voorste linie te veg.

Berghammer kan nie onthou dat hy ooit verslae oor die man se dapperheid ontvang het nie. Die omstandigh­ede van sy dood was allermins glorieryk. “Wat presies het julle daarvan gehoor?” vra hy.

“Ons het ’n amptelike brief ontvang wat die hele storie vertel. Traudl, wys vir die man.”

Traudl se vingers glip tussen haar bloes se knope in en kom met ’n stuk papier te voorskyn, in ’n vierkant gevou.

Toe Berghammer dit by haar vat, is hy intens bewus daarvan dat die stukkie papier teen haar bors gedruk het. Hy dink hy ruik ’n sweempie lyfpoeier, en miskien sweet. “Wanneer het julle dit gekry?” “In Julie, dink ek. Laat Julie. Net ’n paar dae nadat ons in Windhoek aangekom het.”

“Dis vreemd, so lank ná die gebeurde,” kan Berghammer nie help om te sê nie.

“O, jy weet mos hoe die weermag is.”

Dis juis die ding: Berghammer ken die weermag, en dit is wat hom pla. Daar is ’n stelsel om hierdie soort briewe te stuur. Dit sou hoogstens ’n paar dae of weke ná die voorval gestuur gewees het. Hy bring die vel papier nader aan sy gesig, hou die gebosseerd­e seël teen die lig. Dit lyk eg.

Dit is namens oberst Adendorff geteken. Hy sal bietjie navraag doen. Hy maak asof hy dit van nog naderby bekyk, maar konsentree­r nou op die reuk wat van die papier af opslaan. Dan vou hy dit weer toe, gee dit terug aan Traudl en loer afgunstig hoe dit onder haar klere verdwyn.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa