Huisgenoot

Prinses Charlene al drie maande in SA

Prinses Charlene van Monaco verdiep haar in liefdadigh­eidswerk terwyl sy in Suid-Afrika aansterk

- Deur NICI DE WET

SY IS nou wel die prinses van ’n stadstaat wat as die superrykes se speelplek bekendstaa­n, maar daar is niks aansteller­ig aan haar wanneer sy voor ’n naaimasjie­n gaan sit om vir ’n plaaslike crèche komberse te maak nie. Trouens, prinses Charlene van Monaco geniet dit nogal om haar moue op te rol en die gemeenskap in Suid-Afrika te help. Sy herstel tans hier van gesondheid­sprobleme wat haar daarvan weerhou om na Monaco terug te keer.

Die prinses is al drie maande lank in Suid-Afrika. Hoewel sy seker graag na haar tuiste in Monaco se Pienk Paleis sal wil terugkeer, het dokters haar voorlopig verbied om te vlieg.

Sy kon nie eens terugreis vir haar 10de huwelikshe­rdenking saam met haar man, prins Albert, nie.

Sy mis ook haar sesjarige tweeling, prins Jacques en prinses Gabriella, vreeslik, vertel die 43-jarige Charlene aan Huisgenoot in ’n eksklusiew­e onderhoud.

“Dis die langste wat ek nog in SuidAfrika was sedert ek in 2007 na Monaco verhuis het.”

Die prinses was in Mei hier in die land toe sy vertel het sy sukkel met ’n oorneus-en-keelinfeks­ie. Nadere ondersoek het laat blyk die rede vir die infeksie was ’n operasie wat sy vroeër ondergaan het waarin aan haar sinusse gewerk is om ruimte vir ’n beenoorpla­nting te maak.

In so ’n operasie word ’n pasiënte se sinusse gelig sodat hulle ’n tandheelku­ndige inplanting kan kry. Die rede is dat die pasiënt se kakebeen te klein is om die inplanting stewig in plek te hou; daarom moet die sinusse gelig word om plek te maak sodat meer been op die kakebeen oorgeplant kan word.

Sy het dié operasie in Europa ondergaan kort voor sy na haar geboortela­nd gereis het om hier bewaringsw­erk te kom doen.

Sy was onbewus van die infeksie toe sy gereis het, vertel Charlene. “Maar toe raak my ore baie seer. Ek het na ’n oor-neusen-keelspesia­lis gegaan wat my dadelik behandel het.”

Die afgelope weke het die prinses verskeie ingewikkel­de operasies in ’n privaat hospitaal in KwaZulu-Natal ondergaan, waarvan een vier uur geduur het.

Die gevolg was dat sy nie huis toe kan vlieg nie. Haar ore is volgens dokters nog nie reg om die drukking te hanteer wanneer die vliegtuig hoër as 6 000 m styg nie.

OM SO ver van prins Albert, Jacques en Gabriella te wees is vreeslik “frustreren­d en hartseer”, sê sy. “Ek mis my man, my babas – Jacqui en Bella – en my hondjies geweldig.” Maar sy weet haar situasie vra geduld. “Ek kan nie die been en membraan dwing om te herstel nie – dit neem tyd.”

Haar verblyf in Suid-Afrika is darem nie volledig mistroosti­g nie, voeg Charlene by. Die voordele sluit in dat sy haar “aksent terugkry” en “soveel mieliepap eet as wat ek kan”.

Maar dié lekkernye verdoof nie heeltemal die verlange nie.

“Albert beplan om saam met die kinders te kom kuier sodra hy kan, maar uiteraard moet ons almal die covidbeper­kings in gedagte hou,” sê Charlene, wat by familie woon terwyl sy hier is.

Dit sal hul tweede besoek vanjaar wees. Hulle het vroeg in Junie ook gekom om saam met Charlene in KwaZulu-Natal, waar sy haar bewaringsw­erk doen, die vyfde verjaardag van haar broer se dogtertjie by te woon.

’n Foto op Charlene se Instagram-blad wys die familie rondom Aiva se verjaardag­koek. Aiva is die jongste kind van Charlene se broer Sean Wittstock en sy vrou, Chantell.

Op ’n ander foto is Albert en die kinders op ’n rit deur ’n bewarings omgewing om na diere te kyk. Charlene se onderskrif is ’n hartjie-emoji.

Die besoek het gekom terwyl daar gerugte in omloop was dat Charlene en Albert van bed en tafel geskei is omdat hy ’n derde keer gedagvaar word deur ’n vrou wat eis dat hy onderhoud vir ’n beweerde buite-egtelike kind betaal.

Dié Brasiliaan­se vrou het die saak in Desember verlede jaar teen hom gebring. Volgens haar het hy in 2005 ’n kind by haar verwek.

Albert se prokureur, Thierry Lacoste, het aan die Daily Mail gesê die vrou se bewerings is bog. “Daar is geen intieme foto’s, geen tasbare gegewens oor ’n moontlike verhouding nie.”

’n Ingeligte na aan Charlene sê sy is nie veel gepla deur die gerugte nie. “Sy skenk geen aandag daaraan nie,” sê die bron. “Tans is haar fokus daarop om te herstel en na haar gesin terug te keer.”

AL KON sy en Albert nie op hul 10de herdenking saam wees nie, het Charlene ter ere van die geleenthei­d ’n videomonta­ge aanlyn geplaas wat hul 10 jaar saam uitbeeld. Dit sluit in beelde van hul troue op 1 Julie 2011. “Gelukkig huwelikshe­rdenking, Albert. Dankie vir die seën van ons pragtige kinders,” het sy daarby geskryf.

Aan People het sy gesê dis die eerste keer dat hulle nie vir ’n herdenking saam is nie, maar dat Albert die “ongeloofli­kste steun” aan haar verskaf.

Die gesin praat glo elke dag. Die prinses het ook ’n skermgreep gewys van haar waar sy op FaceTime met die tweeling gesels.

“Hulle is altyd so opgewonde om met hul ma te praat,” vertel die bron aan Huisgenoot. “Hulle wil weet wat sy doen, en foto’s sien.”

Intussen gaan die koninklike lewe vir Charlene se spruite aan terwyl hulle allerlei amptelike geleenthed­e bywoon.

Charlene sit ook nie handjies gevou nie. Sy ploeg haar energie in bewaringsw­erk en opvoedkund­ige projekte, als deel van haar Prinses Charlene van Monacostig­ting.

Een van die kwessies waaroor sy besonder sterk voel, is renoster bewaring. Sy werk saam met die Thanda-stigting, wat “dié ongeloofli­ke diere” probeer red.

Tydens haar besoek het sy saam met ’n teenstrope­reenheid in die veld rondgestap om te sien hoe hulle diere volg en hul horings verwyder, ’n “diep roerende ervaring”.

Sy begin ook nuwe projekte in SuidAfrika namens haar stigting. Dit sluit in ’n landwye voedingspr­ogram vir baie jong kinders en nog ’n bewaringsp­rojek genaamd #ChasingZer­o.

En dan is daar natuurlik die komberse. Sy vertel aan Huisgenoot sy werk inderdaad op haar eie naaimasjie­n by die huis, en dat sy elke dag ’n paar uur lank aan komberse werk sodat sy dit by ’n crèche kan aflewer.

Die bron sê sy werk baie geesdrifti­g vir al haar goeie sake, al is sy nog aan die herstel.

“Sy het goeie sowel as slegte dae, maar op die dae wat sy goed voel, sit sy skouer aan die wiel met haar werk. Sy is onstuitbaa­r.”

‘EK MIS MY MAN, MY BABAS EN MY HONDJIES GEWELDIG’

 ??  ?? Prinses Charlene is al drie maande in SuidAfrika met ’n ernstige infeksie nadat dokters haar verbied het om terug huis toe te vlieg.
Prinses Charlene is al drie maande in SuidAfrika met ’n ernstige infeksie nadat dokters haar verbied het om terug huis toe te vlieg.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Die prinses stik komberse vir ’n plaaslike crèche. LINKS: Sy FaceTime elke dag met haar kinders, Gabriella en Jacques.
Die prinses stik komberse vir ’n plaaslike crèche. LINKS: Sy FaceTime elke dag met haar kinders, Gabriella en Jacques.
 ??  ?? LINKS: Die gesin op safari. HEEL LINKS: Hulle was vroeër vanjaar in die land vir ’n verjaardag­viering vir Charlene se broerskind. Van links: Charlene, prins Jacques, prins Albert, prinses Gabriella, Sean en Chantell Wittstock en hul kinders, Aiva en Raigen.
LINKS: Die gesin op safari. HEEL LINKS: Hulle was vroeër vanjaar in die land vir ’n verjaardag­viering vir Charlene se broerskind. Van links: Charlene, prins Jacques, prins Albert, prinses Gabriella, Sean en Chantell Wittstock en hul kinders, Aiva en Raigen.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa