Huisgenoot

29 SEPTEMBER 1969 TULBAGH-AARDBEWING

-

Op dié dag in 1969 het ’n aardbewing met ’n omvang van 6,3 op die aardbewing­skaal die Wes-Kaap getref. Dit was die grootste aardbewing wat al ooit in Suid-Afrika opgeteken is.

Die skudding het om en by tienuur die aand begin. Boere en inwoners van die distrik het gevoel hoe die grond skielik bokspring onder hul voete.

“Ek het gesien hoe die aarde na ons toe aangerol het soos golwe op die see,” het Anneline Fredericks, toe 18 jaar oud, aan ’n tydskrif vertel. “Ons het later gehoor dit het 30 sekondes aangehou, maar vir ons het dit soos ’n ewigheid gevoel, asof dit nooit wou ophou nie.”

Die plekke wat die ergste deurgeloop het onder skade, was die Bolandse dorpe Wolseley, Ceres en veral Tulbagh, waar 12 mense dood is, verskeie beseer en talle ou geboue vernietig is.

Die skudding is nie net tot in Kaapstad gevoel nie; mense het dit selfs in Durban waargeneem.

“Ons het daar gestaan en mekaar styf vasgehou terwyl ons na die donderende geluide geluister het,” sê Anneline. “Die bome is uit die grond uit geskud en het omgeval met wortels en al. Kragdrade is styfgetrek en het gebreek en geval.”

Destyds was minder oor aardbewing­s bekend. Die polisie het gou gereageer, maar daar was nie enige veiligheid­smaatreëls in plek om mense in so ’n ramp by te staan nie.

Aardbewing­s wat enige gevaar vir mense inhou, is baie seldsaam in Suider-Afrika – ons is ver van enige baie aktiewe tektoniese plate.

Daar is plekke waar hierdie plate op die aarde se oppervlak gereelder teen mekaar skuur en bewegins veroorsaak, maar hier is dit stil.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa