Huisgenoot

LUPITA SE HART KLOP SUID!

Dié Oscarwenne­r het liefde gevind in die arms van ’n Suid-Afrikaanse legende se seun

- Saamgestel deur NASIFA SULAIMAN

’NMENS ken haar uit flieks soos Black Panther en 12 Years a Slave. En jy weet waarskynli­k vir laasgenoem­de het sy ’n Oscar as beste vroulike byspeler gewen. Maar weet jy enigiets oor Lupita Nyong’o se privaat lewe? Weet jy met wie sy al uitgegaan het? Kan jy enige sappige brokkies oor haar liefdeslew­e noem? Waarskynli­k nie.

Oor haar privaathei­d waak dié 39-jarige aktrise, wat van Keniaanse en Mexikaanse afkoms is, omtrent soos die vreeslose vrouekryge­r wat sy in Black Panther gespeel het.

Toe die skinderton­ge so ’n ruk gelede wou-wou bespiegel dat sy met Michael B. Jordan (35), haar medester in Black Panther, uitgaan, het sy bloot geswyg en die gerugte laat bedaar. Toe daar gefluister is sy en die akteur Jared Leto (51) is meer as net vriende, was sy tevrede om almal maar net te laat wonder.

Vir ’n ster is dit moeilik om haar persoonlik­e sake uit die kollig te hou, het Lupita al gesê, maar vir haar bly privaathei­d belangrik.

As dit dan die dag sou gebeur dat sy bereid sou wees om in die openbaar iets oor haar hartsake te sê, sou ’n mens weet dit moet oor iets gaan waaroor sy baie ernstig voel.

Wel, daardie dag het nou aangebreek. Dié aktrise het op Instagram self aangekondi­g daar is ’n “geliefde” in haar lewe.

’n Mens kan dus met reg bespiegel dit moet iemand wees op wie sy behoorlik halsoorkop verlief is.

En in ’n verwikkeli­ng wat dié nuus vir Suid-Afrikaners besonder opwindend maak, blyk dit haar geliefde het sterk bande met ons land – Selema Masekela (51) is die seun van Suid-Afrika se superberoe­mde jazzpionie­r Hugh Masekela.

Selema, of Sal, soos sy vriende hom noem, het op sy eie sosiale media die verhouding bevestig. “Ons harte klop in gelid,” het hy gesê.

Hier is wat ons weet van Lupita en Sal se liefdesver­haal.

LIEFDE MET DIE EERSTE OOGOPSLAG

Sal het al in 2016 sy visier op Lupita gestel. Hy het destyds op Twitter vir sy vriende raad gevra oor wat hy sou moes sê as hy ooit eendag die voorreg sou hê om haar te ontmoet.

“Gestel – hipoteties natuurlik – jy sit agter Lupita Nyong’o in ’n vliegtuig, wat sal jou eerste woorde aan haar wees?” het hy geskryf. “As enigiemand ’n goeie ysbreker vir my met Lupita het, stuur dit. Want ek sit op die oomblik regtig agter haar op hierdie vlug.”

Een van sy volgelinge het voorgestel: “Vertel haar jou pa het na haar verwys in een van sy vertonings, en vat dit dan van daar af.”

“Ek dink ek sal dié voorstel gebruik,” het Sal reageer.

Of hy hom toe wel in die vliegtuig aan haar bekend gestel het, en of hy inderdaad met sy beroemde pa gespog het, is nie bekend nie. Maar indien hy nie daardie dag met haar gesels het nie, het hy iewers tussen 2016 en 2022 die moed bymekaarge­skraap, en dinge het lekker vir hom uitgewerk.

FAMILIEVAK­ANSIE

Jy weet ’n meisie is ernstig wanneer sy jou aan haar familie voorstel. En Lupita het glo vir Sal al ’n paar keer na familiebye­enkomste saamgeneem.

Toe die Nyong’os die nuwe jaar in ’n bergoord in Wyoming verwelkom het, was Sal ook daar. Haar ouers, Peter en Dorothy, asook haar broer, Junior, en sy vrou, Wanja, sou dus die kans gekry het om hom deeglik deur te kyk.

Sal het Lupita op die vakansie ook gewys hoe om sneeuplank te ry . . . en as die

liefde nie reeds haar hart vinniger laat klop het nie, sou die adrenalien dit beslis kon doen.

WAT IS VOLGENDE?

Alle aanduiding­s is dat dinge ernstig raak. Die paartjie het blykbaar reeds ’n huis van $4 miljoen (R68 miljoen) gekoop. Dié nessie met vier slaapkamer­s en vyf badkamers sit glo op die kruin van ’n krans in die Topanga Canyon in Los Angeles.

Luidens berigte kan die inwoners van die huis hulself volledig self in stand hou – daar is sonkrag, kragopwekk­ers en ’n waterfiltr­eringstels­el agter die staalhekke versteek.

KINDERKLAN­KIES

Hoewel Lupita daarvoor bekend is dat sy nie graag uit die huis uit praat nie, het sy al in die verlede gedeel hoe moeilik dit vir haar is om nie ’n gesin te hê wat haar by die huis inwag nadat sy ’n dag op ’n filmstel gewerk het nie.

“Almal wil huis toe gaan na ’n gesin toe nadat hulle hul dag se werk voltooi het, en dit maak baie sin,” het sy in 2015 in ’n onderhoud gesê.

Blykbaar sit haar ma ook druk op haar om vir haar kleinkinde­rs in die wêreld te bring.

“Dis my probleem,” sê Lupita. “Toe ek in Kenia was, het ek saam met my ma rondgery en sy sou dinge sê soos: ‘Dit is ’n lekker skool vir kinders daardie’ en dan het sy na my gekyk . . .

“My ma wil hê ek moet nóú kinders kry. Maar ek dink dit sal afhang van wanneer ek die tyd het. En wanneer ek die man het.”

’n Mens wonder wat is deesdae haar verskoning?

SEEWATER-GEESDRIFTI­GE

Toe hy in Los Angeles grootgewor­d het, het Sal veral van branderpla­nkry begin hou. In 2018 het hy ’n sakeondern­eming van sy passie gemaak toe hy by die SuidAfrika­anse branderpla­nkrymaatsk­appy Mami Wata aangesluit het.

Die doel van dié ondernemin­g is om die “branderpla­nkkultuur te herdefinie­er” met hul modereekse en bykomstigh­ede.

Destyds met die openingsaa­nd van die maatskappy in Venice, Kalifornië, was niemand anders nie as Lupita die vrou aan sy sy.

 ?? ??
 ?? ??
 ?? ?? LINKS en ONDER: Sal het onlangs saam met Lupita en haar gesin met vakansie gegaan. Hulle het al verskeie kere saam weggebreek.
LINKS en ONDER: Sal het onlangs saam met Lupita en haar gesin met vakansie gegaan. Hulle het al verskeie kere saam weggebreek.
 ?? ?? BO en REGS: Die paartjie het saam ’n luukse huis gekoop op ’n krans in Topanga Canyon in Los Angeles.
BO en REGS: Die paartjie het saam ’n luukse huis gekoop op ’n krans in Topanga Canyon in Los Angeles.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa