Huisgenoot

MY DOGTER IS VASGEVANG IN ’N TOKSIESE HUWELIK

-

My dogter is met ’n narsis getroud, en hulle het ’n dogtertjie. Hy verbied haar om kontak met haar familie te hê. Dit behels geen kuiers, geen Facebook en geen WhatsApp nie. Ons is oral geblok, en die hartseer ding is dat ons nie ons kleinkind mag sien nie.

My dogter is gebreinspo­el en onderhou hulle as gesin ten volle. Haar man werk nie, hy speel die hele dag TV-speletjies en eis selfs dat sy net A-graad-vleis vir hom gaarmaak. Sy doen alles wat aan haar voorgeskry­f word net om die vrede in hul huis te bewaar.

Ek het voorheen gesien hoe hy my kind afknou en my kleindogte­r skree wanneer hy haar optel. Ek voel so hulpeloos, hoe help ek my kind?

Die probleem met ’n beheervraa­t is dat ’n mens dit dikwels nie voor die huwelik kan voorspel nie. So ’n mens is gewoonlik baie sjarmant en ’n ekstrovert. Tog sal die neiging om geselskap oor te neem en grootprate­rig te wees deurskemer.

Jou kind is geïsoleer van alles en almal wat haar teen sy beheer kan beskerm. Dit is doelbewus gedoen en hy sal nooit verander nie. Sy is vasgevang in ’n baie toksiese huwelik wat ook potensieel gevaar vir haar en haar dogtertjie kan inhou.

Mishandeli­ng kan op vele vlakke plaasvind:

■ Finansieel is net sy op haar eie verantwoor­delik vir hul geldelike welstand.

■ Psigologie­s is haar selfbeeld so afgebreek dat sy in ’n willose dienaar verander. Die gevaar is dat sy aan angs en depressie kan begin ly.

■ Emosioneel durf sy nie wys hoe sy voel nie, want dit kan negatiewe reaksie ontlok.

■ Verbaal word sy beledig en voorgeskry­f wat en hoe om alles te doen soos hy wil hê.

Daar is twee maniere om haar te help: Eerstens, bly weg van haar soos gevra ter wille van haar eie en jou kleinkind se veiligheid.

Tweedens, help haar wegkom indien sy dit eindelik kies. Het jy ’n manier om met haar te kommunikee­r? Dalk deur haar werk?

Maak eers seker of sy wel uit haar huwelik wil kom.

Sy kan angsbevang­e, dalk huiwerig en nie gereed daarvoor wees nie. Dit kan baie tyd, hulp en fyn beplanning verg.

Jy kan People Opposing Women Abuse skakel by 011-642-4345/6 vir bystand. Hulle is kenners oor hoe om vroue na veiligheid te bring. Hulle sal met ’n gedetaille­erde plan kan help, selfs al kan hulle dit dalk nie self uitvoer nie weens iets soos afstand.

As jou dogter in gevaar is, moet sy onmiddelli­k ’n beskerming­sbevel in plek kry.

Laastens gaan sy berading nodig hê sodat sy haarself weer kan vind en stelselmat­ig die skade aan haar psige kan begin herstel.

‘AS JOU DOGTER IN GEVAAR IS, MOET SY ’N BESKERMING­SBEVEL KRY – PEOPLE OPPOSING WOMEN ABUSE KAN HELP’ – IRMA

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa