Huisgenoot

Bobby Stuurman

Ons het dié Kapenaar as Langes in Arendsvlei leer ken. En deesdae woeker hy ook agter die skerms

- Deur JODY-LYNN TAYLOR

VAN LANGES TOT WHALIED

Kykers het Langes byna vier jaar gelede leer ken as die handlanger van die skurk Bompie (Jarrid Geduld) in Arendsvlei.

Sedertdien het hy besluit om ’n nuwe blaadjie om te slaan deur sy lewe reg te ruk en mense se vertroue terug te wen.

In die proses het hy ook Ayesha (Megan Saayman) se hart gewen en is dié twee onlangs getroud. Hul pad was egter vol stampe en stote tot voor die kansel.

Ayesha se ouers was hoogs ontsteld omdat sy in ’n verhouding is met iemand wat nie ’n Moslem is nie. Langes moes harde klippe kou en het toe die groot besluit geneem om Islam te aanvaar. Nou is hy bekend as Whalied Jonkers.

Dit was Bobby (28) se eerste televisiet­roue. “Die moskee waarin ons geskiet het, was pragtig. Ek het baie Arabies geleer vir die proses wanneer ’n Christen die Islam-geloof aanneem. Dit was regtig intimidere­nd om voor ’n imam te praat wat werklik opgevoed is in die geloof en taal,” sê Bobby.

Hy het die afgelope vier jaar baie saam met sy karakter gegroei.

“Ek is mal oor die feit dat Langes oor die jare ontwikkel het. Daar is ’n paar ooreenkoms­te tussen ons. Ons is albei beskermend en gee om vir die mense wat ons liefhet en sal enigiets

doen om hulle te beskerm.” Bobby woeker ook agter die skerms as dialoogafr­igter en opleidings­regisseur. Ander Arendsvlei­ers wat al dié rol beklee het, is Jarrid Geduld en Roberto Kyle.

KIELIE DIE LAGSPIERE

Die akteur oefen ook die lagspiere in die fliek Hans steek die Rubicon oor wat nou in teaters vertoon word.

Die fliek – met veteraanak­teurs soos Pierre van Pletzen, Tobie Cronjé en June van Merch – is gegrond op die topverkope­rboek en gewilde radiodrama deur die skrywer Rudie van Rensburg.

“Om die fliek te skiet was regtig pret. Ek het altyd gedink ek kan komedie doen nie, want ek is nie snaaks nie. Met hierdie fliek het ek besef jy moet net getrou bly aan jou karakter en pret hê,” sê Bobby.

Om die akteur Danny Ross as sy broer te hê was die kersie op die koek. “Toe ek sien hy gaan my broer speel, was ek ’n bietjie bang, maar toe ek die dag instap, het hy my met ’n groot glimlag gegroet en al my senuwees het weggegaan,” sê hy.

LEEF SY DROOM

Bobby het hoofsaakli­k in Bishop Lavis en Bellville grootgewor­d. Hy het in 2013 aan die Hoërskool Settlers gematrikul­eer en daarna by die Universite­it van Kaapstad teater en opvoering studeer.

Hy is die enigste akteur in sy familie. Ouboet Timothy (32) is ’n grafiese ontwerper en sy jongste broer, Joshua (20), studeer sielkunde.

Sy ouers, Olivia en Donovan, ondersteun hom. “My ma is baie verbaal in hoe trots sy op my is, terwyl my pa reguit tot by die punt kom. Hy sal my altyd ’n drukkie gee, sê hy is trots op my.”

Die akteur het verlede jaar met sy onderwyser­es-meisie, Nicole (25), getrou. Hul eerste jaar as getroudes beskryf hy as ongeloofli­k en pret. “Ons geniet dit om roomys te kry, flieks te kyk, saam nuwe herinnerin­ge te maak en ons eie gesinstrad­isies te begin,” sê hy.

Bobby verklap hy het sosiale angs, en tuis in Kuilsrivie­r, weg van die kameras, lees hy graag, speel videospele­tjies en is mal oor die prettige reeks RuPaul’s Drag Race.

Sy vrou herinner hom dikwels om terug te kyk op sy pad tot hier en homself af te vra of sy jonger self sou trots wees op hom. Bobby kan met trots sê: “Ja, hy sou.”

 ?? ??
 ?? ?? LINKS: Bobby Stuurman speel Langes in Arendsvlei. REGS: Ayesha (Megan Saayman) en Whalied (Bobby) op hul troudag.
LINKS: Bobby Stuurman speel Langes in Arendsvlei. REGS: Ayesha (Megan Saayman) en Whalied (Bobby) op hul troudag.
 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa