LIEWE MANIE EN FAF,
EK IS nie die wêreld se grootste rugbykenner nie, maar ek is ’n fan. My kinders is ook. Ons het voor 2019 se Wêreldbeker ’n Monopoly-bord gekoop waar elke blokkie ’n ander Bok se naam en foto wys. My jongste se gunstelingkaart was Bongi Mbonambi, en ons het ontsettend gesukkel om hom te oortuig hy móét ook ander Bokke koop om die speletjie te kan wen, want hy wou elke keer nét vir Bongi hê.
Toe julle twee daar teen die Iere in Frankryk pale toe mik en nie oorskop nie, het ek vir my kinders gesê: “Sien, almal maak foute, selfs die Bokke. En kyk: Hulle gee nie op nie, hulle hou aan probeer. Hulle sal leer uit hulle foute en dalk nuwe dinge probeer en op ’n ander dag weer wen.”
Toe my kinders die volgende oggend opstaan, het hulle nog steeds gedink die Bokke is die beste span in die wêreld, selfs al het die wêreld se eintlike no. 1span ons die vorige aand ná ’n helse taai wedstryd gewen. Hoekom?
Want hulle is fans. Hulle trek elke Vrydag hulle groen-en-goud-hempies aan, want hulle ondersteun die Bokke met onwrikbare geloof in óns span, hetsy ons dan nou foute maak of nie, en hetsy ons dan nou wen of nie.
Ek is trots op my seuns omdat hulle weet dís wat dit beteken om iemand of iets te ondersteun. En ek is trots op die Bokke omdat julle my kinders iets leer wat die lewe soms ontken: Niemand skop altyd oor nie. Maar volgende keer sal daardie bal dalk weer deur die pale trek, en dan was dit elke oefenskop en al die probeerslae werd.
Die wêreld se grootste rugbykenners moet maar dink wat hulle wil oor dinge soos balbesit by die afbreekpunte, ons skopwerk onder druk, en al die ingewikkelde dinge waaroor Rassie en Jacques dan nou die regte besluite neem of nie.
In hierdie huis, en in derduisende ander, sal julle fans
bly glo en bly gil: Go,
Bokke!
Elke keer, en altyd weer.