Huisgenoot

MOEG, MOEG, MOEG VIR MA SE MISHANDELI­NG

-

V Ek het in ’n gewelddadi­ge huis grootgewor­d waar my stiefpa my ma gereeld aangerand het. Ná skool het ek myself bekwaam tot so hoog ek kon, en vandag is ek baie suksesvol in my beroep.

Ek het myself voorgeneem om nooit, ooit soos my stiefpa uit te draai nie, maar om vroue sag en ordentlik te behandel.

Ek trou oor drie maande nadat ek die vrou van my drome ontmoet het. Sy weet van my agtergrond, want my ma soek by my hulp ná elke aanranding, wat steeds gebeur.

Onlangs het my aanstaande skoonpa laat val hy hoop nie ek doen dit eendag aan sy dogter nie. Dit was ’n groot klap in my gesig, in so ’n mate dat ek dit oorweeg om nie meer te trou nie.

Ek is ook verby keelvol vir my ouers se drama, ek het nie meer die emosionele kapasiteit om my ma ná elke aanranding te help nie.

My vrae:

■ Hoe kom ek verby die oom se belediging en gaan aan met my verhouding?

■ My ma weier om haar man te los, hoekom?

A Ek is baie trots op jou! Soveel mense leef as volwassene­s dieselfde lewe as wat hulle as kinders geken het, maar jy het ’n besluit geneem dat jy nie ’n wanfunksio­nele lewe wil hê nie.

Dit neem wilskrag en vasberaden­heid om weg te breek en met ’n doelgerigt­e plan te leef.

Dit is te verstane dat jy ná al hierdie harde werk beledig voel deur jou aanstaande skoonpa se uitlating. Ek wil graag hê dat jy jul verhouding en voorgenome huwelik van jou skoonpa se kant af sien. Tot nou toe was hy die man wat sy dogter liefgehad het. Hy sou haar met sy lewe beskerm. Nou deel sy daardie liefde met jou. Hy voel magteloos wat haar veiligheid betref, want sy gaan nie meer onder sy oë wees nie. Met jou agtergrond is hy bang – hy verwar jou stiefpa se optrede met jou omdat jy uit daardie huis kom.

Ek stel voor jy het so gou moontlik ’n oop gesprek met hom. Daarin deel jy met hom jou eerlike siening oor geweld en jou morele standaard wat betref hoe ’n vrou behandel moet word. Hy gaan dit geweldig waardeer en meer gerus voel.

Wat jou ma betref, mishandeld­e vroue vind dit uiters moeilik om ’n mishandela­ar te verlaat, want:

■ Sy is te bang.

■ Sy word gedreig dat hy haar sal doodmaak as sy waag om hom te verlaat.

■ Hy dreig haar dalk dat hy iets aan jou sal doen en sy beskerm jou dus.

■ Sy is lief vir hom (glo dit of nie).

■ Sy is dalk afhanklik van sy inkomste en het niks van haar eie nie.

Moenie haar laat voel daar is niemand vir haar nie. Help haar met ’n plan van aksie en wees daar vir haar die dag wanneer sy eindelik by die deur uitstap.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa