DIE DRIE SOORTE PERFEKSIONISME
In 1991 het twee Kanadese sielkundiges, proff. Gordon Flett en Paul Hewitt, hul veeldimensionele model van perfeksionisme geskep met behulp van ’n klomp stellings waarmee mense kon saamstem of verskil, soos: “As ek ’n gemors maak of tekortskiet, is ek streng met myself”, “Ander mense is almal volmaak en hulle oordeel my as ek nie ook volmaak is nie,” en “Ek sukkel om substandaard gedrag van die mense rondom my te verdra”. Op grond van mense se reaksies het hulle drie soorte perfeksionisme geïdentifiseer:
■ Self-georiënteerde perfeksionisme is na binne gerig. Dis die lewensbenadering van ek moet volmaak wees en niks minder as volmaak nie. Dié soort perfeksionisme stel besonder hoë persoonlike standaarde en laat ’n mens jouself krities oordeel wanneer jou werk of voorkoms onvolmaak is. Dit kan ’n mens motiveer, maar eindelik gaan die motivering oor in die vermoeiende verpligting om niks minder as volmaak te wees nie.
■ Ander-georiënteerde
perfeksionisme is uitwaarts gerig. Dis die opvatting dat ander mense volmaak moet wees. Dié soort perfeksioniste is maklik herkenbaar; hulle is die mense wat heeltemal befoeterd raak wanneer jy nie hul standaarde haal nie.
■ Sosiaal voorgeskrewe
perfeksionisme ontstaan in die omgewing en dié perfeksionis glo ander mense verwag hy moet volmaak wees. Mense wat dié wanopvatting huldig, hoor oral waar hulle gaan neerhalende aanmerkings. Daar is ’n stem in hul kop wat sê hulle moet optree, lyk en presteer soos almal rondom hulle van hulle verwag. Mense met hoë vlakke van sosiaal-voorgeskrewe perfeksionisme sal tipies vertel hulle voel eensaam, is benoud oor die toekoms, het goedkeuring nodig, sukkel met verhoudings, tob oor dinge, maak hulself seer, sukkel met fisieke gesondheid, geniet nie die lewe nie en het ’n chronies swak selfbeeld.