Vlugtig terug op die skoolbanke
DIT was ’n Sondagoggend en ek lê tot die honger my uit die bed uit jaag. Jare lank eet ek elke oggend twee snye bruinbrood. Dan is ek reg vir die dag.
Maar dié oggend is daar nie brood nie, ek het vergeet om te koop. Ek staan nog so en dink wat ek sal maak om te eet, toe dit my byval van die houer vol Eid-koek wat ’n Moslemvrou my die vorige dag by die mark gegee het.
Toe ek so heerlik drie soorte koek vir ontbyt sit en eet, laat dit my dink aan toeka se geskiedenisles oor die Franse Revolusie. Ek bel toe my ou skoolmaat
en sê vir haar ek voel vanoggend soos koningin Marie Antoinette. En net daar is dit asof ons weer albei saam op die skoolbanke sit.
Ons onderwyser was ’n bobaasverteller en het die adelstand se lewe in Frankryk voor die revolusie só raak beskryf, dit het geklink of hy dit self beleef het: “Hulle het nie soos ons pap en brood vir ontbyt geëet nie, hulle is op koek en tert trakteer.”
Hy het uitgewei oor die uitspattige leefwyse: modieuse klere, fuifpartytjies en tafels wat kreun onder eksotiese kos en drank.
Die koninklikes het fees gevier terwyl die Paryse gepeupel van honger omgekom het. Ons het geboei geluister hoe die armes die paleis bestorm en was verheug om te hoor dat hulle die juk afgewerp het.
Danksy die geskenk van Eid-koek vir ontbyt, het ek vir ’n oomblik soos ’n koningin gevoel, maar gelukkig het my kop nie gewaai nie. Die beste van alles was, ek en my beste vriendin was ná 66 jaar weer ’n paar minute saam op daardie ou skoolbanke.
Mag daar elke oggend brood op elke tafel wees. NITA KOTZE