Huisgenoot

Hoekom is sjokolade so lekker?

Die Babbelbend­e vind meer uit oor dié lekkergoed waaraan mense so graag weglê

-

‘DOEF-doefdoef,” weergalm die musiek deur die Babbelboom­huis. “En een en twee en drie,” tel Palawa die kameelperd kliphard.

Sy en haar beste maat, Paloeka die leeu, is aan die dans. Hulle draai en spring en rek en strek met hul arms (of is dit voorpote?).

“Woohoo!” gil Paloeka en gooi sy arms in die lug.

Palawa knik haar kop op die ritme van die musiek. Die blink diskobal wat bo hul koppe draai, maak dat daar klein patroontji­es en liggies teen die mure van die boomhuis flonker en glinster.

“Wat op aarde doen julle?” vra hul vriendin Bibi toe sy by die boomhuis aankom.

“Kom, Bibi, kom dans saam met ons,” gil Palawa.

Bibi sien daar is ’n nuwe videoboods­kap met die jongste vraag van die dag.

“Kom ons luister na die vraag van die dag?” skree sy bo die lawaai van die musiek.

“Wat? Hou jy van die trillende vibrasies van die trom se slag?” roep Paloeka. Hy staan nie vir ’n oomblik stil nie en dans dat die sweet spat.

Bibi sit die musiek af. “Julle, ons het ’n videoboods­kap gekry en julle het nie eens gehoor toe dit deurkom nie. Kom ons luister na die vraag van die dag,” sê sy.

“Skuus, Bibi. Ons het net ’n bevlieging gekry. Toe raak ons lus vir ’n partytjie. Het die tyd só vinnig gevlieg?” vra Palawa en kyk op die horlosie.

“Wat? Het die tyd gevlieg? Is dit op pad hierheen?” vra Paloeka. Hy praat so vinning dat hy skaars asemhaal.

“Nee, liewe kweperkonf­yt, as jy sê die tyd vlieg, beteken dit die tyd het vinnig verbygegaa­n,” sê Palawa. Sy praat net so vinnig en is skoon uitasem.

“Oukei. Speel daai vraag van die dag. Ek verstaan nou alles, ek is seker ek sal sommer die vraag se antwoord ook ken,” sê Paloeka vol selfvertro­ue.

Bibi speel die video. “Hallo, Babbels. Ek wil weet, hoekom is sjokolade so lekker?” vra die dogtertjie op die skerm.

“Want dis lekker!” roep Paloeka hardop uit.

“Sjoe, ja. Dis baie lekker. Ons het vandag ’n hele boks sjokolade geëet, en dis wraggies so lekker dat as jy eers begin, jy nie weer kan ophou nie,” sê Palawa.

“’n Hele boks?” vra Bibi. “Elke laaste stukkie. Dit was soos ’n tornado van lekkerte,” sê Paloeka met ’n groot glimlag.

“Dit verduideli­k nou mooi wat

hier aangaan. Maar kom ons bel vir Ben en hoor of hy vir ons meer oor sjokolade kan vertel,” sê Bibi en skakel hul maat, die nuuskierig­e ontdekker Ben.

“Julle sal nie raai waar ek vandag rondloop nie. Ek is in ’n sjokoladef­abriek,” sê Ben.

“Ek kan julle beslis meer oor dié lekkerny vertel. Maar voor ons oor die smaak praat, kom ons gesels oor die interessan­te geskiedeni­s van sjokolade,” sê Ben.

“Sjokolade was nie altyd so soet en in sulke blink gladde bruin vormpies verpak soos ons dit vandag ken nie. Aan die begin het sjokolade heel anders gelyk. Meer as 1 000 jaar gelede het mense die bone van die kakaovrug fyngemaal en agtergekom dat jy ’n drankie van die poeier kan maak. En so was bruin drinksjoko­lade ’n lekkerte lank voor soliede sjokolade in die mode was,” sê Ben.

“In ’n stadium was kakaobone so gewild dat dit as ’n vorm van geld gebruik is. Jy kon ’n hele pampoen vir die prys van vier kakaobone gekoop het,” sê Ben.

“Later jare is die bone vir die eerste keer Europa toe verskeep, waar mense heuning en versoeters by die kakaodrank­ie gevoeg het. Dit bring ons ook al nader aan die sjokolade van vandag.

“In 1882 is ’n masjien ontwerp wat die kakaobotte­r uit die boon

kon haal. Wanneer die botter uitgehaal en weer met die oorblywend­e kakaopoeie­r gemeng en dan verkoel word, kry ons soliede sjokolade.

“Voor dit afkoel en hard word, word die mengsel baie lank gemeng en gemaal. Dis wat sjokolade daardie egalige tekstuur gee,” sê Ben.

“Maar wat presies maak dit so lekker?” vra Bibi.

“Daar is deesdae ’n belangrike bestanddee­l in die sjokolade wat ons eet. Dis suiker. Die suiker en nog ’n chemiese stof in die kakao maak dat die dopamienvl­akke in jou brein deur die dak skiet wanneer sjokolade aan die smaakknopp­ies in jou mond raak,” sê Ben.

“Wat is dopamien?” vra Bibi. “Dopamien is een van vier soorte hormone wat ons gelukkig laat voel. Wanneer jy sjokolade in jou mond sit, word seine na jou brein gestuur wat sê: Lekker! Ek wil nóg hê!

“Dis hoekom sjokolade so lekker smaak. Jou brein maak so te sê wawiele terwyl jy dit eet,” sê Ben.

“Het julle geweet wit sjokolade is nie eintlik sjokolade nie? Dis omdat daar nie kakaopoeie­r in wit sjokolade is nie. Die wit sjokolade bestaan uit kakaobotte­r, vanieljege­ursel en suiker,” sê Ben.

“Ek het dit nié geweet nie, maar sal dit beslis onthou,” sê Bibi. “Wat dink julle?”

Paloeka en Palawa lê op die vloer. Hulle is uitgeput en voel glad nie baie lekker nie.

“Ek is naar. Ek weet nie eens wat om te dink nie. Ek kon skaars na Ben luister,” sê Palawa.

“Ek dog Ben sê sjokolade laat ’n mens gelukkig voel, maar ek voel nie gelukkig nie. My kop is dan seer,” sê Paloeka.

“Ai, julle. Dis die ding. Suiker laat ’n mens net ’n rukkie lank gelukkig voel. Wanneer jy so baie eet soos wat julle nou geëet het, is dit nie goed vir jou nie. Skielik kry jy ’n energieaan­val van al die suiker, en wanneer dit klaar is, voel jy soos wat julle nou voel: moeg en siek en naar,” sê Bibi.

“Ek gaan vir julle ’n bietjie water bring. Dis altyd beter om matigheid voor oë te hou. Dit beteken jy moenie te veel van iets doen of te veel van iets eet nie,” sê Bibi en skud haar kop.

“Ai, Bibi, spyt kom mos altyd te laat, maar nou weet ons vir volgende keer,” sê Palawa en sug. “Ek gaan beslis nie weer ’n hele boks sjokolade op een slag opeet nie.”

“Nee, dankie,” sê Paloeka, en hy kreun van pyn.

● In volgende week se storie vra die Babbelbend­e: Hoe werk spiere in ’n mens (of leeu) se lyf?

‘Sjokolade was nie altyd so soet en in sulke blink gladde bruin vormpies verpak soos ons dit vandag ken nie’

 ?? ??
 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa