Huisgenoot

MY HUWELIK HET MISLUK, MAG EK AANBLY?

-

V Dit is net ’n kort vraag waarmee ek hulp nodig het: My huwelik het reeds misluk – is dit verkeerd van my om te vra om ’n eie kamer in die huis te hê? Ek kan nie skei en apart bly nie. My finansies laat dit nie toe nie. My eggenoot weier.

A Sommige mense kry dit reg om op goeie voet te bly wanneer hul verhouding of huwelik op ’n einde is. Hulle akkommodee­r mekaar se onmiddelli­ke behoeftes tot almal weer op die been is en met hul lewe kan aangaan. Dit sluit in om tydelik te help met verblyf, ensovoorts.

Maar dit is regtig die uitsonderi­ng op die reël, want huwelike wat beëindig word, is gewoonlik ’n morsige spulletjie en ontaard in ’n nagmerrie wat jare kan aanhou.

Jy noem nie wat presies dit is wat jou eggenoot jou weier nie – die kamer om in te woon of ’n egskeiding? Jy noem ook nie of julle kinders het nie. Ek veronderst­el dit is ’n nee omdat jy net een kamer vra.

Ek raai jou aan om so gou moontlik werk te kry om jou finansieel sterker te maak. As jy reeds ’n werk het, kan jy dalk vir ’n salarisver­hoging vra. Vat ’n kans daarmee.

As dit persoonlik­e skuld is wat jou rem, kan jy met die instansies onderhande­l vir ’n aanpassing in jou maandeliks­e paaiemente. Dit gaan die tydperk van terugbetaa­l verleng, so wees versigtig.

Jy kan by die Regshulpra­ad aansoek doen vir ’n prokureur om jou gratis by te staan en sodoende jou uitgawes sommer baie sny. Universite­ite se regsklinie­ke kan jou ook bystaan, as jy naby een woon.

Dit is nie ongewoon om te vra om aan te bly in ’n kamer nie – dit is dalk net nie so wys nie. Wat maak jy as jou eggenoot iemand wil nooi vir ete of koffie? Of ’n groot kuier saam met vriende wil hou?

Om te skei en steeds ’n huis te deel gaan baie problemati­es wees.

Begin om aan jouself te dink as ’n onafhankli­ke mens, en pas jou lewe daarvolgen­s aan.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa