Huisgenoot

WINTER IN MY KIND SE HART

- LYNETTE STRYDOM

Dis ’n mistroosti­ge dag in ons stad toe die laaste dag van die derde kwartaal tot ’n einde kom. Die eerste maand van die lente is verloop, maar dit voel soos winter. Dis veronderst­el om die vrolikste dag te wees, maar vandag is dit nie.

Ek is laat en sien die skouerhang­ende figuurtjie in die misreën. Waarom dink ’n mens altyd dadelik iets slegs het gebeur? In die strokiespr­ent Liewe Heksie vra hulle vir haar wat fout is, waarop sy antwoord: “Ek makeer niks, my hart is net seer.” En dit is wat ek ook vandag voel.

Wanneer ek langs my kind stop, sien ek die seer wat tot in sy ooghoeke loop, en dadelik voel dit of my dag ook uitwas tot skakerings van grys. Hy bondel homself in die klein spasie agter my sitplek. Wanneer ek in die truspieëlt­jie kyk, sien ek die groot, helder trane wat uit sy oë stroom.

Hy huil só dat ek nie kan hoor wat fout is nie. Ek stop net daar, klim uit en hou hom styf vas terwyl ek saamhuil. “Mamma sal nooit weer trots op my wees nie,” hoor ek eindelik die woorde.

Maar hoe dan, wil ek weet, ek is mos altyd trots op hom? Seker ’n swak rapport, was die heel eerste ding wat in my gedagtes opkom.

Maar Kleinsus kleur die prentjie in: Die prefekte se name is in die saal gelees. “Mamma, met elke naam het ek gewag vir my boetie se naam,” vertel sy terwyl haar oë soos twee waterpoele lyk. “Tot die laaste naam gelees is, en dit was óók nie my boetie nie.”

Maar toe is dit Ouboet self wat sy skouers terugtrek en dapper laat hoor: “Mamma, ons kyk net vorentoe.” Ai, my kind, dis grootmensr­aad uit ’n baie klein kind se klein mondjie.

Ja, my kind, so werk die lewe.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa