ENGEL IN ’N AGTERSTRAAT
Ek was ’n volslae alkoholis. Dis hoe my storie begin.
Ek het een aand ná ’n funksie saam met vriende verder gaan kuier by ’n kroeg êrens in die agterstrate van Johannesburg.
In die loop van die aand het ons mekaar verloor en ek het toe maar op my eie aanhou drink tot die plek toegemaak en ek besope in my kar geklim en gery het.
Wat daarna gebeur het, het my tot op die been geruk. ’n Ruk nadat ek die pad gevat het, het ek my bewussyn verloor. Toe ek weer bykom, het ek besef my kar staan in die middel van ’n agterstraatjie in ’n onbekende, agterlike buurt. Ek het skielik bewus geword van ’n man wat langs my sit. Ek het yskoud geword en wou natuurlik so gou as moontlik wegkom, maar my kar wou nie vat nie. Dit het nie eens ’n geluid gemaak nie. Ek was gestrand en alles wat moontlik en onmoontlik met my kon gebeur, het deur my gedagtes geflits.
Ek kon skaars dink of beweeg van vrees, maar toe sê die man in ’n rustige stem vir my dat ek nie bekommerd moet wees nie; hy was daar om my te beskerm. Ek het dadelik ’n rustigheid en ’n nugterheid oor my voel neerdaal. Ek het ’n insleepdiens en ’n vriend gebel. Terwyl ek en my onbekende beskermer gewag het, het ons begin gesels oor my lewe, my drinkery en my lewenskeuses. Tussen die geselsery deur het ek ’n paar keer probeer om die kar aan te skakel, maar die enjin was so dood soos ’n mossie.
Uiteindelik het die insleepdiens en my vriend saam daar aangekom. Toe ek uitklim, wou ek die man bedank vir sy hulp, maar hy was weg. Ek het my vriend en die insleepouens gevra of hulle hom gesien het, maar niemand het geweet van wie ek praat nie.
Wat volgende gebeur het, bly tot vandag toe nog vir my ongelooflik. Die insleepspan wou weet wat met my motor verkeerd is. Ek het die sleutel gedraai om vir hulle te wys dit wil nie aanskakel nie, maar net daar het die enjin begin dreun. Ek het die gefluister en die skewe kyke geïgnoreer en vir my vriend gevra of hy sal bestuur; op daardie oomblik het ek besluit ek sal nooit weer dronk agter ’n stuurwiel inklim nie. Ons het in stilte huis toe gery – nie omdat ek verleë en skaam was nie, maar omdat my gesprek met die geheimsinnige vreemdeling my gedagtes oorheers het.
Ek was ’n volslae alkoholis, maar ek het daardie aand ’n engel ontmoet. En ek is vandag amper sewe jaar al nugter. – Anoniem