Huisgenoot

MY OUERS SKEI NÁ 30 JAAR

-

My ouers is 30 jaar getroud en nou wil my pa van my ma skei. Sowat vyf jaar gelede het my pa se oog gedwaal en was daar ’n verhouding met ’n ander vrou, maar my ouers het aan hul huwelik gewerk en weer probeer.

Nou het my pa uitgetrek en by sy ma gaan bly. Hy sê hy kan nie meer my ma se drankprobl­eem en die daaglikse rusies hanteer nie.

My ma wil glad nie erken sy het wel ’n probleem met drank nie.

Ek het gedink hulle sou hul egskeiding soos volwassene­s hanteer, maar dit het oorgespoel na my toe. Ek is die oudste dogter, en my ma neul by my om met my pa te praat. Sy wil nie aanvaar my pa wil haar los nie.

Haar salaris is ook nie groot nie, en sy kom nie by die maandeliks­e betaling van die munisipale rekening, kos of persoonlik­e uitgawes uit nie. My pa betaal steeds die huis en motor.

Sy leen nou gedurig geld by my, en ek weet nie of sy dit op drank uitgee nie.

Ek het finansiële verantwoor­delikhede teenoor my eie gesin en kan eintlik nie help om haar te dra nie.

Sy beskuldig my ek kies my pa se kant en doen niks aan haar probleme nie.

Ons woon meer as ’n duisend kilometer van mekaar af, dus kan ek nie sommer net gou inloer nie.

Sy kan nie by my kom woon nie, want dit sal probleme in my huishoudin­g en huwelik veroorsaak.

Die stres wat hierdie situasie by my veroorsaak, begin nou my eie gesin affekteer.

Wees eerlik met jou ouers ,en sê vir hulle jy kan nie betrokke wees by hul probleme nie.

Hulle is albei mooi groot en dit sal hulle dwing om self tot aksie oor te gaan.

■ Jou ma:

Sy moet hulp kry vir haar drankprobl­eem, of hulle nou skei of nie.

Die feit dat sy jou vra om met jou pa te praat, beteken heel waarskynli­k sy het nie insig in die werk wat sy in haarself moet insit nie. Sy kan ook nie in ’n huis woon wat sy nie kan bekostig nie.

Die regshulpra­ad kan ’n prokureur gratis voorsien om haar by te staan sou hulle skei.

Omdat hulle binne gemeenskap van goedere getroud is, sal jou ma se finansiële situasie verbeter afhangende hoe die egskeiding­sbevel lyk.

Sy kan dan baie goedkoper verblyf kry.

■ Jou pa:

Enige mens het ’n versadigin­gspunt vir probleme, en jou pa het waarskynli­k syne bereik. Indien hy ernstig is oor skei, moet hy so gou moontlik werk maak daarvan, anders kan hulle in ’n situasie beland waar hul vir jare so leef.

Berading is die ander opsie, maar jou ma sal dan steeds hulp moet kry vir haar drankmisbr­uik.

Sterkte vir jou.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa