Waardeer jou maat se konstante teenwoordigheid
luister ek na ons kerk se boodskap en word getref deur die vraag: In watter stadium van jou lewe is jy nou?
My man is sewe jaar gelede oorlede. Ons het nie baie saam gesels nie. Hy’t alleen in sy kop saam met sy boerdery geleef, maar hy was daar. Ek kon langs hom op die bank gaan sit wanneer ek raad nodig gehad het. Hy het my telkens met sy blitsvinnige oplossings en steun verras.
My boodskap aan ouer vriende wat nog ’n lewensmaat het: Al gesels julle selde, is julle so bevoorreg om nog die konstante teenwoordigheid
van iemand te hê; ’n alomteenwoordige klankbord.
Ouderdom bring die onvermoë om “sommer net” te gaan kuier of winkelvensters te gaan kyk. Tuis vul ek nou my dae met lees en televisie kyk. Ek gaan kerk toe, daar word my siel gevoed. Ek bring dit wat my geraak het huis toe, maar met wie deel ek dit? Herhaal ek dit aan my kinders, voel hulle ek preek vir hulle. Want hulle is besig om die vol lewe te lei wat ek as vanselfsprekend aanvaar het.
Jou maat is dalk knorrig, moeilik, vol kritiek, selfs
siek en verswak, en jy wil soms vlug. Maar die ander kant van die munt is om soos ek al sewe jaar alleen te wees met geen begeerte om ’n nuwe maat te soek nie. Vriende word ál minder en jy wonder of jy die laaste sal wees.
Sondagaande voel dit asof daar iewers fout is, daar iets verkeerd is. En dan die besef: Ek het die hele naweek nog nie met iemand gepraat nie.
Daar is geen waarborg dat die lewe net vreugde bring nie. Al verskil is ons vermoë om perspektief in die hede te kan hê. CHRISTINA, GQEBERHA