Huisgenoot

EK IS OM DIE BOS GELEI

-

Ek sukkel met my selfbeeld en ly aan angs en depressie. Toe raak ek in ’n verhouding betrokke met ’n ander man (ek is ook ’n man), wat baie romanties was. Hy het my laat voel ek is waardig om liefde te ervaar en ek is die mooiste man op aarde. Ek het begin dink dat ek verlief is en ons sou saam intrek.

Toe begin hy met sy streke. Reis vir werk na ’n ander dorp, het nie ’n kaart by hom nie en vra ek moet geld oorbetaal. Later toe is die totaal van die bedrag waarmee ek hom heeltyd uithelp R35 000. Ek het redeneer ek help hom elke keer in ’n noodgeval uit.

Met ’n bietjie speurwerk vind ek toe met ’n skok uit hy is eintlik ’n sekswerker wat hom aan ander mans verkoop. Ek was net ’n sagte teiken wat hy vir geld uitgebuit het.

Ek voel so verneder en baie seergemaak. Dit voel of ek nooit weer iemand sal kan vertrou nie. My hele wese word oorheers deur ’n gevoel van woede, vuil, hartseer en teleurstel­ling.

Hoe kom ek oor dit?

Jy kom oor hierdie slegte ervaring een tree op ’n slag. Eerstens, baie mense trap in hierdie slaggat en word ingeloop deur geldgierig­e konkelaars. Hul modus operandi is juis om sagte mense te teiken wat die minste weerstand sal bied.

Hulle het verleiding en misleiding tot ’n fyn kuns verwerk en eintlik het jy nie ’n kans gehad daarteen nie.

Om na liefde en aanvaardin­g te smag is nooit verkeerd nie. Om die waarheid te sê, dit is ons elkeen se wens in ons lewe.

Die emosionele impak van hierdie ervaring op jou sny baie diep. Jy voel totaal hulpeloos en asof niks jou ooit weer beter sal laat voel nie.

Ander emosies sluit in angs, skaamte, skuld, woede, vrees, depressie, verlies van vertroue, verlies van ’n gevoel van sekuriteit, en hartseer.

Ek wil byvoeg enige verhouding is van die begin af gedoem as een van die betrokkene­s bagasie dra waaraan hulle nie werk nie.

Dus, om jou herstelpad te begin en jouself gereed te kry vir groter sukses, begin jouself met klein treetjies opbou. Stel vir jou grense wat bepaal wat jy van mense toelaat en wat nie, en hou dit ononderhan­delbaar.

Verwyder jou altyd uit negatiewe situasies deur weg te stap. Begin jou selfbeeld opbou deur aan aktiwiteit­e deel te neem wat jy geniet.

Gee aandag aan jou voorkoms – as jy goed lyk, dan voel jy goed. Omring jou met mense wat van jou hou. Hul steun is baie nodig in krisistye.

Baie belangrik, vergewe jouself vir wat gebeur het. Jy is nie dom nie; jy is menslik soos die res van ons.

Ek stel ook berading voor, nie net om jou hierdie ervaring te help verwerk nie; ook vir hulp met jou angs en depressie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa